
GEMEENTEBRIEF 18-25 SEPTEMBER 2026
GEMEENTEBRIEF 18-25 SEPTEMBER 2026

Gedagte Vir Die Week

Liewe gemeentevriend,
’n EKOLOGIESE BELYDENIS VAN GELOOF
Ons glo in God, die almagtige Vader, wat uit liefde die aarde vir alle mense gegee het.
Ons glo dat ons as mense ’n spesiale deel van die skepping is, en dat elke deel van die skepping ’n kosbare geskenk is om te gebruik en in liefde na om te sien.
Ons glo in Jesus Christus, wat die koninkryk laat kom, die skepping genees, en deur sy dood en opstanding die vrede van God aan mense bied.
Ons glo in die Gees van God, wat oor die waters gesweef en orde in ons wêreld gebring het.
Ons wil glo in die skoonheid van eenvoud, in liefde met oop hande.
Ons waag dit om te glo in ’n nuwe mensheid, waar geregtigheid sal floreer, respek vir die hele skepping sal gedy, en vrede ’n werklikheid is.
Ons uiter vanoggend ons oortuigings terwyl ons hier herinner word aan die liefde van God, die genade van Christus en die gemeenskap van die Gees.
Amen.
(Vry vertaal uit: A rainbow over the land. E. M. Conradie, D. N. Field)

GESAMENTLIKE LENTEDIENS - 20 SEPTEMBER
Eerskomende Sondag (20 September) loof ons die Here vir God se natuur in die natuur. Jy is só welkom. Stoele word uitgepak op die grasperk en onder die bome. Bring gerus ’n piekniek-kombersie saam vir gemaklike ‘sit’ op die grasperk, vir die kinders en dié wat dit so verkies.

Ons vier Lente gewoonlik die Sondag naaste aan die dag-en-nag ewening (‘equinox') in September. Hierdie jaar val die ‘equinox’ op Woensdag, 23 September, 2:05 vm., (amptelik die begin van Lente in Suid-Afrika) wanneer die son loodreg op die ewenaar skyn, die dag- en naglengtes dieselfde is, die son reg in die Ooste opkom en reg in die Weste ondergaan.
Indien dit reënerig is, sal die erediens in ons erediensruimte in die kerk plaasvind, waarna ons STEEDS feestelik gaan saamkuier met worsbroodjies, roomys en iets te drinke!
Erediens Inligting

SONDAG 20 SEPTEMBER
LENTEFEES
09:00: Familie-erediens in die kerktuin o.l.v. ds. Bernice. Geniet die lewe in verwondering voor God. Tydens die erediens word die doop aan Emmarie Aliza Minnaar, dogtertjie van Adriaan en Marguerite Minnaar bedien.

Hierdie erediens is ’n GESAMENTLIKE erediens. Daarom nooi ons al ons ouers en jongmense van die aanddiens om ook die diens by te woon.
Musiek: Friena Maritz.
Saam-kuier - Worsbroodjies en iets te drinke.
18:00: GEEN aanddiens a.g.v. die gesamentlike oggend-erediens.
SONDAG 27 SEPTEMBER
09:00 Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.
Musiek: Joyce Viljoen.
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Geen aanddiens a.g.v. skoolvakansie.
Gemeente Geleenthede

GEMEENTEKAMP
BESPREEK jou/julle verblyf so gou moontlik.
Daar is ’n voëltjie aan die fluit dat slaapplek min raak.
Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba
Ons Gee Om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

Ons Dink Aan
Betsie van der Merwe wat Maandag, 21 September, vir ’n voetoperasie opgeneem word.
Die familie van Tannie Marie van Dalsen wat Donderdag, 17 September, oorlede is.
Merle Spulman wat op 16 September in Medi-kliniek, Hermanus, ’n handoperasie ondergaan het.
Elke du Preez wat Dinsdag, 15 September, ’n mangel-en-adenoїede-operasie ondergaan het.
Bennie en Marisca van Niekerk. Bennie se pa, Ben van Niekerk is onlangs gediagnoseer met aggressiewe leukemie en beenmurgkanker.
Louise Prinsen wie se ma, Rina Boshoff, ernstige gesondheidsuitdagings beleef.
Veels Geluk
Nicolaas en Carina Steenekamp met die geboorte van klein Andries op 15 September. Geluk ook aan Oupa André en Ouma Janetta van Niekerk met die dertiende kleinkind in die skatkis! Mag hy vir julle almal ’n bron van vreugde wees.

BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende verjaar! Veels Geluk!

Verjaarsdae Sondag, 20 September: Dorothy Joubert, Cobus Kok, Anton Scholtz en Renèe Schoombee.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 19 September: Ilse Cronjé, Lika de Vos, Nadia Jansen van Rensburg en Neels Prinsloo. 22 September: Anne Fullard. 23 September: Ruvan Smit, Elma van Wyk, Norman Weitz en Joshua Zeeman. 24 September: Murray Louw. 25 September: Francis Dreyer.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Hervat weer na die skoolvakansie op 7 Oktober om 09:00 saam met ds. Bernice in die kinderkamer.
Erediens: Huis Piek - hervat weer na die skoolvakansie op 7 Oktober om om 10:30 en by Princess Christian op 13 Oktober om 10:30.
Sit in Mekaar se Stilte 224: Lectio Visio 7: Kyk Weer. Dankie, François. (Klik hier)
Weeklikse oordenking hervat weer na 22 Oktober.
Huisgeloof: Romeine 3:26-29 (Klik hier)
Gemeente en Gemeenskapsnuus

KENNISGEWING VAN EENWORDING
Die tyd vir eenwording het uiteindelik aangebreek en ons is van harte opgewonde oor die nuwe seisoen wat vir ons twee “Klowe Gemeentes” voorlê. Gesprekke om noue-samewerking en uiteindelike eenwording word al vir meer as 12 jaar tussen die NG Gemeentes Waterkloof en Groenkloof gevoer. Op die vooraand van eenwording is ons dankbaar dat die Here ons so vêr gebring het. Diep bewus van ons eie weerloosheid en afhanklikheid bevind ons onsself vandag in die môre waaroor ons gister nog bekommerd was.
Die Kerkrade van die Nederduits Gereformeerde Gemeentes Waterkloof en Groenkloof kom aan die hand van die Kerkorde 2023 asook Kerkorde en Aanvullende Bepalings, NG Kerk Noordelike Sinode, 2025 soos volg ooreen: (Hier volg enkele uitreksels uit die eenwordings-ooreenkoms)
1.1 Die twee Kerkrade besluit om in ooreenstemming met die kerkordelike bepalings soos vervat in Punt 3 (Eenwording van gemeentes) van die REGLEMENT VIR DIE VERMEERDERING, KOMBINERING, EENWORDING EN SAMESMELTING VAN GEMEENTES (Kerkorde en Aanvullende bepalings 2025) die NG Gemeente Groenkloof by die NG Gemeente Waterkloof in te lyf.
1.2 Die Nederduits Gereformeerde Gemeente Groenkloof het tydens sy vergadering op 3 Mei 2026 besluit om te ontbind en een te word met NG Gemeente Waterkloof. Die datum van eenwording is op die vergadering van 2 Augustus 2026 so vasgemaak as 25 Oktober om 00h00.
1.3 Die Nederduits Gereformeerde Gemeente Waterkloof het op haar Kerkraadsvergadering van 14 April 2026 besluit om in te stem dat NG Gemeente Groenkloof se lidmate en werksaamhede (alle bediening en pastoraat) by (Waterkloof) ingelyf word op 25 Oktober 2026 om 00h00. Groenkloof gemeente as regspersoon sal voortbestaan tot 28 Februarie 2027 om alle sake wat verband hou met die ontbinding van Groenkloof-gemeente deur te voer.
Die gemeente sal genoem word Nederduits Gereformeerde Gemeente Waterkloof.
Wat bediening betref:
6.1 Alle aspekte van die bediening, insluitende die pastorale versorging, strategiese beplanning, administrasie, fasiliteite-, finansiële- en personeelbestuur, word vanaf inwerkingtreding van hierdie kontrak deur Waterkloof se kerkraad behartig.
6.2 Op Hervormingsondag, 25 Oktober 2026, vier die gemeentes hulle eenwording op ʼn gepaste manier en vind die eerste erediens in Waterkloof se kerkgebou om 09:00 plaas.
6.3 Eredienste, gemeentelike bediening en -aksies.
6.3.1 Vanaf Hervormingsondag, 25 Oktober 2026 hou die gemeentes op Sondae saam een tradisionele erediens in Waterkloof se kerkgebou om 09:00.
6.3.2 Vanaf dieselfde datum sal Groenkloof se kerkgebou op Sondae toepaslik gebruik word soos die Waterkloof-kerkraad besluit, bv. vir aanddienste en kontemplatiewe dienste ens.
Approbasie Kennisgewing
Gemeentelede word versoek om enige beswaar teen die voorgestelde eenwording skriftelik bekend te maak voor Sondag 20 September 2026. ‘n Kopie van die volledige konsep eenwordings-ooreenkoms is beskikbaar in die kerkkantoor. Maak gerus ‘n afspraak met die kerkkantoor, indien u graag die ooreenkoms wil lees.
Vir enige verdere navrae, skakel gerus vir Maarten van Hoven (Voorsitter van die eenwordingskomitee) of enige van die Leraars.
Kontakbesonderhede: [email protected] / WhatsApp / skakel: 083 412 7885
VROUEMOORDE IN GAUTENG
NG Kerk voeg stem by ander kerke vir ’n veiliger samelewing vir vroue
Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Die moorde van sewe* vroue in Gauteng het onlangs aan die lig gekom. “Hierdie gebeure mag nie bloot as nog ’n reeks misdaad afgemaak word nie. Dit is ’n ernstige aanklag teen ’n samelewing waarin vroue steeds nie veilig kan leef, kan beweeg of kan werk nie. Dit vra nie net om woorde van ontsteltenis nie, maar om dringende, sigbare en volgehoue optrede van die staat, die polisie, die regstelsel, kerke én die breër gemeenskap,” skryf dr Nioma Venter, algemene sekretaris van die NG Kerk.
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk voeg ons stem by dié van talle Suid-Afrikaners wat met diepe ontsteltenis en hartseer kennis geneem het van die ontdekking van die liggaam van ’n sewende vrou in Gauteng, na die reeks moorde op vroue wat die afgelope weke aan die lig gekom het.
Ons betuig ons innige meegevoel met die families en geliefdes van die slagoffers, en bid vir hulle in hierdie tyd van ondenkbare verlies en onsekerheid. Ons dink ook aan die families wat steeds wag op die formele identifikasie van hul geliefdes.
Hierdie gebeure mag nie bloot as nog ’n reeks misdaad afgemaak word nie. Dit is ’n ernstige aanklag teen ’n samelewing waarin vroue steeds nie veilig kan leef, kan beweeg of kan werk nie. Dit vra nie net om woorde van ontsteltenis nie, maar om dringende, sigbare en volgehoue optrede van die staat, die polisie, die regstelsel, kerke én die breër gemeenskap.
Vir die Kerk is moord in die eerste plek ’n geloofsaak. Die Bybel leer ons dat elke mens na die beeld van God geskep is (Gen. 1:27) en daarom ’n ononderhandelbare waardigheid besit. Geweld teen vroue en kinders, en die strukture en houdings wat dit moontlik maak, is daarom in direkte stryd met die evangelie.
Die Kerk het ’n besondere verantwoordelikheid om nie net teen geweld te praat nie, maar ook om binne gemeentes en gemeenskappe ’n kultuur te help skep waarin vroue gerespekteer, beskerm en gehoor word; en waarin patriargale houdings en alle vorme van mishandeling uitgedaag word. Dieselfde respek, menswaardigheid en kosbaarheid van lewe geld natuurlik vir alle mense, ongeag geslag.
Ons doen daarom ’n beroep op gemeentes, predikante, kerkrade en lidmate om hierdie getuienis ook sigbaar te maak. Sluit weer doelbewus aan by die wêreldwye #ThursdaysInBlack-veldtog deur op Donderdae swart te dra as teken van protes teen verkragting, geweld en mishandeling, en as teken van solidariteit met vroue en kinders wat in vrees leef. Laat hierdie sigbare teken gepaard gaan met gebed, prediking, gesprekke, ondersteuning aan slagoffers en praktiese optrede in elke gemeenskap waar ons teenwoordig is.
Ons bid dat die ondersoeke na hierdie moorde met dringendheid uitgevoer word, dat die verantwoordelikes aan die gereg oorgegee word, en dat die land se verbintenis tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld in daadwerklike optrede sigbaar sal word.
Die NG Kerk staan saam met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en ander kerke en burgerlike organisasies wat vra vir ’n samelewing waarin elke vrou en kind veilig kan leef. Ons mag nie gewoond raak aan hierdie geweld nie. Elke lewe wat geneem word, is ’n onherstelbare verlies.
Lees ook: Verklaring van die SA Raad van Kerke wat op 15 September 2026 uitgereik is. (Klik hier)
Nioma Venter. Kerkbode, 15 September 2026
Ons Voetspore In Die Gemeenskap

PEAS IN A POD
Verjaarsdagbederfies vir die meisies...
Deur die loop van die jaar kon ons sovêr elke meisie in die PEAS-huis se verjaarsdag spesiaal maak en die hartjie warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ’n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur.

Baie dankie aan elkeen wat tot op datum ’n meisiehart warm laat klop het! Ons waardeer julle moeite en betrokkenheid opreg. In die groter prentjie is dit dalk vir ons net ’n druppel in die emmer, maar die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig vertel ’n heel ander verhaal. Dít is iets wat geen geld ter wêreld kan koop nie!
Ons een OKTOBER-meisie benodig nog ’n weldoener. Suzan Swarts word op 14 Oktober 13 jaar oud. Indien jy graag een van dié meisies op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye wil bederf, skakel gerus ds. Bernice, ds. Dewald of die kantoor.
Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die Verskil. (Klik hier)
Gemeente Besonderhede

KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang.
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
Bankbesonderhede: NG Kerk Waterkloof
ABSA
Rekeningnommer: 1500580077
Verwysing: Voorletter, Van, Geleentheid
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482


