NGK Waterkloof

GEMEENTEBRIEF 17-24 JULIE 2026

July 17, 20269 min read
Custom HTML/CSS/JAVASCRIPT

GEMEENTEBRIEF 17-24 JULIE 2026

KOPERLAMPE180gedagte vir die week

Liewe gemeentevriend,

Gedagte vir die Week

Pryslied

Vir Amelia

Vandag wil ek die najaar en die aarde prys

op hierdie plek waar ek vergun word om te woon,

omring deur berge maar hoër en blouer

as die berge om Jerusalem.

WINGERD400

En sonder kniel en hande vou

wil ek die Skepper dank

vir ’n liefde sonder vervaldatum

met ’n waarborg teen ontnugtering en pyn

wat niks anders voorspel

as dat die wingerd sal verkleur

en die druiwe gepluk sal word

om in skemerige kelders te fermenteer

tot heildronke op die lewe

en dat die roes en geel en rooi eikeblare

sal val om in die suisende winterreën

met die aarde te amalgameer

op hierdie stippel van ons wêrelddorp

waar ek vergun word om te woon,

omring deur berge hoër en blouer

as die berge om Jerusalem.

-Lina Spies, Aarde na firmament. Naledi, 2022

KOMMUNIKASIE NUUSFLITS

Ons is tans besig om ons kommunikasiekanale te verbeter. Hou julle e-pos en

SMS-boodskappe dop vir die nuutste gemeentenuus, aangesien ons

nie gereelde WhatsApp-boodskappe kan uitstuur nie.

Erediens Inligting

erediens inligting

SONDAG 19 JULIE 2026

09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Die Teenwoordige... (Johannes 6:16 - 21). Tydens dié diens word die doop aan Eilidt, dogtertjie van Donovan en Tina Foxcroft en kleinsus van Milan, bedien.

Eidith 276

Musiek: Betsie Schaap.

GEEN Kinderbediening as gevolg van die skoolvakansie. ● Kuier en verversings op die stoep.

GEEN aanddiens as gevolg van die skoolvakansie.

SONDAG 26 JULIE 2026

09:00: Erediens met Nagmaal in kerkgebou o.l.v. ds. Bernice.

Musiek: Friena Maritz.

Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.

18:00: Erediens met Nagmaal in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.

GEE OM

Ons stel altyd belang in al ons gemeentevriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus / prestasies wat julle graag met ons as gemeentevriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef.

Die vreugde en die hartseer kan deel!

gee om

Ons Dink Aan

Soutie Janse van Rensburg wat na twee hartaanvalle ontslaan is en tuis aansterk.

Jenny-Marie Laubscher en gesin met die afsterwe van pa en oupa Gerrit Lombard.

Sy gedenkdiens het Vrydag om 11:30 in ons erediensruimte plaasgevind.

BELANGRIK

In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.

Gemeentevriende verjaar. Baie geluk!

Sondag 19 Julie: Sidney Cousins en Linda Monni.

Verjaarsdae res van die week: Saterdag 18 Julie: Erika Sutton. 20 Julie: Lizané Steenkamp. 21 Julie: Willie Cilliers, Gerda Gouws en Bambie Heiberg. 22 Julie: Annie Liebenberg en Roza Pretorius. 23 Julie: Noah Hugo. 24 Julie: Reneé Groenewald.

Ek is Nuut

Ek is nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

WELKOM

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk.

(Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)

Voed Jou Gemoed

Voed jou gEMOED

Bybelstudie: Woensdag, 22 Julie om 09:00 saam met ds. Bernice in die kinderkamer. Ons sien uit om almal weer na die vakansie te verwelkom.

Erediens: Huis Piek Woensdag, 22 Julie om 10:30.

Sitting in each other’s Silence 130 - Looking Through. Klik hier. Dankie, François.

Weeklikse oordenking: Ons keuses vorm ons. Klik hier. Dankie Pieter.

Huisgeloof: Storms. Romeine 8, Jesaja 44. Klik hier.

Kinderbediening

Gemeente Geleenthede

gemeentegeleenthede

ONS 'WIMBLETON FINAAL-KUIER' SONDAG 12 JULIE

Na afloop van die erediens het ons gemeentevriende heerlik gekuier (voor die mansfinaal afgeslaan het!) met die smaaklikste aarbeie, roomys en vonkelwyn!

Ons gemeente maak mos van elke geleentheid regtig ’n KUIER-GELEENTHEID

WIMBLEDON 500

ZERWICKS 500

WYNPROE & KUIER - 24 JULIE - 17:30 VIR 18:15

Ons nooi julle hartlik uit na die geleentheid met Saronsberg se uitsonderlike wyne en die beeldhouer-kunstenaar Angus Taylor. Saronsberg se twee nuutste wyne word tydens die geleentheid AMPTELIK bekendgestel.

Voorwaar iets om na uit te sien!

SARONSBERG 500

Kostes

R400 per persoon

R3 200 per tafel van 8

R4 800 per tafel van 12

Dit sluit Mediterreense vingerhappies, ‘n keur van soppe en varsgebakte broodrolletjies, asook ‘n soethappie in. Die perfekte spyskaart vir 'n gesellige wintersaand.

Daar is reeds ’n groot aantal sitplekke ‘bespreek’. Ons het ongeveer 50 leë sitplekke oor! Ons het spesiaal voorsiening gemaak vir Kinderoppasdiens.

📞 Bespreek deur die kerkkantoor of stuur 'n WhatsApp na 083 442 9557.

GEMEENTEKAMP (9-11 OKTOBER)

Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

Gemeentkamp430

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba

Voetspore

VOETSPORE

VLUGTELINGKRISIS

Tydens die onlangse vlugtelingkrisis vanaf 2 Julie het ons gemeente ingespring om hand by te sit met hulpverlening aan die immigrante wat noodgedwonge die land moet verlaat.Tot en met Dinsdagoggend (7 Julie) kon Waterkloof en Groenkloof gemeentes in samehang met die groter gemeenskap meer as 600 maaltye aan volwassenes en kinders voorsien.

Met behulp van ons alimentasiefonds (soos jaarliks begroot) asook spesiale bydraes van lidmate was dit moontlik om sop, broodjies, vars vrugte, komberse, doeke en ander sanitêre produkte aan ontwortelde mense te voorsien.

Ons opregte dank aan elke lidmaat wat deur middel van bydraes en skenkings so in die groter gemeenskap ’n verskil maak. Dankie, ook aan al die kerkraadslede en hul gesinne wat sommer op kort kennisgewing gehelp het om etes te bedien by die onderskeie ambassades. Dit is gewoon ’n voorreg om deel van so ’n OMGEE gemeente te wees.

Huis Piek was op kort kennisgewing beskikbaar om die gemeente by te staan met die voorbereiding van kos. Kerkbode berig as volg:

Huis Piek se Inwoners Wys Liefde met Grondboontjiebotter en Konfyt

Greta van Rensburg, bestuurder by Huis Piek in Pretoria, skryf:

In samewerking met die NG Kerk Waterkloof het ’n paar inwoners op kort kennisgewing saamgekom om toebroodjies vir die ongedokumenteerde werkers te maak wat tans by die ambassades wag vir busse om uit Suid-Afrika uit te kom. ’n Mens kon sien: vir sommige was dit dalk die eerste keer in maande dat hulle broodjies moes smeer, vir ander ’n japtraptaak, maar elke toebroodjie is met dieselfde gesindheid gemaak: om liefde op ’n praktiese manier uit te leef.

vlugtelingkrisis450

So ’n vreugde … die stories wat om die tafel gedeel is en die wete dat elkeen van ons steeds ’n bydrae kan lewer. Diensbaarheid het nie ’n ouderdomsperk nie.

Ons leef in ’n tyd waar ouer mense dikwels gedefinieer word deur wat hulle nie meer kan doen nie. Vandag is ons herinner dat ons elkeen steeds ongelooflik baie hét om te gee: tyd, wysheid, deernis, gebed en liefde wat in eenvoudige dade gestalte kry. Spontaan kom die lied uit Lukas 22:19, van Piet Smit by ons op: “U het die brood gebreek … Breek tans die lewensbrood vir my ook, Heer.”

Vir ons inwoners was dit ’n bevestiging dat hulle steeds deel is van God se werk in die wyer wêreld. Wanneer die kerk en ’n tehuis soos Huis Piek só saamwerk, gebeur iets besonders: bejaardes word nie net versorg nie, hulle kry weer die geleentheid om self te dien.

En dalk is dit die mooiste boodskap van alles: God gebruik gewillige hande, of die hande nou jonk is, of ouer. Sy werk gebeur selfs deur iets so eenvoudig soos ’n toebroodjie wat met liefde gemaak is.

Kerkbode / 8 Julie 2026 / Briewe / Gesels saam

PEAS IN A POD

Verjaarsdagbederfies vir die meisies ...

Deur die loop van die jaar het ons elke meisie in die PEAS-huis se verjaarsdag spesiaal gemaak en die hartjie warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ‘n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur.

koeke450

Baie dankie aan dié wat gedurende Junie en Julie ’n meisiehart warm laat klop het! Ons waardeer julle moeite! Hierdie relatief klein gebaar verskaf soveel vreugde. Die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig, kan geen geld ter wêreld koop nie!

peas koek280

Die volgende meisies benodig nog weldoeners. Pindhile Mahlangu verjaar die 4de Augustus en Omphile Matsemelo die 13de Augustus.

Indien jy graag ’n meisie op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye wil bederf, skakel gerus Ds. Bernice, Ds. Dewald of die kantoor.

PEN - WINTERHOOP

GEE HOOP / GEE WARMTE

winterhoop200

Baie dankie aan almal wat die Winterhoop-trollie tot dusver so ruimskoots “gevoer” het. Dit het reeds die nood van vele behoeftiges verlig!

Die koue kloue van die Winter gryp nou met mening vas. Daarom neem ons die vrymoedigheid om die WinterHoop-trollie by die ingang van die kerk “geparkeer” te hou vir ingeval daar nog donasies is.

WinterHoop is ’n gemeenskapsuitreik-inisiatief wat daarop gemik is om kwesbare en hawelose mense gedurende die wintermaande te ondersteun. Deur middel van hierdie veldtog word noodsaaklike winterbenodigdhede soos komberse, slaapsakke, warm klere, kospakkies en higiënepakkies ingesamel en versprei. Daar word ook bewusmaking rondom haweloosheid geskep, en waar moontlik word mense in nood met gespesialiseerde ondersteuningsdienste verbind.

Die inisiatief bring kerke, besighede, skole en gemeenskapslede saam om ’n betekenisvolle verskil te maak in die lewens van mense wat gedurende die koue wintermaande swaarkry.

Indien u graag wil bydra, kan u enige van die genoemde items in die WinterHoop-trollie plaas. Elke kombers, elke kledingstuk en elke kospakkie bring nie net fisiese warmte nie, maar ook hoop en menswaardigheid aan iemand wat dit broodnodig het.

Items benodig. (Klik hier)

Sinodenuus

Sinode

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE

Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil".(Klik hier)

Gemeente Besonderhede

Gemeentebesonderhede

KONTAKBESONDERHEDE

Leraars

Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected] / Sel: 083 417 5133

Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817

Kantoorpersoneel

kantoor35

Maryke Meter * E-pos: [email protected]

Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]

Jabu Mtau * Koster: 064 700 7004

Kontak Ons

Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557

BELANGRIK

Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang

Landlyn: 012 460 3913

Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.

(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)

Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075

GPS – KOöRDINATE:

Lat. -25º 46 31.95

Decimal: -25.775542211330446

Long. 28º 13 55.45

Decimal: 28.232068419456482

map

Bank
Back to Blog