
GEMEENTEBRIEF 26 JUNIE - 17 JULIE 2026
GEMEENTEBRIEF 26 JUNIE - 17 JULIE 2026


Liewe gemeentevriend,
Dié Gemeentebrief strekvan 26 Junie tot 17 Julie
Gedagte vir die Week:
Vreemdelinge en vlugtelinge: wat vra die Here nou van ons?
Ons deel die oortuiging dat geweld, ontmensliking en haat geen plek in die lewe van Christene het nie, skryf Nioma Venter namens die Taakspan Ekumene van die Algemene Sinode.
Die afgelope weke het verskeie ekumeniese liggame hulle stem laat hoor oor die

groeiende spanning, dreigende geweld en vyandigheid teenoor ongedokumenteerde burgers van ander lande in Suid-Afrika. Kerkleiers het ook op 17 Junie die Presidensie oor die aangeleentheid besoek. Die boodskap in elkeen van die ekumeniese verklarings en die appèl op die regering is min of meer dieselfde, maar wat is die unieke stem van die NG Kerk hierin?
Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) het in ’n pastorale brief erken dat baie Suid-Afrikaners se frustrasies oor werkloosheid, korrupsie, swak dienslewering en ekonomiese onsekerheid nie geïgnoreer kan word nie. Die teenwoordigheid van ongedokumenteerde persone in die land kan egter nie as die sondebok vir al hierdie realiteite uitgemaak word nie. Staatsinstellings wat oor tyd verantwoordelik was vir swak dienslewering en korrupsie, behoort verantwoordelikheid te aanvaar en onverwyld na oplossings te werk.
In ’n soortgelyke verklaring veroordeel die Afrika Gemeenskap van Gereformeerde Kerke xenofobiese aanvalle en beklemtoon dat alle mense na die beeld van God geskep is. Dié liggaam, waarvan die NG Kerk ook ’n lid is, bevestig ook die beroep op politieke leiers, staatsinstellings en gemeenskappe om geweld af te wys en ’n vreedsame naasbestaan te bevorder.
Op soortgelyke wyse het GRAPE (Global Reformed Advocacy Platforms for Engagement) die kerk herinner aan die Bybelse roeping om die vreemdeling lief te hê.
Hulle verklaring plaas die huidige spanning binne die konteks van armoede, ongelykheid en ekonomiese uitsluiting en onderstreep dat om kwesbare groepe te teiken, nie die werklike oorsake van sosiale nood in ons land aanspreek nie. Die fokus van die GRAPE-verklaring val sterk op menswaardigheid, gasvryheid en ekonomiese geregtigheid.
Die NG Kerk ondersteun elkeen van hierdie verklarings op grond van breë konsensus. Ons deel die oortuiging dat geweld, ontmensliking en haat geen plek in die lewe van Christene het nie; dat elke mens die beeld van God dra; en dat die kerk geroep is om vir geregtigheid, waarheid en vrede op te staan.
Tog wil ons ook ’n eie aksent by die gesprek voeg. Die belangrikste vraag vir gelowiges is nie bloot wat ons oor al hierdie dinge moet sê nie, maar wat die Here in hierdie tyd van ons vra en hoe ons in handel en wandel daarop reageer.
Miskien vra hierdie oomblik juis ook verootmoediging van ons. Miskien het ons nie nóg verklarings nodig nie, maar juis die moed om ons vrese en onsekerheid eerlik voor God te bring. Die Psalms leer ons immers hoe om ons seer voor die Here te bekla, te bid en te hoop te midde van verwarring en nood. Hoe dikwels roep die Psalmdigter nie na God uit nie? Laat ons met geloofsvertroue daardie voorbeeld volg.
Ons bring voor die Here die mense wie se omstandighede ons dikwels nie ken nie en waarvan ons min verstaan. Eerder as om te oordeel of eenvoudige antwoorde te soek, laat ons ons nederig, afhanklik en met selfondersoek na die Here wend.
Juis hier lê die unieke bydrae wat gelowiges (die kerk) kan maak. Ons roeping begin nie by openbare verklarings nie, maar by die gesindheid van ons harte. Die geloofwaardigheid van ons getuienis word gemeet aan hoe ons leef. Dit word sigbaar in hoe ons mense ontvang, spanning hanteer, na ander luister, onreg aanspreek en menswaardigheid beskerm in ons eie gemeenskappe.
As volgelinge van Jesus Christus kan ons nie geweld regverdig nie en kan ons nie mense tot vyande reduseer nie. Ons kan nie toelaat dat vrees en woede ons harte verhard of ons optrede bepaal nie. Daarom bid ons vir vrede, vir wysheid en vir ’n dieper menslikheid in ons land. Mag die Here ons leer om in hierdie gespanne tyd geloofwaardig, nederig en hoopvol te leef – as vredemakers wat die beeld van God in elke mens raaksien.
Nioma Venter– Kerkbode, 22 Junie 2026
KOMMUNIKASIE NUUSFLITS
Ons is tans besig om ons kommunikasiekanale te verbeter. Hou julle e-pos en
SMS-boodskappe dop vir die nuutste gemeentenuus, aangesien ons
nie gereelde WhatsApp-boodskappe kan uitstuur nie.
Erediens Inligting

BELANGRIK: Anders as in die almanak aangedui is daar vanaf 7 Junie tot 19 Julie nie meer aanddienste nie a.g.v. die wintereksamen en skoolvakansie. Die aanddienste met Tiener- en Verbintenisgroepe hervat weer op Sondag 26 Julie.
SONDAG 28 JUNIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice.
Musiek: Betsie Schaap.
GEEN Kinderbediening as gevolg van die skoolvakansie. ● Kuier en verversings op die stoep.
GEEN aanddiens as gevolg van die skoolvakansie.
SONDAG 5 JULIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.
Musiek: Betsie Schaap.
GEEN Kinderbediening as gevolg van die skoolvakansie. ● Kuier en verversings op die stoep.
GEEN aanddiens as gevolg van die skoolvakansie.
SONDAG 12 JULIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice.
Musiek: Betsie Schaap.
GEEN Kinderbediening as gevolg van die skoolvakansie. ● Kuier en verversings op die stoep.
GEEN aanddiens as gevolg van die skoolvakansie.

Ons stel altyd belang in al ons gemeentevriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure/ervarings/nuus wat julle graag met ons as gemeentevriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

Ons Dink Aan
Friedel en Maryke met die afsterwe van hulle mammie, Yvonne op Dinsdag 23 Junie. Ons dink ook aan die kleinkinders Jan, Yvonne, Loraine, Helene en Jeanine wat so ’n noue band met hulle ouma gehad het.
Peter Allison, eggenoot van Esther Allison, pa van Pauline Coetzee wat baie siek is. Hy is tans in ICU in Zuid Afrikaans.
BELANGRIK
In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende verjaar. Geluk!
Week: 26 Junie-3 Julie
Sondag 28 Junie: Alta Botes, Nico Keyser, Christopher Marlow en Maarten van Hoven.
Verjaarsdae res van die week: 29 Junie: Estelle van Niekerk. 30 Junie: Sariza de Jager, Estine van der Merwe en Thinus van Niekerk. 1 Julie: Elzke Botha, Hendrien Jansen van Rensburg, Rouxhan Rossouw en Lize Dixon. 2 Julie: Mauritz Brütten, Retha du Toit, David-John Marlow en Piero Wienand. 3 Julie: Colette du Plessis, Elke du Preez, Nell-Mari Pretorius en Petro Vermaak.
Week: 3-10 Julie
Sondag 5 Julie: Franchelle Farré en Landi Hager.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag 4 Julie: Thea de Vos, Stefan du Plessis, Charmaine Krüger en Gene van Huyssteen. 6 Julie: Christo le Grange, Minke Monni en Janré Muller. 7 Julie: Charles du Toit, PC Pelser en Nikki Prinsloo. 8 Julie: Phillip le Roux en Veronica Lourens. 9 Julie: Annatjie Kemp en Pieter Oosthuizen.
Week: 10-17 Julie
Sondag 12 Julie: Leah Hugo, Betsie Schaap, Carissa van Aarde en Lara van Hoven.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag 11 Julie: Stegmann Jooné, Charlotte le Roux en Johann Smidt. 13 Julie: Marianna de Smidt, Eloïse le Grange en Heinrich Wagner. 14 Julie: Thomas Pritchard. 15 Julie: Chanél Nell. 16 Julie: William Botes, Heinrich Marais, Sofia Reynders, Karmi Rossouw en Johan Toerien ( Sr.).
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk.
(Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Geen Bybelstudie as gevolg van die skoolvakansie. Ons hervat weer op 22 Julie.
Sit in Mekaar se Stilte215: 'Die Koninkryk Langs die Pad'. Klik hier.Dankie, François.
Weeklikse oordenkings hervat weer na die skoolvakansie.
Huisgeloof: Klik hier.
Kinderbediening
Gemeente Geleenthede

KWARTAALGESPREK – TERUGVOER
WYNPROE EN -KUIER Moet ek die pryse op die PLAKKAAR VERANDER??
Maak ’n knoop in die oor en kry julle kuiermaats bymekaar! Daar is mos net soveel plek beskikbaar - en die "kaartjiekantoor" is nou OOP. Ons sal 150 persone kan akkommodeer. Spring, bespreek sommer nou julle enkel sitplekke of tafels, om seker te maak dat julle nie die geleentheid misloop nie.
R400 per persoon
8-persoon-tafel = R3 200
12- persoon-tafel = R4 800
BESPREKINGS: Skakel gerus die kantoor (landlyn 012 460 39139) of stuur ’n WhatsApp 083 442 9557 om jou plekkie te verseker.

GEMEENTEKAMP (9-11 OKTOBER)
Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba

Verbind aan mekaar – verhoudings oor generasies...
Bykans 35 jaar gelede, in Desember 1991, het Greta Engelbrecht (nou Kok) in Duitsland aangekom as uitruilstudent. Sy is geplaas by die Müller gesin, woonagtig ’n die plattelandse dorpie Wolfschlugen, naby Stuttgart. Die uitruil was slegs vir 6 weke.Die bande wat gesmee is, strek oor generasies.

Greta het, ná aflê van haar matriek-eksamen, vanaf Desember 1993 tot Januarie 1994 weer by die Müller-gesin gaan woon voor sy haar studies op Stellenbosch aangepak het. Met haar terugkeer na Suid-Afrika is sy toe vergesel van Juliane, die gesin se enigste dogter, toe self 16 jaar oud.Juliane het vir 3 maande by die Engelbrechts, destyds nog woonagtig op Oude Denneboom in die Agter-Paarl, tuisgegaan en skoolgegaan aan die Paarl Gimnasium. Juliane en haar ma, Irmgard, was in 2003 op Greta en Schalk se troue in die Toringkerk in die Paarl.

Greta se ouers, Koos en Ilse, was op hul beurt 18 jaar gelede by die huweliksbevestiging van Juliane en Jens Kirchhoff. Tussendeur was daar wedersydse familie-besoeke en self-gereëlde uitruil-geleenthede. Soos sy ma destyds, het Cobus, Greta se middelkind, die Kersfees ná afloop van sy matriek-eksamen in die huis in Beethovenstraße 37, Wolfschlugen, deurgebring.
Juliane se oudste dogter, Sophie, is nou 16. Die tradisie word voortgesit. Sophie is tans vir ‘n 3-maande lange uitruil by die Kokke. Sophie gaan skool by Pretoria High School for Girls en tussendeur verken sy en die Kokke die prag van Pretoria en omstreke. Hierdie naweek pak hulle die langpad deur die Karoo aan en gaan verken vir die week bietjie die wonders van die Wes-Kaap. In Augustus sluit Juliane en Jens met hul 3 jonger kinders aan by Sophie vir 3 weke. Koos en Ilse sien reeds kinderlik-opgewonde uit na die besoek van hul “dogter” en “kleinkinders”.
Sophie het op Sondag, 21 Junie die oggenddiens bygewoon en vir ons die Christuskers in kerk aangesteek. So voltooi sy die sirkel van Greta wat op 16-jarige ouderdom saam met Sophie se ouma Irmgard gereeld eredienste van die Christengemeinschaft in Stuttgart bygewoon het, en steeds vertel van haar ervaring van nagmaal daar, afgesluit met persoonlike aanraking en die woorde “Der Friede sei mit Dir” (mag vrede by jou wees).

Die Christengemeinschaft, waar Sophie ook haar belydenis van geloof afgelê het, is ’n beweging vir godsdienstige hernuwing wat in 1922 in Switserland gestig is deur ‘n groep predikante en teoloë uit die Lutherse en ander kerke. Hulle het gevoel die Christelike geloof moet aangepas word by moderne, wetenskaplike denke sonder om die geestelike kern prys te gee. Eredienste daar herinner aan die tradisionele Mis, maar is geanker in ’n vrye, moderne geestelike bewustheid. Dit was juis die Müller-gesin se sterk geestelike begronding in wat reeds 35 jaar gelede ‘n toenemend-sekulêre omgewing was, wat die grondslag gelê het vir die diep verbintenis tussen Greta en haar gas-familie. En nou is daardie storie ook deel van die Waterkloof-storie, vasgebind in ‘n heilige moment waar die taal van die liedere wat ons sing oorbrug is deur dit wat wat dieper lê as wat ons menslik kan verstaan.
’n Mylpaal - Hennie en Alto de Vos
Op 10 Julie is dit Hennie en Alto de Vos se 50ste huweliksherdenking. En daarvan is hulle al 45 jaar lidmate van NG Waterkloof.
Seënwense aan dié twee De Vosse. Julle is vir ons BAIE spesiaal en dit is vir ons ’n groot voorreg om vir 45 jaar sovêr - en nog vele meer - julle in ons midde te hê. Julle voetspoor in ons gemeente is groot en betekenisvol. Dankie, daarvoor!

Voetspore

HELP LAERSKOOL LESEDI-KOOR VLIEG...
Betsie Schaap skryf: Ek het Zoliswa en haar koor vir die eerste keer, ongeveer 30 minute voor hul optrede tydens die streeksrondes van die Nasionale ATKV-Applous Koorkompetisie, ontmoet. Die koor het nie ’n pianis gehad om hul uitvoering te begelei nie, en ek het ingestem om hulle te begelei.
Die koor bestaan uit ongeveer 100 leerders van Laerskool Lesedi in Soshanguve, noord van Pretoria, tussen die ouderdomme van 9 en 13 jaar. Die koor staan onder leiding van Zoliswa, wat ’n sterk belangstelling in koorsang en die ontwikkeling van jong sangers het.
Tydens die streeksrondes het die koor ’n goue toekenning ontvang en positiewe terugvoer van die beoordelaars gekry. Hulle het hoofsaaklik Afrikaanse werke uitgevoer en deelgeneem in die afdeling vir nie-Afrikaanssprekende kore. Verlede week het die koor verneem dat hulle deurgedring het na die Nasionale Eindronde wat aan die einde van Julie in Kaapstad plaasvind. Hulle is een van slegs drie kore uit Suid-Afrika en Namibië wat in hul afdeling vir die eindronde gekwalifiseer het.
Die skool en die ouers beskik egter nie oor voldoende fondse om die reis na Kaapstad te finansier nie. Daarom is ’n fondsinsamelingsveldtog geloods om hierdie talentvolle kinders die geleentheid te bied om aan die kompetisie deel te neem. Die fondse wat ingesamel word, sal aangewend word vir vliegkaartjies en, indien moontlik, ook vir een nag se verblyf.
Die Laerskool Lesedi-koor het ons ondersteuning nodig om hul droom te verwesenlik om aan die Nasionale ATKV-Applous Koorkompetisie in Kaapstad deel te neem. Elke bydrae, groot of klein, maak ’n verskil en bring hierdie jong sangers ’n tree nader aan hul doelwit.
Help ons om hul droom te laat vlieg – elke bietjie help!🎶✈️🌟
Klik dié skakels hieronder om na die koor te luister.
Skakel: Sing.
Skakel: Kinders moenie in die water mors nie.
PEAS IN A POD
Verjaarsdagbederfies vir die meisies ...
Deur die loop van die jaar het ons elke meisie in die PEAS-huis se verjaarsdag spesiaal gemaak en die hartjie warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ‘n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur.

Hierdie relatief klein gebaar verskaf soveel vreugde. Die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig, kan geen geld ter wêreld koop nie! Ons is geholpe met verjaarsdae in Junie. Die volgende verjaarsdae in JULIE benodig nog net twee weldoeners. Madubo Mahlatsi verjaar op 16 Julie en Onela Hlangwane op 28 Julie.
Indien jy graag ’n meisie op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye wil bederf, skakel gerus Ds. Bernice, Ds. Dewald of die kantoor.
PEN - WINTERHOOP
GEE HOOP GEE WARMTE

Die winter het ons stil-stil bekruip. Die koue kloue het reeds diep in ons gebeentes kom nes skop. Terwyl ons saans knus met ’n vol maag op die elektriese kombers onder ’n warm duvet lê, is daar baie mense wat nie so bevoorreg is nie. Daarom neem ons weer die vrymoedigheid om, soos elke jaar aan die begin van die winter, die WinterHoop-trollie by die ingang van die kerk te “parkeer”, gereed om donasies te ontvang.
WinterHoop is ’n gemeenskapsuitreik-inisiatief wat daarop gemik is om kwesbare en hawelose mense gedurende die wintermaande te ondersteun. Deur middel van hierdie veldtog word noodsaaklike winterbenodigdhede soos komberse, slaapsakke, warm klere, kospakkies en higiënepakkies ingesamel en versprei. Daar word ook bewusmaking rondom haweloosheid geskep, en waar moontlik word mense in nood met gespesialiseerde ondersteuningsdienste verbind.
Die inisiatief bring kerke, besighede, skole en gemeenskapslede saam om ’n betekenisvolle verskil te maak in die lewens van mense wat gedurende die koue wintermaande swaarkry.
Indien u graag wil bydra, kan u enige van die genoemde items in die WinterHoop-trollie plaas. Elke kombers, elke kledingstuk en elke kospakkie bring nie net fisiese warmte nie, maar ook hoop en menswaardigheid aan iemand wat dit broodnodig het.
Items benodig. (Klik hier)
Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil". (Klik hier)
Gemeente Besonderhede

KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected] / Sel: 083 417 5133
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel

Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster: 064 700 7004
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK
Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482

