
GEMEENTEBRIEF 23-30 OKTOBER
GEMEENTEBRIEF 23-30 OKTOBER 2026

Gedagte Vir Die Week

Liewe gemeentevriend,
Oop arms, oop harte
Ek het al by geleentheid vir julle vertel van Milan, ons eenjarige, wat veral wanneer ons op ’n vreemde plek is, telkens na my toe kom en net haar koppie op my skoot sit. Sy bly so vir ’n oomblik en gaan dan weer verder met waarmee sy besig was.
Daarmee gee sy uitdrukking aan ’n behoefte wat ons almal deel: Om veilig te voel, te behoort en ’n plek te hê waar ons ons kop kan neersit.

Daarmee gee sy uitdrukking aan ’n behoefte wat ons waarskynlik almal deel: Om veilig te voel, te behoort, gewoon ’n plek te hê waar ons ons kop kan neersit.
Een van die eenvoudigste omskrywings van die kerk word na bewering aan die teoloog Willie Jonker toegeskryf: “Die kerk is mense rondom Jesus.” Met so prentjie van kerkwees kan ons nie anders as om erns te maak met die vrae: Wie is hierdie Jesus rondom wie ons saamkom, en wat beteken dit vir ons saamwees?
In die evangelies lees ons hoe Jesus gedurig besig is om mense aan te raak en in te sluit. Só leer ons iets ken van die hart van God. In Jesus word ons self deur God aangeraak en omhels. Daarom behoort die kerk ’n gemeenskap te wees wat met oop arms en oop harte leef.
Dit beteken meer as om mense vriendelik te ontvang. Oop arms en oop harte impliseer dat daar ruimte gemaak word vir ander se volle menswees, verhale en gawes. Die kerk is immers nie net mense wat hulle arms wyd oopmaak om ander in te nooi nie, maar ook hulle arms rondom ander toemaak.
Hierdie Sondag word NG Groenkloof amptelik deel van Waterkloofgemeente. Dit is ’n besondere voorreg én geleentheid om opnuut na te dink oor wat dit beteken om ’n geloofsgemeenskap te wees.
Dit is my opregte bede dat Waterkloofkerk ervaar sal word as ’n plek waar mense aangeraak en ingetrek word, waar ander beleef: "Hiér kan ek my kop neersit.”
Liefde, Ds. Bernice
Erediens Inligting

SONDAG 25 OKTOBER
HERVORMINGSONDAG EN EENWORDINGSFEES
Die tyd vir eenwording het uiteindelik aangebreek en ons is opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê. NG Kerk Groenkloof ontbind en word by NG Kerk Waterkloof ingelyf. Ons sien daarna uit om die Groenklowers in ons midde te verwelkom! Almal word hartlik uitgenooi na die Eenwordingsfeesdiens op 25 Oktober om 09:00 in ons erediensruimte.
09:00 Erediens met Nagmaal in kerkgebou o.l.v. Prof. Malan Nel. Aan die tafel van die Here, bely ons… (1 Kor 10:16-18)
Musiek: Friena Maritz (orrel), Cantate in Luce-koor o.l.v. Katrien Holm en Neels Claasen (trompet).
Kinderbediening tydens die erediens ● Spesiale kuier met ‘n snytjie ‘Eenwordingskoek’, sjampanje en /of ‘n bekertjie ‘Hervormingsbier’ op die stoep. Tee, koffie en roomys is vanselfsprekend ook op die spyskaart.
18:00: Erediens met Nagmaal (kwartaalafsluiting) in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
ROETEMERKER VIR ONS GR. 6 LIDMATE
Hierdie jaar het ongesiens verbygesnel!! Ons sluit ons aanddienste vir hierdie jaar op Sondagaand, 25 Oktober af.

Ons rig ’n SPESIALE UITNODIGING aan al ons Gr. 6 lidmate en hulle families om die erediens by te woon. Tydens dié geleentheid vier ons ’n nuwe seisoen wat hierdie jongmense en hulle gesinne saam betree. Die toekomstige Graad 7-groep word nou offisieël deel van Waterkloof se Tienerbediening! Ons sien daarna uit om julle almal by dié besondere aanddiens te verwelkom. Dit gaan vir ons baie spesiaal wees om voortaan saam met julle tydens die aanddienste op ‘n geloofsreis te wees.
SONDAG 1 NOVEMBER
DANKFEES
09:00: Erediens in kerkgebou o.l.v. Dewald.
Musiek: Joyce Viljoen.
Kinderbediening tydens die erediens ●Kuier en verversings op die stoep.
Ds. Bernice bevestig Saterdag 31 Oktober ’n huwelik in die Moederkerk in Stellenbosch.
Gemeente Geleenthede

HERVORMINGSONDAG EN EENWORDINGSFEES - 25 OKTOBER
’n Dag van dankbaarheid en eenheid
Hoe gepas dat ons juis op Hervormingsondag bymekaar kom om die eenwording van twee gemeentes te vier! Op hierdie dag gedenk ons Martin Luther, wat in 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg aangebring het en daarmee ’n beweging aan die gang gesit het wat die kerkgeskiedenis ingrypend verander het. Luther het mense opnuut herinner aan die kern van die evangelie: God werk net met genade!
Soos die Hervorming ’n nuwe hoofstuk in die kerkgeskiedenis ingelui het, begin ons vandag saam aan ’n nuwe hoofstuk in ons gemeentegeskiedenis skryf. Ons eenwording is meer as die saamvoeging van twee gemeentes; dit is ’n geleentheid om saam te groei, saam te dien en saam ’n verskil te maak.
Mag hierdie dag ’n besondere plek in die geskiedenis van ons gemeente inneem – as ’n dag van dankbaarheid vir die pad wat ons reeds gestap het, hoop vir die pad vorentoe en vertroue op God wat ons saam lei. Mag ons as een gemeente, met geloof en liefde, saam voortbou aan God se koninkryk.

DIE ANDER HERVORMING: BETER BIER!
Maarten Luther het nie net sterk bygedra tot die Protestantse Kerkhervorming nie, maar ook die manier waarop Europeërs geleef, geveg, aanbid, gewerk en kuns geskep het. Ja, ook hoe hulle geëet en gedrink het. Onder andere is 'n drankie wat oor die hele wêreld en veral in Luther se geboorteland, Duitsland, geliefd was beïnvloed: bier!
Die verandering in bier produksie is bewerk deur die liggroen keëlvormige blom van ’n meerjarige rankplant – Hop (Humulus lupulus).
In die 16-de eeu het die Roomse Kerk 'n wurggreep op bier produksie gehad, aangesien dit die monopolie op die mengsel van kruie en plantaardige produkte gehad het wat gebruik is om bier te geur en te preserveer. Hop is egter nie belas nie.
Elke “Kraft” bierbrouery vandag is dank verskuldig aan Luther en sy volgelinge vir die bevordering van die gebruik van hops as 'n daad van rebellie teen die magsvergrype van die destydse Roomse Kerk.
ONS JAARLIKSE WYNVEILING
Ons spoggeleentheid, die jaarlikse wynveiling in samewerking met die Agter-Paarl-gemeente, vind vanjaar op ’n SATERDAGAAND by die Pretoria Buiteklub plaas. Sit solank 28 November ‘OP YS’ en skud die vere reg vir ’n genotvolle aand saam met vriende – heerlike kos, goeie wyn en hope pret!

BESPREEK NOU REEDS JOU PLEK
Die kaartjieprys sluit in:
Verwelkomingsdrankie
Driegangmaaltyd
Tafelwyne & kelnerfooie
SAAM MAAK ONS ’N VERSKIL
Die opbrengs van hierdie jaarlikse fondsinsamelingsgeleentheid word aangewend ter ondersteuning van die bedieninge van die onderskeie gemeentes.
Ons Gee Om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

Ons Dink Aan
Zahndrie en Vernon Harms wie se seuntjie Michael, prematuur gebore is. Hy moes reeds ’n operasie ondergaan en is steeds in ICU. Ons dink aan julle almal en bid vir klein Michael.
Marike le Roux wie se pa, Philip Vogel, ontslaan is en tuis aansterk.
Ons Gr. 12 Lidmate
Julle is nou in die pylvak van julle skoolloopbaan! Hierdie is die laaste groot ‘skool-stap’ die toekoms in. Jy is amper daar - byt vas, leer hard, skryf lekker, slaap genoeg en doen net jou bes! Onthou: die eksamen bepaal nie wie jy is nie — jy is reeds waardevol, geliefd en uniek. Tot 28 November, wanneer die eksamendeure agter julle toeklap, dink ons aan elkeen van julle en wens julle vrede, helderheid en deursettingsvermoë toe vir die res van die eksamen.
BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende verjaar! Veels Geluk!

Verjaarsdae op Sondag 25 Oktober: Pieter Coetzee, Elisca du Toit, Regina Kasselman, Gerdus Kemp en Zander Wessels.
Verjaarsdae vir die res van die week: Saterdag: 24 Oktober: Seifert Hager, Pieter Schaap, Melanie van Niekerk en Loraine van Zyl. 26 Oktober: Valerie Esterhuizen. 28 Oktober: Salomé Boshoff, Ansoré du Toit en Debbie Pieters. 29 Oktober: Carolien Pienaar, Mariza Wessels en Linda Snyman. 30 Oktober: Mariëtte Kuhn en André Nell.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Woensdag, 28 Oktober om 9:00 in die kinderkamer.
Erediens: Princess Christian op Dinsdag, 27 Oktober om 10:30 en Huis Piek op Woensdag, 28 Oktober om 10:30.
Sit in Mekaar se Stilte 24 - Kosbaar vir God. Dankie, François. (Klik hier)
Weeklikse oordenking hervat weer na 23 Oktober.
Huisgeloof: Reformasie (1 Tess. 2) (Klik hier)
Gemeente en Gemeenskapsnuus

NOORDELIKE SINODESITTING

Ds. Bernice, ds. Francois, ds. Harm, ds. Dewald en kerkraadslid Johan Toerien is vanjaar afgevaardig na die Noordelike Sinode.
Die Noordelike Sinode van die NG Kerk het vanjaar vergader van 18 tot 22 Oktober by Weesgerus, die bekende vakansieoord net buite Modimolle, voorheen bekend as Nylstroom. Die oord word dikwels vir kerkvergaderings gebruik vanweë sy goed toegeruste konferensiefasiliteite en die gasvryheid waarvoor hulle bekend is. Dit was die 23ste sitting van die Noordelike Sinode. Die voorsitter van die Noordelike Sinode, ds. Lizl-Louise Schoeman, het die 237 afgevaardigdes van honderd gemeentes, sestien ringe, drie provinsies en drie lande, verwelkom. Die sinode sluit ook gemeentes in Zimbabwe, Zambië en die SA Gemeente in die Verenigde Koninkryk, in. Die laasgenoemde gemeente kon vanjaar nie ’n afvaardiging stuur nie.

Die week se verrigtinge het Sondagaand afgeskop met ‘n erediens in die NG Gemeente Waterberg. Die kerkgebou is self ’n betekenisvolle plek van ontmoeting vir die sinode. Die gemeente is in 1860 gestig en is een van die oudste gemeentes in die destydse Transvaal. Die erediens is met ’n orrel- en viooluitvoering ingelui. Dr. Diederick Basson, argiefbestuurder by die Universiteit Stellenbosch, was die orrelis en me. Johanna Roos (oud Waterklooflidmaat) die violis. Die besondere orrel, met 1 999 pype, is een van die grootstes noord van Pretoria.

Die sinode se tema, Droomdraers, het duidelik na vore gekom in Schoeman se oordenking oor die Skriflesing uit Genesis 25:7-11. “’n Kerk wat net met haarself besig is, droom te klein,” het sy gesê. Sy het verduidelik dat dit nie hier gaan oor lugkastele of ’n wenslys nie, maar oor die droom wat aan God behoort: God se droom vir sy skepping. Soos Abraham is ons bloot draers van God se droom. Tydens die nagmaalsviering het dr. Fanie Cronje die sinodegangers herinner aan God se verbond met Abraham en hoe hierdie verbond deur die geslagte heen voortgeduur het – tot nou, tot hier, en ook met ons as kerk. Tydens die vergadering die week is daar in besonder nagedink oor die volgende tema: Hoe lyk die roeping van die NG Kerk in Suid-Afrika onderweg na die toekoms? Tydens die sitting is daar stilgestaan by die temas: onthou, verbeel en leef!“, gefokus op die toekoms van die kerk en die herstel/genesing van gemeentes.
‘n Besondere dankie aan Johan Toerien wat Waterkloofkerk as kerkraadslid by die Noordelike Sinode gaan verteenwoordig het.

Ds. Bernice het lei ’n paneelbespreking gelei wat die sinode gehelp het om krities te reflekteer oor dit wat gehoor en waaroor gepraat is. Die paneellede het dominees en kerkraadslede van verskillende ouderdomme, kontekste en geografiese gebiede ingesluit.

Ds. Lizl-Louise Schoeman (NG Monumentpark) is herverkies as moderator (voorsitter) en ds. Bernice is ook vir ’n tweede termyn tot die Moderatuur verkies! Die Moderatuur is die dagbestuur van die Noordelike Sinode en word elke vier jaar tydens die sinodesitting verkies. Vir ons as Waterkloofkerk is dit ’n besondere voorreg dat sy weer op die Moderatuur dien en ook so ons gemeente se stem verteenwoordig. Ons wens haar alle seën en wysheid toe vir hierdie belangrike taak en vertrou dat sy dit met toewyding sal voortsit.
GROENKLOOF - AFSKEIDSEREDIENS
Ds. Francois Smit, leraar van Groenkloof gemeente vir die afgelope 2 en ’n halfjaar som die geleentheid só raak op:
Ons kyk terug met dankbaarheid en vorentoe met hoop
Op Sondag 18 Oktober 2026 het NG Kerk Groenkloof sy laaste amptelike erediens as selfstandige gemeente gehou. Ons wou egter nie hê dat die geleentheid soos 'n begrafnis moes voel nie, maar eerder 'n viering van alles wat die gemeente oor die jare beteken het. Daarom het ons dit as 'n Dankfees ingerig. Vir maande het ons oud-Groenklowers en voormalige predikante genooi om saam te kom, foto's en stories in te stuur en herinneringe te deel. Ons het 'n uitstalling van historiese foto's en voorwerpe saamgestel, asook 'n boekie met mense se herinneringe. Dit was 'n wonderlike belewenis om soveel mense weer bymekaar te hê — van lidmate wat reeds kort ná die gemeente se stigting daar was, tot mense wat maar net 'n jaar of twee deel van Groenkloof was. Vir baie was dit 'n emosionele afskeid van die plek waar hulle gedoop is, grootgeword het, getrou het en hulle geestelike tuiste gevind het. Tog was die dag gevul met warmte, vreugde en 'n besondere gevoel van verbondenheid.


Die tema van die dag het aangesluit by Paulus se woorde in Filippense 3: om dit wat agter is, agter te laat en ons uit te strek na wat voor is. Groenkloof se bestaan as selfstandige gemeente kom wel tot 'n einde, maar ons bly deel van die groter Kerk van Jesus Christus. Ons koester die ryk erfenis van alles wat ons saam beleef en opgebou het, en sien met opgewondenheid uit na die toekoms. Ons gaan immers nie met leë hande na Waterkloof nie. Ons neem die besondere DNS van Groenkloof saam om dit in 'n nuwe gemeenskap in te ploeg. Dit was 'n hartseer, maar tegelykertyd 'n besonder mooi en hoopvolle dag. Baie dankie, Francois.



Anne-Marie en Dawie Fourie is al 39 jaar lank deel van die hart en siel van Groenkloof-gemeente. Ná hul laaste erediens daar deel Anne-Marie haar besondere belewenis van die gemeente se Dankfees:
Sondag se Dankfees by Groenkloof was vir my ‘n besondere en betekenisvolle belewenis. Dit was ‘n geleentheid om stil te staan, terug te kyk en met ‘n dankbare hart na die Here op te sien.
Terwyl ek deel was van die erediens, het ek opnuut bewus geword van God se goedheid, genade en trou oor baie jare in ons lewens. Ek het besef hoeveel daar is om voor dankbaar te wees – nie net die die sigbare seëninge nie, maar ook die krag, vertroosting en hoop wat Hy ons elke dag gee.
Daar was ook ‘n dieper emosionele belewenis. Die besef dat dit ons laaste Erediens was, het my laat nadink oor die betekenis van Groenkloof-gemeente, die mense wat deel van ons geloofspad was oor baie jare en die herinneringe wat ons saam opgebou het. Dit het gevoelens van dankbaarheid, weemoed en waardering na vore gebring.

Ek het ervaar hoe kosbaar ons geloofsgemeenskap is. Om saam te aanbid, saam dankie te sê, herinner ‘n mens daaraan dat ons nie alleen op ons geloofspad is nie. Ons word deel van ‘n groter geloofsfamilie wat mekaar ondersteun en versterk wanneer ons inskakel by Waterkloof-gemeente.
Wat my veral bygebly het, is die besef dat dankbaarheid nie net gaan oor dit wat ons ontvang het nie , maar ook oor hoe ons vorentoe gaan leef. Ons word geroep om God se liefde uit te leef, ander mense met deernis te behandel en met geloof en vertroue die toekoms tegemoet te gaan.
My grootste gewaarwording was dat elke afsluiting ook ‘n uitnodiging tot nuwe vertoue is. Al bring afskeid soms hartseer mee, kan ons steeds met hoop vorentoe leef. God se trou is nie beperk tot ‘n bepaalde plek, gemeente of tydperk nie. Hy bly by ons , waarheen ons ookal gaan.
Ek sluit hierdie besondere belewenis af met ‘n dankbare hart. Dankbaar vir die geleentheid om deel te wees, van die mense wat my pad gekruis het en vir die geloofs- herinneringe wat ek sal koester.
Mag die Here ons help om nie net die seëninge van die verlede te onthou nie, maar om ook elke nuwe dag in Waterkloof-gemeente met geloof, hoop en dankbaarheid aan te pak. Aan God al die eer en dank! Anne-Marie, baie dankie dat jy hierdie besondere belewenis met ons deel.

CORAM DEO AANLYNWERKSWINKEL
Hoe beweeg ons deur lyding, vergifnis en onvoltooide verhale na nuwe hoop?
Sluit by Coram Deo aan vir ’n betekenisvolle aanlynwerkswinkel oor pastorale narratiewe praktyk en die rol van teologie in die verwerking van gewonde verhale.
Aanlynwerkswinkel: 30 Oktober: 14:00 tot 17:00 & 31 Oktober: 09:00 – 12:00
Kom ontdek hoe ons deur teologiese nadenke en pastorale praktyk kan beweeg van gewonde verhale na hoop en nuwe moontlikhede.
Indien jy vir hierdie werkswinkel wil bespreek of meer hieroor wil weet, klik op die relevante skakel.
Bespreking: (Kik hier) Inligting: (Klik hier)
Kontaknommer vir enige navrae: 076 135 7367
CMA SE JAARLIKSE GALA-EN BEURSKONSERT
Liewe Musiekvriend(e),
Kom vier saam met ons en beleef ’n inspirerende viering van musiek, talent en nuwe geleenthede – en ontdek watter wonderlike verskil ons kan maak deur in die volgende geslag musikante te belê!

Wanneer: Dinsdagaand, 3 November.
Tyd: 19:00
Waar: Musaion, Universiteit van Pretoria.
Aankoop van kaartjies: webtuiste (capitalmusic.org) OF
Skakel: https://www.seatme.co.za/events/cma-gala-bursary-awardconcert?
Dit sal vir ons 'n voorreg wees om na afloop van die die konsert saam met julle rondom ligte eetgoed en ’n glas wyn (of twee) te kuier. Hoop ons sien julle daar!
Blignault Gouws (Voorsitter: Bestuursraad en jarelange lidmaat in ons gemeente)
UNIVERSITEITSOORD
Inskrywings vir NG Universiteitsoord se Eerstejaarskamp 2027 maak op 1 Oktober oop.
Universiteitsoord deel graag hulle opgewondenheid met gemeentes regoor die land oor die eerstejaarskamp, omdat hulle glo elke eerstejaar wat Pretoria toe kom, hierdie kamp moet ervaar!
Die Eerstejaarskamp is nie net ’n plek waar nuwe vriendskappe gevorm word nie, maar waar jy ook onvergeetlike herinneringe gaan maak en mede-eerstejaars ontmoet wat saam met jou hierdie nuwe hoofstuk van jou lewe gaan aanpak. (Klik hier)

Ons Voetspore In Die Gemeenskap

JAN NIEMANDPARK
'n Bietjie meel, 'n groot verskil
Ons het die geleentheid om vanjaar by NG Kerk Jan Niemandpark se Kersprojek betrokke te raak. Groenkloof-gemeente is al vir baie jare verbind aan Jan Niemandpark en nou het Waterkloofkerk die voorreg om hierdie verhouding te verdiep.
Jan Niemandpark gemeente bedien in 'n behoeftige omgewing met ernstige sosiale en maatskaplike uitdagings. Die gemeente bak elke jaar tydens die Jakaranda Kinderhuis se Liggiefees pannekoek om hulle gemeenskap volhoubaar te bly bedien.
Daar is tans 'n groot behoefte aan die volgende bestanddele – meel, olie en suiker. Enige donasies kan gerus by die kerkkantoor afgelaai word of indien jy liewer 'n finansiële bydrae wil maak, kan dit in die kerk se bankrekening inbetaal word. Merk duidelik verwysing: Jan Niemandpark liggiefees. Ons sal seker maak dat die donasies die korrekte bestemming bereik.
Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die Verskil. (Klik hier)
Gemeente Besonderhede

KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang.
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
Bankbesonderhede: NG Kerk Waterkloof
ABSA
Rekeningnommer: 1500580077
Verwysing: Voorletter, Van, Geleentheid
GPS – KOöRDINATE:
Breedtegraad (Lat.) -25º 46 31.95
Breedtegraad in desimale formaat: -25.775542211330446
Lengtegraad. 28º 13 55.45
Lengtegraad in desimale formaat: 28.232068419456482


