
GEMEENTEBRIEF 7-14 AUGUSTUS 2026
GEMEENTEBRIEF 7-14 AUGUSTUS 2026
Gedagte Vir Die Week

Liewe gemeentevriend,
Gedagte vir die Week: Vrouedag
Sondag vier ons Vrouedag. Dis 70 jaar nadat die vroue op 9 Augustus 1956 tot by die Uniegebou oor paswette gemarsjeer het.
Hoe vier 'n mens nou so 'n platinum-fees?
Ek vra dit vir twee middeljarige mans. 'n Mens sou skaars glo hulle het in dieselfde land grootgeword. Die wit man sê Vrouedag maak die mans net kwaad. En 'n vakansiedag moet mense saambind en nie verdeel nie. Dit moet weg.
Die swart man sê ons moet op Vrouedag alles vier wat vroue op daardie dag aan die rol gesit het. Vryheid. Gelykheid. Nuwe kanse vir verarmde en onderdrukte mense. En hy noem 'n hele paar name van politici vandag wat huiswerkers as ma's gehad het. Name waarvan die wit man nie noodwendig hou nie.
Om iets te vier is natuurlik 'n kuns. Hoe vier ons Vrouedag? Eerstens moet dit nie 'n kompetisie tussen mans en vroue afgee nie. Mans en vroue moet saam vier dat hulle menswees deel. En dit moet sommer ook lekker wees. Mense moet spontaan hul eie en ander se voormoeders vier, hul groot dade, maar ook die dinge wat vroue elke dag doen wat ongesiens verbygaan.

Dis 'n kans om te wys ons is dankbaar vir wat vroue op alle vlakke doen. En, komaan mans, dis nie nodig om daardeur bedreig te voel nie.
Wanneer 'n mens nou terugdink aan daardie dag 70 jaar gelede, is daar baie om te waardeer en te besing. Onder meer val die vroue se dissipline 'n mens op - 20 000 vroue het ordelik gemarsjeer - met 'n morele doel voor oë. Hulle wou nie mans vervang en die samelewing oorneem nie. Hulle wou onder die wêreld se aandag bring dat vroue hier nie vry is nie, en dat hulle families nie menswaardig deur die landswette behandel word nie.
So, ons kan nie Vrouedag agter ons kry met vlak komplimentjies vir vroue en 'n bossie blomme nie. Dis 'n dag waarop ons vroue se menswaardigheid en hul bydrae ernstig moet opneem. En dit verder as Vrouedag vat.
En daarvoor het ons 'n taal nodig om in te sê dat ons wedersyds vir mekaar verantwoordelikheid neem, mans en vroue. Ons het nie 'n taal nodig oor hoe om mag oor mekaar te hê nie.
En dis 'n dag waarop ons nie net moet konsentreer op die geweld tussen mans en vroue nie, maar ook op gesonde verhoudings - en hulle vier. Jy kan jou man bewonder sonder om jou eie menswaardigheid op te gee. Jy kan jou vader eer sonder om die patriargie te bevorder.
Mans en vroue het albei hul oorsprong in God, en albei dra God se beeld. Ons gebruik nie eintlik meer die woord "feminisme" nie. In die teologie praat ons van vroue-teologie. Maar daar bestaan al lankal 'n misverstand oor wat feminisme was. Feminisme wou nie vroue bo mans stel, en aan mans doen wat hulle geglo het mans aan hulle gedoen het nie. Inteendeel, feminisme strewe daarna dat elke vrou 'n keuse sal hê, en dat sy nie vasgevang sal word in wat 'n samelewing van haar verwag nie. Sy moet kan kies of sy net 'n ma wil wees of doelbewus 'n loopbaan wil navolg - of dalk albei wil probeer. En of sy kans sien vir 'n baba en 'n beroep. En hoeveel druk sy kan hanteer. Sy mag erken dat sy ook maar net 'n mens is.
Die beste manier om Vrouedag te vier is só dat niemand verkleineer of beskuldig voel nie. So, dat almal ingesluit en nie verdeel nie, voel.
-Christina Landman is professor in teologie verbonde aan Unisa. 5 Augustus, Netwerk24.
Erediens Inligting

DS. BERNICE IS MET VERLOF VAN 2 - 17 AUGUSTUS
SONDAG 9 AUGUSTUS
09:00 Erediens met Nagmaal in die kerkgebou o.l.v. dr. Willem Nicol. Die groter prent ...
Musiek: Betsie Schaap.
GEEN Kinderbediening a.g.v. die langnaweek ● Kuier en verversings op die stoep
GEEN Aanddiens a.g.v. die langnaweek.
SONDAG 16 AUGUSTUS
09:00 Erediens in kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.
Musiek: Betsie Schaap.
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep
18:00: Erediensin die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
Ons Gee Om

Ons stel altyd belang in al ons gemeentevriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus / prestasies wat julle graag met ons as gemeentevriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef.
Die vreugde en die hartseer kan deel!

Ons Dink Aan
Alicia Campher wie se moeder, Alida du Toit in Greentree aansterk.
Willie Oosthuizen wat Donderdag, 13 Augustus, ’n rugoperasie in Zuid-Afrikaanse Hospitaal ondergaan.
Marlene Slabbert wat Donderdag, 13 Augustus, 'n skoueroperasie ondergaan.
BELANGRIK
In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende verjaar. Baie geluk!

Verjaarsdae vir die week: Saterdag, 8 Augustus: David de Villiers, Adolph Janse van Rensburg, Edmund Pohl, Lukas Raath, Jasper Raats en Wiks Wilken. 10 Augustus: Chris Wessels.11 Augustus: Daleen Oosthuizen, André Roberts en Daniel Roode. 12 Augustus: John Callaghan, Johann Campher en Ilinza Maree. 13 Augustus: Marelise Boshoff, Liezel Harms, Delano Kemp, Wessel Oosthuizen, Petru Rheeder, Sanet Steenekamp en Helene van Zyl. 14 Augustus: Annelie Boshoff en Mariana Pera.
Spesiale gelukwensing!
Op 12 Augustus word dr. John Callaghan of te wel Oom John soos wat hy aan ons bekend is 100 jaar ‘jonk’.
Grepies, (vertaal in Afrikaans) uit Yolanda Lemmer se onderhoud in die Caxton Network News.
Suid-Afrika se oudste praktiserende spesialis,
dr. John Callaghan, berei voor vir sy 100ste verjaardag

Terwyl hy die merkwaardige mylpaal van 'n eeu nader, kyk die veteraan- oor-, neus- en keelchirurg terug op meer as 70 jaar van mediese deurbrake, toegewyde pasiëntesorg en 'n aktiewe lewe op 99-jarige ouderdom.
Dr. John Callaghan is in Lichtenburg in Noordwes gebore en sy familie se wortels strek terug na Cork in Ierland, waar die Callaghan-kasteel steeds in die familie se besit is. Met sy skerpsinnige verstand was sy beroepskeuse byna vanselfsprekend.
"Destyds was daar nie veel keuse nie. Dit was óf die Universiteit van Kaapstad óf Wits," vertel hy. Wits was die keuse.
Sy lewe strek oor byna 'n volle eeu – van sy universiteitsjare gedurende die Tweede Wêreldoorlog en die apartheidsera, tot die moderne tyd van tegnologie en kunsmatige intelligensie (KI).
Nadat hy hierdie ingrypende historiese tydperke beleef het, sê dr. Callaghan, nou net twee weke voor sy 100ste verjaardag en Suid-Afrika se oudste praktiserende mediese spesialis, dat hy elke era met ope arms verwelkom het.
In Februarie vanjaar het hy besluit om sy werkslading effens te verminder.
"Ek tree nie af nie," sê hy beslis. "Ek sien steeds my pasiënte, maar net soggens. Smiddae gaan ek gimnasium toe," voeg hy met 'n glimlag by. "Ja, ek ding met die jong manne in die spierbou-afdeling mee," skerts hy.
Hy besit nie 'n rekenaar nie. In plaas daarvan lê 'n papierlessenaarkalender steeds op sy lessenaar, terwyl 'n swaar staaltas uit Londen, wat uit die 1940's dateer, in die hoek staan – 'n nostalgiese bewaarplek waarin hy dekades lank sy mediese instrumente gebêre het.
Dr. Callaghan sluit die onderhoud af - dit is tyd vir sy gimnasiumsessie. Hy is 'n mens wat graag drukkies uitdeel – hy maak sy arms wyd oop en trek jou hartlik nader. Hy dra die kenmerkende geur van medisyne, maar ook dié van 'n lewe vol liefde, deernis en toewyding.
Van ons gemeente se kant af: Wat 'n ongelooflike voorreg om so ‘n formidabele mens in ons midde te hê. Baie geluk met die groot mylpaal, Oom John. Oom bly vir ons almal ‘n bron van inspirasie!
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk.
(Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Woensdag, 12 Augustus om 09:00 saam met ds. Dewald in die kinderkamer.
Erediens: Princess Christian op Dinsdag, 11 Augustus en Huis Piek op Woensdag, 5 Augustus om 10:30.
Sit in Mekaar se Stilte 218: Lectio Visio: Hy noem Haar Naam. Klik hier Dankie, François.
Weeklikse oordenking: Wat beteken dit om vandag werklik mens te wees? Om ’n geloof te leef wat verder reis as jyself. Klik hier DankiePieter.
Huisgeloof: Vrouedag.Klik hier
Kinders, Jeug en Familie

Ons kinders is vir ons kosbaar en soos ons weet is ‘grootword’ nie altyd maklik nie. Die artikel, geskryf met die hulp van Opvoedkundige Sielkundiges help ons om verder oor kinders se grootword en vorming te dink! (Waar daar in hierdie dokument van die manlike voornaamwoorde “hy”, “hom” en “sy” gebruik gemaak word, word daarmee ook die vroulike vorme “sy” en “haar” veronderstel.)
Elf belangrike waarhede wat terapeute wens elke kind kon oor en oor hoor:
Die idees wat kinders oor hulself vorm, bepaal hoe hulle die wêreld beleef. 'n Enkele opmerking kan jare lank bly eggo. Dis hoekom terapeute wens ouers herhaal sekere boodskappe oor en oor. Hier is 11 eenvoudige waarhede wat 'n blywende verskil kan maak.
Dit wat 'n kind oor homself glo, word die lens waardeur hy die wêreld bekyk. Dit gebeur oor tyd - deur honderde klein, alledaagse oomblikke: 'n ouma se sagte woorde, 'n onderwyser se reaksie, 'n ouer se geduld (of gebrek daaraan) ná 'n fout. Mettertyd vorm hierdie brokkies inligting iets blywends: 'n innerlike stem - die een wat praat wanneer niemand anders daar is nie. Daardie binnestem ontwikkel lank voordat 'n kind kan verduidelik hoe hy/sy voel.
"Emosies is 'n kind se eerste taal,"
volgens dr. Beatrix J. van Rensburg, kinder- en gesinsterapeut van Somerset-Wes.
'n Honger baba huil. 'n Kind wat oorweldig voel, gooi 'n vloermoer. Agter elke emosie sit 'n behoefte wat nie verwoord kan word nie.Wanneer daar gereeld met begrip op die emosies reageer word, leer 'n kind sy innerlike wêreld maak sin. Gebeur dit nie, begin hy sy eie gevoelens wantrou, sê sy.
Dus: Word ek aanvaar wanneer ek huil, kwaad of bang is?
Met verloop van tyd begin hierdie ervarings vassteek as oortuigings.
Wat ander sê - en hoe hulle reageer - begin soos die waarheid voel. Dis juis hoekom sekere boodskappe so belangrik is: eenvoudig, ja, maar kragtig genoeg om 'n kind se selfbeeld en veerkragtigheid oor jare te help vorm.

Hier is die 11 belangrike waarhede wat elke kind oor en oor moet hoor:
1. As jy dit naam kan gee, kan jy dit tem
Gee 'n emosie 'n naam en dis soos om 'n lig in 'n donker kamer aan te skakel. "Skielik sien jy wat aangaan," sê dr. Karen van Niekerk, voorligtingsielkundige van Pretoria. Hoe meer spesifiek die woord, hoe duideliker word die pad vorentoe. Ons sê byvoorbeeld maklik: “Ek's angstig”. Maar daardie woord kan baie dinge beteken.
Wanneer 'n kind leer om fyner te onderskei, raak die gevoel minder oorweldigend en meer hanteerbaar.
Oorweldig - daar is te veel om te doen, en ek weet nie waar om te begin nie. Ek kan 'n lys maak en een ding op 'n slag aanpak.
Hulpeloos - ek het nie die vermoë of kennis nie. Ek kan hulp vra.
Onseker - ek het nie genoeg inligting nie. Ek kan meer uitvind.
Moedeloos - ek sukkel. Ek kan 'n ander plan maak of net vasbyt.
2. Alle gevoelens is oukei - maar nie alle gedrag nie
Intense emosies dui gewoonlik op iets wat vir die kind belangrik is, sê dr. Van Niekerk. Help hom dus om die emosie naam te gee - en te probeer verstaan wat daaragter lê. Hy is kwaad, omdat hy nie die hokkiespan gehaal het nie en sê die afrigter sleg. Maar agter die woede lê iets anders: dalk die behoefte om te behoort. Die fokus kan nou skuif van sy woede na wat hy kan doen om nader aan sy doel te kom - soos om sy fiksheid en/of hokkievaardigheid te verbeter.
3. Wat ander van jou sê, definieer jou nie
'n Kind glo maklik wat hy hoor, veral as hy nog nie sterk menings van sy eie het nie. "Leer hom almal het die reg op hul eie standpunt. En om, in plaas daarvan om elke opmerking as waar te aanvaar, te vra: Maar wat dink ék? Ander mense se woorde sal hom dan minder ontstel," sê dr. Van Niekerk.
4. Luister na jou 'skouer-engel'
Ons praat soms speels van 'n engel en 'n duiwel op jou skouers. Die "skouer-engel" verteenwoordig jou gewete - daardie deel van jou wat die regte ding vir jouself en ander wil doen, volgens dr. Van Niekerk. Wanneer 'n kind leer om na die stem te luister, begin hy keuses maak wat in lyn met sy waardes is. Maar, voeg dr. Van Rensburg by, dis net moontlik as hy bewus is van wat hy voel. "As hy sy emosies naam kan gee, begin hy sy oordeel vertrou."
5. Dis dapper om hulp te vra
Ons prys dikwels onafhanklikheid. Kinders moet egter leer dis nie 'n swakheid om te sê "ek sukkel" nie, dit verg inderdaad moed. Soos dr. Van Niekerk dit stel: "Die sterkste mens is nie die een wat alles alleen doen nie, maar wat weet wanneer om hulp te vra." 'n Kind wat sukkel met skoolwerk het 'n keuse: stilbly en vasval, of hulp vra en vorentoe beweeg.
6. Nie almal hoef van jou te hou nie
Die behoefte om in te pas is sterk - veral soos kinders ouer word, sê dr. Van Rensburg. Die eenvoudige waarheid is egter: Jý hou nie van almal nie. Hoekom moet almal dus van jou hou? Dr. Van Niekerk verduidelik dit só: "Mense naby jou ken jou goed en hou van jou. Ander ken jou net oppervlakkig. En baie mense ken jou glad nie. lemand wat jou nie ken nie, kan nie regtig 'n betekenisvolle mening oor jou hê nie." Wanneer 'n kind dit verstaan, raak verwerping minder persoonlik.

7. Nie elke gedagte is waar nie
Gedagtes soos "ek kan dit nie doen nie" of "niemand hou van my nie”, voel dikwels soos harde feite. "Jou brein is egter 'n storieverteller," sê dr. Van Niekerk. "En nie al daardie stories is waar nie." 'n Kind moet leer om 'n tree terug te staan en sy gedagtes te bevraagteken: Waar is die bewyse? As jou kop sê jy kan dit nie doen nie, vra eerder. Het ek al probeer? Wil ek dit graag regkry? Wat kan ek doen om dit reg te kry?
8. Dit gaan waarskynlik nie gebeur nie
Angs leef in die toekoms: Wat as...? "Jou kop probeer jou beskerm deur moontlike gevare te voorspel”, volgens dr. Van Niekerk. "Maar soms gaan dit te ver en daardie stem begin bangmaakstories opmaak." Dit waarsku: Wat as alles verkeerd loop? Maar vergeet om te vra: Wat as dit reg loop? 'n Klein skuif, terug na die hede, of selfs na wat moontlik goed kan verloop, maak dit makliker om weer helder te dink.
9. Foute maak jou nie sleg nie
Wanneer jy glo 'n fout sê iets oor jou waarde as mens, wil jy liewer risiko's vermy. Maar as jy leer foute is deel van groei, kry jy die moed om weer te probeer. "Veerkragtigheid ontwikkel wanneer 'n kind deur frustrasie werk en nie opgee nie,” sê dr. Van Rensburg. "In 'n kits-samelewing waar alles vinnig gebeur, is dit 'n vaardigheid wat doelbewus gekweek moet word."
10. Jou liggaam behoort aan jou
'n Kind moet weet hy kan self oor sy liggaam besluit. Selfs as dit by klein dinge kom: Wil hy 'n drukkie hê of eerder die vatvyf gee? "Dit leer vir hom iets belangriks: Hy kan grense stel. Selfs met volwassenes. Selfs met familie," sê dr. Van Niekerk. Ja, dis belangrik om na grootmense te luister, maar hulle is nie altyd reg nie. As iets hom ongemaklik laat voel, is dit oukei om nee te sê. Jou waarde lê nie in wat jy doen nie.
11. Jou waarde lê nie in wat jy doen nie
Miskien is die belangrikste waarheid van almal: Jou waarde as mens word nie deur prestasie bepaal nie. Dr. Van Niekerk sê kinders moet leer onderskei tussen wat jy doen (prestasie) en wie jy is (karakter). Prestasie gaan oor dinge soos uitblink in sport, skoolwerk of musiek. Karakter oor eienskappe soos om liefdevol, behulpsaam en 'n vasbyter te wees. Karakter is die stewiger fondasie. Bou eers aan 'n kind se karakter en prestasie volg, volgens haar.
"Wanneer hy egter moet presteer om goed oor homself te voel, raak dit uitputtend -want daardie gevoel hou nie lank nie."
-Lydia van der Merwe. Uit: SARIE, 5 Augustus 2026.
Gemeente Geleenthede

DONDERDAG-BURGERS 20 AUGUSTUS

VROLIKE VRYDAG MET MUSIEK - 21 AUGUSTUS
Ons lekker-kuier musiekaand is om die draai! Ons eie, begaafde ‘in-huis’ musikant, Johan du Preez en oud-koshuis-vrinne (ook bekend as die Klubhuis Band ) het ons al op vorige Vrolike Vrydae vermaak tot laataand toe! 🎉
Hulle oefen reeds hard aan hulle repertoire! Die wat dit al bygewoon het, weet dat ‘n mens dit nie mag en wil misloop nie. Dit is tradisioneel die voorloper vir ons Gemeentefees / Kermis. So slyp solank julle tande en trek die dansskoene vir die geleentheid aan.

GEMEENTEFEES / KERMIS - 29 AUGUSTUS
Augustusmaand is BESIG by Waterkloofkerk - dis ‘n baie lekker ‘besig’ vir groot en klein. Ons Gemeentefees is dié funksie van die jaar waarna almal uitsien en met die Vrolike Vrydag-musiekaand wat ons reeds die litte laat losmaak het, is ons reg vir die heerlike saamkuier! Soos altyd by ons funksie MOET daar pannekoek, ‘n volgelaaide DELI, koeke, poedings, ‘n wyntafel, ens. wees. Hierdie jaar daag ons gesoute helpers, jonger groepe, ons nuwe intrekkers, ja sommer almal uit om ‘n handjie te kom bysit, sodat ons van die jaar se fees ‘n reuse sukses kan maak!


Skakel gerus die kerkkantoor (012 460 3913) of WhatsApp (083 442 9557), indien jy wil deelneem. Hoe meer siele, hoe meer vreugde!
GEMEENTEKAMP (9-11 OKTOBER)
Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba
Voetspore

LESEDIKOOR
Die Lesedikoorlede het volgens oorlewering ’n ongelooflike belewenis gehad. Bo en behalwe die feit dat hulle ’n waardige derde plek verower het, is hulle ook met ’n goue status beloon. Hulle het die Kaap ‘hollands’ gekuier en gespeel en die geleentheid gehad om die see te sien, te ruik en te beleef! Wat ’n wonderlike ervaring.
Baie dankie aan almal wat so ruimhartig bygedra het om die droom te bewaarheid. Ons wens die koorspan sukses toe op die pad vorentoe!

PEN - WINTERHOOP
GEE HOOP / GEE WARMTE

Baie dankie aan almal wat die Winterhoop-trollie tot dusver so ruimskoots “gevoer” het. Dit het reeds die nood van vele behoeftiges verlig!
Die koue kloue van die Winter gryp nou met mening vas. Daarom neem ons die vrymoedigheid om die WinterHoop-trollie by die ingang van die kerk “geparkeer” te hou vir ingeval daar nog donasies is.
WinterHoop is ’n gemeenskapsuitreik-inisiatief wat daarop gemik is om kwesbare en hawelose mense gedurende die wintermaande te ondersteun. Deur middel van hierdie veldtog word noodsaaklike winterbenodigdhede soos komberse, slaapsakke, warm klere, kospakkies en higiënepakkies ingesamel en versprei. Daar word ook bewusmaking rondom haweloosheid geskep, en waar moontlik word mense in nood met gespesialiseerde ondersteuningsdienste verbind.
Die inisiatief bring kerke, besighede, skole en gemeenskapslede saam om ’n betekenisvolle verskil te maak in die lewens van mense wat gedurende die koue wintermaande swaarkry.
Indien u graag wil bydra, kan u enige van die genoemde items in die WinterHoop-trollie plaas. Elke kombers, elke kledingstuk en elke kospakkie bring nie net fisiese warmte nie, maar ook hoop en menswaardigheid aan iemand wat dit broodnodig het.
Items benodig. (Klik hier)
Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil".Klik hier
Groenkloofnuus

Hiermee die skakel na die Groenkloof se maandelikse nuusbrief. Klik hier
Gemeente Besonderhede

KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected] / Sel: 083 417 5133
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel

Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster: 064 700 7004
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK
Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482

