NGK Waterkloof

GEMEENTEBRIEF 4-11 SEPTEMBER 20

September 04, 2026•17 min read
Custom HTML/CSS/JAVASCRIPT

GEMEENTEBRIEF 4-11 SEPTEMBER 2026

Gedagte Vir Die Week

GEDAGTE

Liewe gemeentevriend,

Die Stilte Waarin God Nie Vasgevang Kan Word Nie.

1 Konings 19 vertel die verhaal van Elia wat moet vlug voor Isebel, die koningin van Israel, wat hom graag wil doodmaak. In vers 9 kom hy by ʼn grot aan op berg Horeb en word met ʼn eenvoudige vraag deur God gekonfronteer: Wat maak jy hier? Elia se antwoord is effens oordrewe en beulblaserig: Hy alleen is oor van al die profete en “hulle” soek sy bloed. God sê vir Elia om by die grot uit te gaan en te wag dat Hy verbygaan. Dan volg een van die bekendste gebeure in die Bybel. Daar is ʼn wind, ʼn aardbewing en ʼn vuur, maar in dié goed is God nie. Uiteindelik is daar ’n eienaardige stilte; die Hebreeus praat letterlik van “die geluid van ʼn sagte stilte”. Wanneer dit gebeur weet Elia dat dit ʼn heilige oomblik is en bedek hy sy gesig met sy mantel.

Ons almal het al preke en oordenkings oor die teks gehoor wat aanvoer hoekom stilte belangrik is as ons God se stem wil hoor. Hoewel daar geen twyfel is dat stilte inderdaad belangrik is nie, is dit heel waarskynlik nie wat die teks wil sê nie.

BYBEL500

Om te verstaan wat die teks wil sê, moet ʼn mens terugblaai na die vorige hoofstuk. Daar konfronteer Elia die Baälprofete op die berg Karmel. Die vraag daar is: Wie is die ware God? Op Karmel word ʼn altaar gebou en Baäl daag nie op om die brandoffer met vuur te verteer nie, al doen die Baälprofete hulle allerbeste. Uiteindelik is dit die God van Israel wat vuur vanuit die hemel stuur om die brandoffer te verteer. So, wie is die ware God? Dit is die een wat met vuur kom om die brandoffer te verteer. Die probleem met hierdie verhaal is dat dit ʼn mens laat wonder: Is dit al wat ons verwag van ʼn God? Om vuur uit te hemel te stuur? Is dit hoe God homself aan ons bekend maak?

1 Konings 19 wil juis hierdie misverstand uit die weg ruim. Hier daag God op in stilte, maar dit is nie noodwendig ʼn resep vir die toekoms nie. Op ander plekke verskyn hy in aardbewings (Eks 19:18), soms in wind (Eks 14:21), of soms in vuur soos op Karmel en Sinai (Eks 19:18), maar hierdie keer kommunikeer hy deur die stilte. God is nie net ʼn God wat in vuur of in stilte opdaag nie. Hy maak homself aan ons bekend op die manier wat hy dink die effektiefste gaan wees.

God laat hom nie vasvang nie. God is ook nie voorspelbaar nie.

-Sias Meyer. 1 September 2026, Kerkbode.

Prof. Sias Meyer doseer Ou Testment aan die Universiteit van Pretoria.

Erediens Inligting

EREDIENS

SONDAG 6 SEPTEMBER 2026

09:00 Erediens met Nagmaal in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Drome vir ’n nuwe wêreld. Tydens die erediens word die doop aan Roland Hermanus, seuntjie van Jan en Jeanine Oelofse bedien.

Roland 300

Musiek: Friena Maritz

Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.

18:00: Erediens met Nagmaal in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Hoekom spesifiek die kruis? Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.

SONDAG 13 SEPTEMBER 2026

09:00 Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.

Musiek: Friena Maritz

Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.

18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.

GEMEENTEKAMP

BESPREEK jou/julle verblyf so gou moontlik.

Daar is ’n voëltjie aan die fluit dat slaapplek min raak.

Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

gEMEENTEKAMP400

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba

Ons Gee Om

Ons gee om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

gee om 500

Ons Dink Aan

Louise Prinsen wie se ma,Rina Boshoff, gesondheidsuitdagings beleef.

Jakkie Prinsloo met die afsterwe van haar suster, Ansie Dunstan, op 25 Augustus na ‘n moedige stryd teen kanker. Die gedenkdiens het Dinsdag, 1 September vanuit die Ooskerk plaasgevind.

Alicia Campher wie se moeder, Alida du Toit, tans nog gesondheidsuitdagings beleef.

Pieter du Toit wie se moeder, Theresa du Toit, ’n maand gelede ’n ernstige beroerte gehad het. Sy is oorgeplaas na Oostvallei se spesiale sorgeenheid.

BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.

Gemeentevriende verjaar! Veels Geluk!

Verjaarsdae Sondag, 6 September: Madie Farré, Liesl Odendaal en Willem Odendaal.

koek220

Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 5 September: Jan Kriek en Mia Monni. 7 September: Simon Brütten, Chrisjan Nel en Hannes Pretorius.8 September: Susan Grobbelaar. 9 September: Adriaan Minnaar, Helinde Oosthuizen en Lukas Steenekamp. 10 September: Koos Engelbrecht, David Uys en Cornel Watson. 11 September: Therese Kok, Christine Naudé, Anita Nel en Betsie van der Merwe.

Ek is Nuut

Ek is nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

welkom500

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)

Voed Jou Gemoed

Voed jou gEMOED

Bybelstudie: Woensdag, 9 September om 09:00 saam met ds. Bernice in die kinderkamer.

Erediens: Princess Christian Dinsdag, 8 September om 10:30 en Huis Piek Woensdag, 9 September om 10:30.

Sit in Mekaar se Stilte 222: Lectio Visio 5: Raak aan die Wond. Dankie, François. (Klik hier)

Weeklikse oordenking: Om bereid te wees om te luister wanneer die waarheid jou ongemaklik maak. Dankie, Pieter. (Klik hier)

Huisgeloof: 6 September. Lente. (Klik hier)

Gemeente Geleenthede

gemeentegeleenthede

GEMEENTEFEES / KERMIS - 29 AUGUSTUS

Baie dankie aan elke persoon wat op enige manier bygedra het om die Gemeentefees vanjaar so ’n besondere sukses te maak. Dit is juis die saamstaan, saamwerk, saamkuier en saamgee wat ’n gemeente ’n gemeenskap maak.

kermis potloodskets350

My lam, die Gemeentekermis was ’n FEES! Die terrein is oornag in ’n vrolike feesterrein omskep, met sambrele en kleurvolle vlaggies wat vrolik tussen die bome gewapper het. Oral was daar die gekuier, gelag en vrolike gewoel van gemeentevriende en besoekers.

Die sewe SPITBRAAI-SPANNE het sommer vroeg reeds hul vernuf as meesterkokke begin demonstreer. Die onmiskenbare geur van skaap wat stadig oor die kole braai, het die lug gevul – en natuurlik menige maag laat begin grom!

Spitbraaiers 1 550

Spitbraaiers 2 550

spitbraaiers 3 550

Nie ver daarvandaan nie het die BOEREWORSTALLETJIE behoorlik gegons. Ds. Francois en die Groenkloofspan het boereworsrolle letterlik laat “uitrol”, terwyl die geur van wors op die kole almal nader gelok het. Dit was mos die ideale manier om ’n dag mee te begin: ’n pannekoek of boereworsrol in die een hand en ’n vars koppie boeretroos in die ander!

Groenkloof 580

Binne-in die saal het ’n lang tafel die tuiste geword van ’n goed geoliede PANNEKOEK-span “bakkers”, “rollers” en “pakkers”. Al kletsend en laggend het hulle die “wiele” perfek laat loop, en een pannekoek ná die ander het skaars die tafel bereik voordat dit opgeëis is!

Pannekoek 550

Die KONTREI-DELI was eenvoudig ’n ONGELOOFLIKE GESIG! Van heerlike melkterte en allerhande kinderbederfies tot outydse gemmerbier, spinakopitas, klein poedings, kolwyntjies en die allermooiste blomme – daar was sonder twyfel iets vir ieder en elk. Dit was een van daardie tafels waar ’n mens eintlik net wou staan en kyk … en toe natuurlik ook koop!

DELI 450

Elke jaar dink ’n mens die WYNTAFEL kan onmoontlik beter word – en tog het hulle ons vanjaar weereens verras. Die elegante uitstalling was propvol uitsonderlike wyne uit ’n verskeidenheid kelders. Dit was ’n fees vir die oog én die wynliefhebber!

Die “WATERGAT”, beman deur ’n verskeidenheid Johan(ne), was, soos altyd, ’n gesogte saamkuier punt. Daar is gesels, gelag en behoorlik verfris. (Dit bly tog eienaardig dat ’n fees ’n mens so dors kan maak!)

watergat 550

Intussen het die kinders ook behoorlik gemeentefees gehou. Tussen CJ die nar, die gesigverf-hoekie, grasperk speletjies, springkastele, boeresport, die koeldrank- en roomys stalletjie en al die ander pret, was daar vir hulle geen tekort aan vermaak nie. Met geverfde gesiggies, groot glimlagte en tonne energie het hulle die fees gees ten volle ingekleur.

kIDS 550

Middagete was ’n feesmaal! Spitgebraaide skaapvleis, aartappeltjies van onder uit die spit, Griekse slaaie en vars rolletjies het ’n tafel vol koningskos gevorm. Gemeentevriende het oral in groepies saamgeëet, gekuier en die geleentheid geniet. Dit was een van daardie besonderse oomblikke waar jy weer besef hoe lekker dit is om deel van ’n gemeente te wees.

kuier saam 550

kuier saam2 550

’n Kompetisie benodig ’n wenner! Ons drie bekwame beoordelaars – Tokkie van Zyl, Anne-Marie Fourie en Annelie Boshoff – het voor ’n allesbehalwe maklike taak gestaan. Met sewe spanne wat elkeen hul beste probeer lewer het, was daar baie om te proe, te beoordeel en oor te beraadslaag.

Beoordelaars 400
Ons beoordelaars!

Uiteindelik is FC du Toit en spanmaat Marius Joone, die “Griekse Boertjies”, ná deeglike beraadslaging as die wenners van die spitbraai-kompetisie aangewys.

Spitwenners 400
Die spitbraai-wenners!

Kort op hul hakke, in die tweede plek, was Hennie en Wouter de Vos – terwyl die Lammetjie Uitnek-“bende” – Johan le Roux, Danie Saayman en Hendrik Hugo – ’n welverdiende derde plek behaal het. Baie geluk aan dié drie spanne! En ’n baie groot dankie aan al die spitbraaiers vir julle uitmuntende geesdrif, moeite en sportmanskap. Julle is almal wenners!

En toe breek een van die ander groot hoogtepunte van die dag aan – die VEILING!

Met ’n klomp interessante items, entoesiastiese bieërs en natuurlik ’n paar baie gewillige kopers, het die veiling behoorlik lewe gekry.

Mardolene 500

Die eintlike wenner was egter die gemeente. Elke item wat geskenk is, elke bod wat gemaak is en elke bydrae wat gelewer is, het gehelp om van die dag ’n sukses te maak. ’n Reuse DANKIE aan almal wat items geskenk het, gehelp het met die voorbereiding en reëlings, en natuurlik aan almal wat met soveel entoesiasme gebie het.

Elma Gillies 450

Só het die Gemeentefees, ná ’n dag van heerlike kos, lekker kuier, vrolike musiek (met dank aan Kerkraadslid Salome van Diemen se seun, Le Roux van Diemen en sy ‘band’), kinders se gelag, ’n bietjie kompetisie en baie gemeenskaplike gees, stadig tot ’n einde gekom. Vol mae, dors kele, moeë bene – maar baie, baie breë glimlagte!

Johan Louw 450

My lam, wat ’n fees! Wat ’n dag! Wat ’n gemeente!

LENTEDIENS - 20 SEPTEMBER

Op Sondagoggend, 20 September wy ons Lente op ons gebruiklike wyse in. Ons loof die Here vir God se natuur in die natuur. Stoele word uitgepak op die grasperk en onder die bome. Bring gerus ’n piekniek-kombersie saam vir gemaklike ‘sit’ op die grasperk, vir die kinders en dié wat so dit verkies. Almal is welkom!

LENTEDIENS350

Ons vier Lente gewoonlik die Sondag naaste aan die dag-en-nag ewening (‘equinox') in September. Hierdie jaar val die 'equinox' op Woensdag, 23 September, 2:05 vm., (amptelik die begin van Lente in Suid-Afrika) wanneer die son loodreg op die ewenaar skyn, die dag- en naglengtes dieselfde is, die son reg in die Ooste opkom en reg in die Weste ondergaan.

Gemeente en Gemeenskapsnuus

GEMEENTE EN GEMEENSKAP

KENNISGEWING VAN EENWORDING

Die tyd vir eenwording het uiteindelik aangebreek en ons is van harte opgewonde oor die nuwe seisoen wat vir ons 2 “Klowe Gemeentes” voorlê. Gesprekke om noue-samewerking en uiteindelike eenwording word al vir meer as 12 jaar tussen die NG Gemeentes Waterkloof en Groenkloof gevoer. Op die vooraand van eenwording is ons dankbaar dat die Here ons so vêr gebring het. Diep bewus van ons eie weerloosheid en afhanklikheid bevind ons onsself vandag in die môre waaroor ons gister nog bekommerd was.

Die Kerkrade van die Nederduits Gereformeerde Gemeentes Waterkloof en Groenkloof kom aan die hand van die Kerkorde 2023 asook Kerkorde en Aanvullende Bepalings, NG Kerk Noordelike Sinode, 2025 soos volg ooreen: (Hier volg enkele uitreksels uit die eenwordings-ooreenkoms)

1.1 Die twee Kerkrade besluit om in ooreenstemming met die kerkordelike bepalings soos vervat in Punt 3 (Eenwording van gemeentes) van die REGLEMENT VIR DIE VERMEERDERING, KOMBINERING, EENWORDING EN SAMESMELTING VAN GEMEENTES (Kerkorde en Aanvullende bepalings 2025) die NG Gemeente Groenkloof by die NG Gemeente Waterkloof in te lyf.

1.2 Die Nederduits Gereformeerde Gemeente Groenkloof het tydens sy vergadering op 3 Mei 2026 besluit om te ontbind en een te word met NG Gemeente Waterkloof. Die datum van eenwording is op die vergadering van 2 Augustus 2026 so vasgemaak as 25 Oktober om 00h00.

1.3 Die Nederduits Gereformeerde Gemeente Waterkloof het op haar Kerkraadsvergadering van 14 April 2026 besluit om in te stem dat NG Gemeente Groenkloof se lidmate en werksaamhede (alle bediening en pastoraat) by (Waterkloof) ingelyf word op 25 Oktober 2026 om 00h00. Groenkloof gemeente as regspersoon sal voortbestaan tot 28 Februarie 2027 om alle sake wat verband hou met die ontbinding van Groenkloof-gemeente deur te voer.

Die gemeente sal genoem word Nederduits Gereformeerde Gemeente Waterkloof.

Wat bediening betref: (Hier volg enkele uitreksels uit die eenwordings-ooreenkoms)

6.1 Alle aspekte van die bediening, insluitende die pastorale versorging, strategiese beplanning, administrasie, fasiliteite-, finansiële- en personeelbestuur, word vanaf inwerkingtreding van hierdie kontrak deur Waterkloof se kerkraad behartig.

6.2 Op Hervormingsondag, 25 Oktober 2026, vier die gemeentes hulle eenwording op ʼn gepaste manier en vind die eerste erediens in Waterkloof se kerkgebou om 09:00 plaas.

6.3 Eredienste, gemeentelike bediening en -aksies.

6.3.1 Vanaf Hervormingsondag, 25 Oktober 2026 hou die gemeentes op Sondae saam een tradisionele erediens in Waterkloof se kerkgebou om 09:00.

6.3.2 Vanaf dieselfde datum sal Groenkloof se kerkgebou op Sondae toepaslik gebruik word soos die Waterkloof-kerkraad besluit, bv. vir aanddienste en kontemplatiewe dienste ens.

Approbasie Kennisgewing

Gemeentelede word versoek om enige beswaar teen die voorgestelde eenwording skriftelik bekend te maak voor Sondag 20 September 2026. ‘n Kopie van die volledige konsep eenwordings-ooreenkoms is beskikbaar in die kerkkantoor. Maak gerus ‘n afspraak met die kerkkantoor, indien u graag die ooreenkoms wil lees.

Vir enige verdere navrae, skakel gerus vir Maarten van Hoven (Voorsitter van die eenwordingskomitee) of enige van die Leraars.

Kontakbesonderhede: [email protected] / WhatsApp / skakel: 083 412 7885

HUIS PIEK

Huis Piek se eie PIEKFYN Lente Nuusbrief uit die pen van twee bekwame PIEK dames, Hester von Willigh en Julia Currie verskaf heerlike leesgenot. Gebruik gerus die skakel om meer oor die heerlike woonplek te lees.(Klik hier)

Ons Voetspore In Die Gemeenskap

Voetspore

PEAS IN A POD

Saam met Louise Prinsen het die Peas in a Pod meisies geleer hoe om armbandjies met krale te maak. Die beginsel hier is dat hulle geleer word om te beplan en dan iets pragtigs en betekenisvol te maak. Deel van die aktiwiteit is ook om na andere om te sien as hulle agterkom iemand sukkel. So het hulle, al helpende (waar nodig) die mooiste armbandjiesgemaak waarop hulle geweldig trots is. Gedurende die loop van die jaar het die dogters, onder leiding van Louise soveel vaardighede aangeleer en klaarblyklik is daar nog `n hele paar dinge wat sy gedurende die res van die jaar vir hulle gaan leer. Louise, nogmaals dankie! Jy is vir hulle ‘n ware mentor!

Peas armbandePeas armbande 0nder 500

Verjaarsdagbederfies vir die meisies...

Deur die loop van die jaar kon ons sovêr elke meisie in die PEAS-huis se verjaarsdag spesiaal maak en die hartjie warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ’n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur.

Baie dankie aan elkeen wat tot op datum ’n meisiehart warm laat klop het! Ons waardeer julle moeite en betrokkenheid opreg. In die groter prentjie is dit dalk vir ons net ’n druppel in die emmer, maar die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig vertel ’n heel ander verhaal. Dít is iets wat geen geld ter wêreld kan koop nie!

Ons een SEPTEMBER-meisie benodig nog ’n weldoener. Anlia van Tonder word op 19 September 12 jaar oud. Indien jy graag een van dié meisies op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye wil bederf, skakel gerus ds. Bernice, ds. Dewald of die kantoor.

RE GAE KLEUTERSKOOL

Waarom raak ’n gemeente betrokke by ’n kleuterskool in Pretoria-Wes? Omdat ’n Triniteitsteologie ons herinner dat die skepping ten diepste verhoudingsmatig is: ons bestaan nie los van mekaar nie, maar word voortdurend geroep tot verbondenheid, wederkerigheid en sorg. Daarom verstaan NG Kerk Waterkloof ook haar roeping nie bloot as dit wat binne die gemeentegrense gebeur nie, maar as ’n teenwoordigheid tussen en saam met gemeenskappe waar ons kanale van hoop, ontwikkeling en menswaardigheid kan wees. Re Gae, ’n kleuterskool wat ’n sleutelrol in vroeë kinderontwikkeling in die Melusi-gedeelte van Pretoria-Wes speel, is reeds vir bykans twee dekades deel van hierdie verhaal.

kids 400

Ons betrokkenheid by Re Gae strek veel verder as die beperkte bydrae van kruideniersware wat ons maak. Oor tyd het ons ook direk by die persoonlike ontwikkeling van die personeel betrokke geraak en, deur die befondsing van opleiding via Thusa, in hulle professionele groei belê. In Maart vanjaar het drie van die onderwyseresse tydens ’n sertifikaatplegtigheid hul Vlak 3–5-kwalifikasies ontvang. Tydens ’n besoek vandeesweek was dit besonder bemoedigend om te sien hoe hierdie opleiding in praktyk vrug dra: die onderwyseresse kan nou selfstandig kinders se vaardighede en ontwikkeling assesseer, gerigte remediëringsprogramme ontwikkel en vordering monitor. Kommunikasie met ouers het merkbaar verbeter, en vennootskappe tussen die skool en ouers word steeds sterker.

Miskien was die betekenisvolste oomblik van die besoek egter nie iets wat in ’n opleidingshandleiding gemeet kan word nie. Die onderwyseresse het met vrymoedigheid uitdagings en probleme op die tafel geplaas en saam met ons daaroor begin dink. Só iets gebeur net waar vertroue oor tyd gegroei het. Dit herinner ons dat roeping nie bloot gaan oor wat ons vir ander doen nie, maar oor die verhoudings wat ontstaan wanneer ons lank genoeg teenwoordig bly om mekaar werklik te leer ken. Ons sien met dankbaarheid uit daarna om steeds saam met Re Gae en haar gemeenskap te stap — om te ondersteun waar ons kan, om te leer waar ons moet, en om saam getuies te wees van wat moontlik word wanneer mense in verhouding met mekaar groei. Dankie, François (Wessels).

ADVOCATES THAT CARE

Hierdie organisasie (’n groep advokate) samel al die nodige items vir matrikulante, wat nie ’n uitrusting vir hulle matriekafskeid kan bekostig nie, in.

Matriek advocates450

Groenkloofnuus

Groenkloofnuus

Groenkloof-gemeente verjaar!

Sondag, 6 September 2026, is ons al ‘n mooi 73 jaar en deur al hierdie jare het die Here die gemeente geseën op talryke en oorvloedige wyse. Ons gaan dit Sondag na die erediens vier met gesellig kuier en ‘n lekkernytjie. Dan kan ons al begin met herinneringe deel van mooi tye, opwindende tye en hartseer tye. Ons gaan ook opgewonde wees oor ’n nuwe toekoms. Dis mos maar wat gebeur met mense.

Hoekom “al begin met herinneringe”? Dit sal Groenkloof se laaste verjaardag wees, want 25 Oktober 2026 is geoormerk om die amptelike eenwording te laat realiseer met die eerste gesamentlike erediens van die eengeworde gemeente. Eerskomende Sondag sal daarom ‘n besondere mylpaal en aangeleentheid wees vir Groenkloof om êrens in die anale op te teken.

Dit sal heerlik wees om ook die Waterklowers daar te kan hê as julle dit kan bybring.

Groen-groete!

Sinodenuus

SINODE

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE

Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die Verskil (Klik hier)

Gemeente Besonderhede

Gemeentebesonderhede

KONTAKBESONDERHEDE

Leraars

Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]

Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817

Kantoorpersoneel

Maryke Meter * E-pos: [email protected]

Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]

Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)

Kontak Ons

Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557

BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang

Landlyn: 012 460 3913

Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.

(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)

Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075

Bankbesonderhede: NG Kerk Waterkloof

ABSA

Rekeningnommer: 1500580077

Verwysing: Voorletter, Van, Geleentheid

GPS – KOöRDINATE:

Lat. -25º 46 31.95

Decimal: -25.775542211330446

Long. 28º 13 55.45

Decimal: 28.232068419456482

kaart 800

Back to Blog