
GEMEENTEBRIEF 31 JANUARIE - 6 FEBRUARIE 2026
GEMEENTEBRIEF 31 JANUARIE - 6 FEBRUARIE 2026
Gedagte Vir Die Week
Liewe gemeentevriend,
Onderweg
Die Nederlandse sanger, Stef Bos sing in een van sy bekende liedere: “Ik blijf altijd onderweg.” Die lewe is ‘n reis, ‘n pelgrimstog bestaande uit vele drumpels — oomblikke waar ons van een fase (seisoen) na ’n ander (seisoen) beweeg. Of soos Arnold van Gennep dit stel: “The life of an individual in any society is a series of passages from one age to another and from one occupation to another.” Soms stap ons met opgewondenheid oor hierdie drumpels. Soms met onsekerheid of selfs hartseer, want die lewe het growwe greine en ons seisoene verloop nie noodwendig soomloos nie. Lewensoorgange is nie altyd dramaties of duidelik afgebaken nie. Soms gebeur dit stilweg – ’n seisoen wat verbygaan, ’n verhouding wat verander, of ’n nuwe verantwoordelikheid wat ons moet dra. Somtyds is hierdie drumpels weer duidelik gedefinieer soos ’n eerste dag op skool, skoolverwisseling, adolessensie, die sluiting van ’n huwelik, aanvang van ouerskap, aftrede ensomeer.
Dit is nie aldag maklik om sin te maak van hierdie verskillende lewensdeurgange nie en ons kan soms die pad byster raak. Daarom dat dit nodig is om stil te staan by hierdie drumpels en rituele te vind wat ons kan help om betekenis daaraan te gee. Navorsing uit talle oorde sê vir ons een manier om sinvol met hierdie lewensoorgange om te gaan is om dit met “roetemerkers” te vier. Roetemerkers is meer as ’n simboliese handelinge – dit is ’n oomblik waarin ons erken dat die lewe aanhou beweeg (verander), dat ons voortdurend onderweg is, maar ook telkens moet stilhou, reflekteer en sinmaak. Cas Wepener verduidelik dat ‘n roetemerker funksioneer soos ‘n reling of ‘n brug, want dit is iets om aan vas te hou. Dit help om ons komplekse en dikwels verwarrende emosies te orden, identiteit te bevestig en ons belewenisse van oorgange te verdiep.

Coenie Burger wys daarop dat die rituele kant van geloof reeds eeue lank in baie Protestante kerke verwaarloos word. Daar word gou gepraat van leë rites en vormgodsdiens, en daarmee word amper alle rituele – soms selfs die sakramente – verdag gemaak. Tog besef gemeentes al hoe meer dat ons bedienings verarm wanneer ons verwag dat alles deur die prediking moet geskied. Woorde is baie belangrik, maar geloof word nie net deur woorde gevorm nie.
In Waterkloof gemeente vier ons hierdie Sondag die Nagmaal spesiaal saam met ons graad 1- en graad 8–lidmate. Die sakrament van die Nagmaal dien hierdie Sondag in die besonder as roetemerker wat nie net vir hierdie groep jongmense nie, maar vir ons gemeente as geheel, wéér bevestig dat ons die lewensreis nie alleen aandurf nie.
- Ds. Bernice en ds. Dewald. (Januarie 2026)
Erediens Inligting
SONDAG 1 FEBRUARIE 2026
09:00: Erediens met Nagmaal in kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Goeie Nuus vir ’n Gebroke Wêreld (2 Kor. 5:17-21).
Musiek: Bessie Keun
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Erediens met Nagmaal in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Tiener- en Verbintenisgroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
SONDAG 1 FEBRUARIE 2026 – ROETEMERKER - GR. 1 EN 8
Ons besef dat hierdie eerste paar weke ’n tyd van groot aanpassings vir ons graad 1- en graad 8- lidmate is. Ons as gemeente wil hierdie jong lidmate graag help om, wat vir hulle ’n drumpelervaring is, vorentoe as ’n roetemerker te onthou. Hierdie gebruik herinner ons daaraan dat God se genade vir klein, vir groot en in alle omstandighede is! Daarom nooi ons al ons graad 1- en graad 8–lidmate om Sondag, 1 Februarie aan die Nagmaaltafel te kom aansit.
Graad 1-lidmate tydens die erediens in die oggend, 09:00 en Graad 8-lidmate tydens die aanddiens 18:00.
Ons nooi dié jongmense se ouers om die Nagmaal saam met hulle by te woon. Ons sien uit om saam as gemeente Nagmaal te vier!
SONDAG 8 FEBRUARIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Tiener- en Verbintenisgroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep
Ons Gee Om

Ons stel altyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!
Veels Geluk!
Verjaarsdae op Sondag, 1 Februarie: Fanie Jacobs.
Verjaarsdae 80 en op: Ina van Schalkwyk op 31 Januarie, Fanie Jacobs op 1 Februarie, Bee du Plessis op 3 Februarie, Babs Lubbe en Martie Moolman op 4 Februarie.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 31 Januarie: Juandré Kemp, Ben Oosthuizen en Ina van Schalkwyk. 2 Februarie: Wilhelm Bekker, Angela Büchner, Hein Engelbrecht, Anke en Jana Kühn. 3 Februarie: Bee du Plessis en Anette Watson. 4 Februarie: David de Villiers, Marlene du Pisani, Babs Lubbe en Martie Moolman. 5 Februarie: Natasha van Niekerk. 6 Februarie: Franco Smit.
Ons Dink Aan
Danie, Jenny, David, Daniel en Zea de Villiers. Danie ervaar tans groot uitdagings met sy gesondheid en ons hou hulle gesin in ons gebede.
Almal wat geraak is deur die erge vloede in groot dele van Mpumalanga, Limpopo en Mosambiek. Volgens die Kerkbode, 21 Januarie 2026 het meer as 40 gesinne van ’n klein gemeenskap in Limpopo in kerkgeboue skuiling gesoek te midde van die swaar reën en oorstromings. Lees meer oor die omvang van die ramp en hoe jy betrokke kan raak. [Klik hier]
Almal wat geraak is deur die brande in die Kaap-gebied. Die Ring van Mosselbaai het ‘n rampfonds gestig. Indien u graag wil bydra, kan die volgende bankbesonderhede gebruik word:
Begunstigde: NGK Brandwacht
Bank: ABSA Mosselbaai
Rekening nommer: Tjekrekening: 207 058 0007
Verwysing: Noodfonds
BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Ons Is Saam Bly
... En nou is daar vier ...
Ds. Rykie (Howell) Marx wat vanaf 2015 tot 2019 as predikant in ons gemeente werksaam was, haar man, Dawie en seuntjie, klein David woon nou al ‘n geruime tyd in Highlands Ranch, Colorado, Amerika.
Hulle het op 26 Januarie ‘n dogtertjie, Catharine Elizabeth ryker geword. Baie geluk aan julle! Ons is saam met julle bly! Mag hierdie toevoeging tot julle gesin vir julle al drie ‘n wonderlike reis in die nuwe hoofstuk van julle lewens wees.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Sit in Mekaar se Stilte 194: ‘Lig in Lectio Divina’. (klik hier) Baie dankie, François!
Erediens: Huis Piek op 4 Februarie om 10:30.
Bybelstudie: Ons sien uit daarna om vanaf 11 Februarie 2026 weer rondom interessante onderwerpe saam te kuier.
Weeklikse oordenking: 'Stories wat heelmaak en stories wat seermaak (2).’ Dankie, ds. Pieter Oosthuizen. (klik hier)
Kinders, Jeug en Familie

DIENS ONDER DIE BOME VIR KLEIN ÉN GROOT VOETJIES
Die luidsprekers in ons gemeentetuin is spesifiek daar vir ouers met besige ‘jonger gemeentelede’ wat ’n bietjie meer vryheid benodig tydens ons oggenddienste. Hier kan ouers steeds die diens beleef, terwyl die jonger garde hulleself besig hou met inkleur en rondbeweeg!
KINDERVEILIGHEID OP DIE TERREIN
Ons nooi alle kinders graag uit om by die kinderbediening in te skakel waar hulle veilig onder toesig is. Indien kinders egter verkies om op die grasperk te speel, vra ons vriendelik dat ’n ouer hulle vergesel, aangesien ons nie toesighouers buite het nie. Dankie dat julle saam met ons help om ’n veilige omgewing vir al ons kinders te skep.
Ons doen ook graag 'n beroep op ouers om hulle kinders daaraan ter herinner dat hulle nooit die kerkterrein alleen moet verlaat tydens of na afloop van eredienste nie.
REGISTRASIE VIR KINDER- EN TIENERBEDIENING
OUERS, gebruik gerus die QR- kode of die skakel vir die registrasie. Sodra die QR en skakel oopmaak, kan julle die relevante keuse maak. TIENERS, julle kan julleself sommer registreer. Julle kan ook die relevante skakels hier onder gebruik om direk by die laerskool- of hoërskool registrasieblad uit te kom!
SKAKELS
Na die registrasieblad
Na die laerskoolregistrasie
Na die hoërskoolregistrasie
QR KODE:

Gemeente Geleenthede
STUDENTE-ONTBYT – 29 JANUARIE

Dit is tradisie hier in Waterkloof gemeente dat die leraars aan die begin van elke jaar graag ’n bietjie tyd met ons studente-gemeentelede deurbring. Dit is gewoonlik in die vorm van 'n ontbyt saam met die studente by Blue Crane restaurant voor die bedrywige akademiese jaar hulle “insluk”. Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Ds. Bernice, ds. Dewald en 'n paar studente het die “saamkuier-ontbyt” baie geniet!
GEMEENTE-"BRUNCH"
Ons jaarlikse ‘brunch’ was voorwaar ‘n feestelike geleentheid waar gemeente-vriende getrakteer is met allerlei lip-lekker disse – yogurt en vrugteslaaie, varsgebraaide wors, "baba" quiches, tannie Hannatjie se vars gebakte brode, konfyte, ensomeer.
Die atmosfeer was so gesellig en hartlik. Uitbundige gelag het telkens bo die geruis opgeklink! Vriende het in groepies rondgesit en -gestaan, terwyl hulle aan die lekkernye gesmul het.
‘n Besondere groot dankie aan Stephan en Karin Barac vir die uitmuntende organisasie, aan die wors-braaiers en almal wat gemoeid was met die voorbereiding. Jabu, Vincent en Nelly, soos altyd was julle ware staatmakers – baie dankie! Dit was weereens ‘n oggend vir die boeke!
VIDEOS: Heerlike gemeente-samesyn
Gemeente en Gemeenskapsnuus
WIT OLIFANT VERKOPING – 28 FEBRUARIE
Die Wit-olifant verkoping was verlede jaar nie net ’n groot sukses nie, maar dit was ook groot pret. Begeesterde gemeente-vriende het dae aaneen gepak, geprys en gewerskaf om die “winkel” tiptop te kry vir die verkoopdag.Ons maak staat op ’n geesdriftige “werkersgroepie” onder leiding van Brian en Rina Edwards om ons weereens met ’n topgehalte “winkel” te verras. Enige bruikbare, “voorheen-geliefde” en nou “verlate- maar nieverwaarloosde” items (boeke, ameublement, klere, huisware, ens.) sal te koop aangebied word. Soos die Engelse gesegde lui: “One man's trash is another man's treasure.”
Indien jy enige “voorheen-geliefde” items het waarvan jy graag wil afstand doen, kom laai dit gerus by die kerkkantoor af. Ons sien uit na besondere items wat die nuwe “eienaar” se oë sal laat blink van vreugde oor die fonds! Indien jy graag deel van die uitgelese werkersgroepie wil wees, skakel gerus die kerkkantoor (012 460 3913) of stuur ’n WhatsApp ( 083 442 9557)
Laaste aflaai-datum- Vrydag, 20 Februarie!
OUERS! DAGBOEK DIE DATUM!
Emma Sadleir, ‘n digitale regskenner met uitgebreide kennis oor gevare van selfone en sosiale media vir kinders en jongmense, gesels op 26 Februarie om 18:00 met alle belangstellendes in Anton van Wouw Laerskool se amfi. Kom woon gerus die insiggewende en uiters belangrike, relevante gesprek by.
Skakel gerus Anton van Wouw Laerskool vir meer inligting. (012 460 3024)
Ons Voetspore In Die Gemeenskap
VARS NUUS UIT DIE OEKRAìNE
Dit is vir ons as Waterkloof gemeente belangrik om op hoogte te bly van waarmee ons sendinggroep in Odessa op ’n daaglikse basis te kampe het. Daarom plaas ons relevante nuus, as en wanneer van toepassing. Stéfan skryf:
“Dear prayer supporters,
This week, Russia unleashed a terrifying barrage on Ukraine: over 1,700 strike drones, more than 1,380 guided aerial bombs (KABs), and 69 missiles of various types. This massive assault, targeting energy infrastructure and civilian areas, comes amid freezing winter conditions and ongoing peace talks.
We are still without power and many people are also still without water. In last night’s attack (27 January) three people were killed, 27 injured and 3 are still missing - likely stuck under the rubble.. Rescue operations continue. At least three residential buildings were hit and thousands of windows shot out by the shockwaves.”
Dik lê die sneeu!
Stéfan skryf dat hulle familie oor twee weke Rivne toe moet reis om hulle jaarlikse verblyfpermitte te hernu. Die weervoorspelling wys ’n skrikwekkende (minus) -31 grade vir wanneer hulle op 2 Februarie daar aankom. As dit regtig so koud gaan wees, gaan dit seker die koudste wees wat hulle familie nóg daar beleef het!
Betreffende die aanvalle in Odessa, vertel hy, dat ’n woonstelgebou getref is. Genadig is daar niemand in die blok dood nie, maar hy sê dat daar baie skade aan die gebou aangerig is en veral aan baie motors wat langs die gebou gestaan het. Die aanvalle op hulle krag-installasies sit al die inwoners nogal onder druk. Hulle gesin was na die aanval vir meer as 10 ure sonder krag en die dag daarna weer vir ’n paar ure. Dit, te midde van die ysige koue!
Ten slotte bevestig hy dat die bediening, ten spyte van alles, steeds aangaan. Ons dink voortdurend aan hulle en aan die prysenswaardige werk wat hulle daagliks onder uiters moeilike omstandighede passievol verrig.
HUIS PIEK BENODIG WOL VIR GROOT ‘GEBREIERY’
Die Pieksters wil graag mussies en truitjies vir Re Gae Kleuterskool brei. Hulle wil graag vroeg begin sodat alles betyds gereed kan wees vir die winter. Indien daar enige bruikbare wol in jou kaste is, waarvan jy graag ontslae sal wil raak, kan jy dit gerus by die kerkkantoor kom aflaai. ’n 'Piekster-hand' sal verseker dat die wol in ’n snoesige wintersmussie of truitjie omskep word.
Groenkloof Nuus
KONTEMPLATIEWE DIENS - 25 JANUARIE 2026
Die afgelope Sondag is die tweede kontemplatiewe diens in die Groenkloof kerk aangebied. In die woorde van ds. Francois Smit kan kontemplatiewe diens as volg beskryf word:
“Ons diens is anders as gewoon - Kontemplatiewe Diens. Dit beteken in wese om aandagtig en luisterend in God se teenwoordigheid te sit. Soms sal ons iets saam sê, saambid, saam sing, maar in wese is die pas stadiger en die onus is op elkeen om self verryk te word uit die ervaring...
En daarom moet ek leer om op Hom te fokus....en om dit te doen, moet ek stil raak.
Om stil te raak, moet ons leer om bewus te raak...wakker te wees, mindfulness...”
Ek (François Wessels) en ds. Francois Smit het verskeie elemente daarvan aangebied, ek die meditatiewe elemente en voorbidding en ds. Francois die res van die liturgie.
Hierdie is ook deel van wat binne die afsienbare toekoms gaan ontwikkel as ’n kontemplatiewe element in die Spirituele Sentrum wat op die kampus van die NGK Groenkloof gevestig gaan word.
Sinodenuus
NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil" [hier]
Gemeente Besonderhede
KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: bernice.serfontein@gmail.com
Ds. Dewald Roux * E-pos: dewaldroux2@gmail.com / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel

Maryke Meter * E-pos: ngwaterkloof@gmail.com
Hannatjie Venter * E-pos: ngkwater@yebo.co.za
Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482
