NGK Waterkloof

GEMEENTEBRIEF 16-23 OKTOBER

October 16, 2026•11 min read
Custom HTML/CSS/JAVASCRIPT

GEMEENTEBRIEF 16-23 OKTOBER 2026

Koper ligte 150

Gedagte Vir Die Week

GEDAGTE

Liewe gemeentevriend,

Saam

In ’n Kunsmatige Intelligensie-gedrewe tyd leef ons mekaar maklik mis. Die historikus en filosoof Yuval Noah Harari waarsku dat alhoewel kunsmatige intelligensie menslike intimiteit en emosionele interaksie kan naboots, dit in wese nie ware menslike verbintenis, samewerking en 'n gedeelde werklikheid kan vervang nie. Hy wys veral op die sielkundige risiko’s van ’n wêreld waarin “kinders meer vertroue in kunsmatige intelligensie stel as in familie of vriende en kunsmatige intelligensie as hul beste vriend beskou.” Gevolglik word hul begrip van menslike verhoudings toenemend deur interaksie met sagteware vorm. Tog het jy heel waarskynlik self al die waarde van kunsmatige intelligensie beleef. Die realiteit is: masjiene kan data verwerk, maar hulle kan nie egte empatie, opoffering of die vreugde van saamwees bied nie.

Ons kan daaraan dink as ’n koinonia armoede. Koinonia, die Griekse begrip in die Nuwe Testament vir gemeenskap, eenheid, onderlinge afhanklikheid, die aan-mekaar-behoort-en-mekaar-nodig-hê waardeur God ons inbind as deel van alle lewe – en waartoe God ons roep, is ryker en voller as wat ons miskien mag meen. Die teologiese vertrekpunt van koinonia is dat ons verbondenheid aan mekaar nie by onsself begin nie, maar by God. Dit is God se liefdevolle verbintenis aan mense wat die grondslag vorm van ons verbondenheid aan mekaar.

kampers600

Die afgelope naweek het 56 Waterklowers saam weggebreek vir ons gemeentekamp - 34 volwassenes en 22 kinders. Die jongste 1 jaar oud, die oudste 78 jaar oud. In die Bosveld het ons saam geëet, saam gekuier, saam gelag, saam gehuil en saam nagedink oor wat dit beteken om as families intensioneel teenwoordig te wees — ín mekaar se lewens en ín die wêreld waarvan ons deel is.

Daar is iets besonders daaraan om saam met ander mense tyd en ruimte te deel. Ons ontdek dit elke keer wanneer ons rondom ’n tafel kuier, in ’n kerkbank langs mekaar sit of selfs net oor ’n koppie koffie gesels. Dit is juis hierdie geskenk van koinonia wat die Here ons gee en wat ons week na week met ons saamdra.

Terwyl ek hier skryf, kyk ek weer na die foto wat geneem is net voordat ons huiswaarts gekeer het. Ek dink ek verstaan iets van Psalm 133 se beginwoorde: “Kyk hoe goed, hoe mooi is dit ...” Soveel te meer omdat die digter van Psalm 133 sy vergrootglas op verhoudings tussen mense sit.

Dink net hoe goed, hoe mooi hierdie wêreld kan wees as iets van ons verbondenheid aan God en ons verbintenis aan mekaar veral in die alledaagse gestalte kry!

Liefde, Bernice.

Erediens Inligting

EREDIENS

SONDAG 18 OKTOBER

09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Aan My behoort jy. (Jesaja 43:1 – 7)

Roetemerker vir ons Gr. 12 lidmate.

Musiek: Friena Maritz (orrel) en Johanna Roos ( viool).

Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.

18:00: Geen Erediens a.g.v. die Sinodesitting.

Ds. Bernice saam met ’n aantal kerkraadslede verteenwoordig ons gemeente tydens die laaste oggend-erediens van NG Groenkloof.

SONDAG 25 OKTOBER

HERVORMINGSONDAG EN EENWORDINGSFEES

Die tyd vir eenwording het uiteindelik aangebreek en ons is opgewonde oor die nuwe seisoen wat voorlê. NG Kerk Groenkloof ontbind en word by NG Kerk Waterkloof ingelyf. Ons sien daarna uit om die Groenklowers in ons midde te verwelkom! Almal word hartlik uitgenooi na die Eenwordingsfeesdiens op 25 Oktober om 09:00 in ons erediensruimte.

09:00 Erediens met Nagmaal in kerkgebou o.l.v. Prof. Malan Nel.

Musiek: Friena Maritz.

Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.

18:00: Erediens met Nagmaal in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.

Gemeente Geleenthede

Gemeentegeleenthede

WAATLEMOEN-KUIER SONDAG 11 OKTOBER

waatlemoen350

Sondag, 11 Oktober was ’n perfekte Somersoggend en absoluut gepas vir ons jaarlikse waatlemoen-kuier. Gemeentevriende het na die erediens heerlik saam met ds. André en Janetta gekuier en ter selfdertyd ook gesmul aan soet waatlemoenstukke! Baie dankie aan al die flukse helpers – Brian en Rina Edwards en Gerda Groenewald.

waatlemoenkuier 500

waatlemoen en roomys
Waatlemoen en roomys - wenkombinasie!

GEMEENTEKAMP KLEIN KARIBA

Dié kamp waarna ons so lank uitgesien het, was elke minuut se wag werd. Die plan vir die naweek was eintlik baie eenvoudig: kuier lekker, leer jou gemeentevriende beter ken en rus behoorlik! En dis presies hoe dinge verloop het!

Met ons aankoms is ons sommer dadelik deur die bosveldatmosfeer en ongerepte natuur omarm. Ds. Bernice en ds. Dewald het ons ingewag met ’n bederfpakkie en die program vir die naweek.

Klein Kariba 500

Vrydagaand het ons afgeskop met ’n bou-jou-eie-hamburger-ete, waarna die jongklomp die malvalekkerbraai vreeslik geniet het!

Nico en maters

Bosveld collage1 500

kuierplek500

Saterdag was voorwaar ’n luilekkerdag. Terwyl die naguile nog ’n bietjie ingelê het, het die vroeë voëltjies die omgewing gaan verken. Met ’n heerlike koppie boeretroos in die hand het die grootmense aan Kampaktueel deelgeneem, terwyl die kinders hulself met spesiaal beplande aktiwiteite besig gehou het. Daarna het almal hulle verlustig aan die stewige 'brunch'.

Sulene Jeanne Mardolene

kids jol500

kids500

Ons het ook ’n baie oulike verwerking van bingo gespeel, genaamd Waterkloof-bingo – interessant én groot pret! Die swembaddens en ander fasiliteite is behoorlik benut, veral deur die jongelinge.

Saterdagaand het ons heerlik om die vure gekuier met ’n bring-en-braai, en Sondagoggend, ná ’n kamperediens onder die koeltebome, het almal rustig die pad huis toe aangepak – met volgelaaide batterye en die vrede van die bosveld in hul harte.

Bernice familie

manne braai500

braai zerwick en 500

thea elke collage500

zerwicks en hannatjie500

kerk onder die bome 500

johan le roux300
ons eie 'muso'

Wat ’n besonderse naweek! ’n Groot handeklap vir Wouter en Thea de Vos, wat die kamp georganiseer het, en die res van die span wat dit so ’n lekker en geslaagde naweek gemaak het. Volgende jaar maak ons beslis weer so!

HERVORMINGSONDAG EN EENWORDINGSFEES - 25 OKTOBER

’n Dag van dankbaarheid en eenheid

Hoe gepas dat ons juis op Hervormingsondag bymekaar kom om die eenwording van twee gemeentes te vier! Op hierdie dag gedenk ons Martin Luther, wat in 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg aangebring het en daarmee ’n beweging aan die gang gesit het wat die kerkgeskiedenis ingrypend verander het. Luther het mense opnuut herinner aan die kern van die evangelie: God werk net met genade!

Soos die Hervorming ’n nuwe hoofstuk in die kerkgeskiedenis ingelui het, begin ons vandag saam aan ’n nuwe hoofstuk in ons gemeentegeskiedenis skryf. Ons eenwording is meer as die saamvoeging van twee gemeentes; dit is ’n geleentheid om saam te groei, saam te dien en saam ’n verskil te maak.

Mag hierdie dag ’n besondere plek in die geskiedenis van ons gemeente inneem – as ’n dag van dankbaarheid vir die pad wat ons reeds gestap het, hoop vir die pad vorentoe en vertroue op God wat ons saam lei. Mag ons as een gemeente, met geloof en liefde, saam voortbou aan God se koninkryk.

Eenwordingsfees400

En dan vier ons hierdie besonderse dag natuurlik behoorlik – met koek, sjampanje en, vir dié wat wil, ’n bekertjie bier! (Met dank aan Martin Luther en sy volgelinge, wat ’n rol gespeel het in die bevordering van bierbrouery tydens die Hervorming – ’n gepaste heildronk op ’n geskiedkundige dag!)

DIE ANDER HERVORMING: BETER BIER!

Maarten Luther het nie net sterk bygedra tot die Protestantse Kerkhervorming nie, maar ook die manier waarop Europeërs geleef, geveg, aanbid, gewerk en kuns geskep het. Ja, ook hoe hulle geëet en gedrink het. Onder andere is 'n drankie wat oor die hele wêreld en veral in Luther se geboorteland, Duitsland, geliefd was beïnvloed: bier!

Die verandering in bier produksie is bewerk deur die liggroen keëlvormige blom van ’n meerjarige rankplant – Hop (Humulus lupulus).

In die 16-de eeu het die Roomse Kerk 'n wurggreep op bier produksie gehad, aangesien dit die monopolie op die mengsel van kruie en plantaardige produkte gehad het wat gebruik is om bier te geur en te preserveer. Hop is egter nie belas nie.

Elke “Kraft” bierbrouery vandag is dank verskuldig aan Luther en sy volgelinge vir die bevordering van die gebruik van hops as 'n daad van rebellie teen die magsvergrype van die destydse Roomse Kerk.

ONS JAARLIKSE WYNVEILING

Ons spoggeleentheid, die jaarlikse wynveiling in samewerking met die Agter-Paarl-gemeente, vind vanjaar op ’n SATERDAGAAND by die Pretoria Buiteklub plaas. Sit solank 28 November ‘OP YS’ en skud die vere reg vir ’n genotvolle aand saam met vriende – heerlike kos, goeie wyn en hope pret!

Wynveiling 400

BESPREEK NOU REEDS JOU PLEK

Die kaartjieprys sluit in:
Verwelkomingsdrankie
Driegangmaaltyd
Tafelwyne & kelnerfooie

SAAM MAAK ONS ’N VERSKIL

Die opbrengs van hierdie jaarlikse fondsinsamelingsgeleentheid word aangewend ter ondersteuning van die bedieninge van die onderskeie gemeentes.

Ons Gee Om

Ons gee om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

gee om 500

Ons Dink Aan

Zahndrie en Vernon Harms wie se seuntjie Michael, prematuur gebore is. Hy moes reeds ’n operasie ondergaan en is steeds in ICU. Ons dink aan julle almal en bid vir klein Michael.

Marike le Roux wie se pa Philip Vogel ernstige gesondheidsprobleme ervaar en steeds in Groenkloof Life (NICU) is.

Louise Prinsen wie se ma, Rina Boshoff, op Maandag, 5 Oktober oorlede is. Ons dink ook aan die res van die familie in hierdie hartseertyd.

Hantie Weitz wat ‘n voetoperasie ondergaan het en tans tuis aansterk.

Soné Mokken wat tans kankerbehandeling ondergaan.

Bennie en Marisca van Niekerk. Bennie se pa, Ben van Niekerk is onlangs gediagnoseer met aggressiewe leukemia en beenmurgkanker.

BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.

Gemeentevriende verjaar! Veels Geluk!

VERJAARSDAGKOEK 200

Verjaarsdae op Sondag 18 Oktober: Jan Greyling en Jean Janse van Rensburg.

Verjaarsdae vir die res van die week: Saterdag: 17 Oktober: Charl Bekker. 19 Oktober: Amelia de Jesus en Alto du Toit. 20 Oktober: Tiaan van Diemen. 21 Oktober: Stephan Barac, Romy Swart, Carel van der Merwe (in Holland) en Roan van Rooyen. 22 Oktober: Suzanne Roode, Leon Taljaard en Freyah Wilken. 23 Oktober: Henning le Grange, Louis Nel, Rian Nell, Beau van Zyl en Douw Verhoef.

Ek is Nuut

Ek is nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

welkom500

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)

Voed Jou Gemoed

Voed jou gEMOED

GEEN Bybelstudie a.g.v. die Sinodesitting.

Erediens: Huis Piek op 21 Oktober om 10:30.

Sit in Mekaar se Stilte 17: Wees Stil en Weet, Ek is die Heer. Dankie, François. (Klik hier)

Weeklikse oordenking hervat weer na 22 Oktober.

Huisgeloof:Lees die verhaal van Jona. (Klik hier)

Gemeente en Gemeenskapsnuus

GEMEENTE EN GEMEENSKAP

NOORDELIKE SINODESITTING 2026

SINODESITTING 500

Ds. Bernice, ds. Dewald en Johan Toerien is afgevaardig om ons gemeente hierdie jaar by die Noordelike Sinodesitting (te Weesgerus) te verteenwoordig. Dankie aan julle drie!

CORAM DEO AANLYNWERKSWINKEL

Hoe beweeg ons deur lyding, vergifnis en onvoltooide verhale na nuwe hoop?

Sluit by Coram Deo aan vir ’n betekenisvolle aanlynwerkswinkel oor pastorale narratiewe praktyk en die rol van teologie in die verwerking van gewonde verhale.

Aanlynwerkswinkel: 30 Oktober: 14:00 tot 17:00 & 31 Oktober: 09:00 – 12:00

Kom ontdek hoe ons deur teologiese nadenke en pastorale praktyk kan beweeg van gewonde verhale na hoop en nuwe moontlikhede.

Indien jy vir hierdie werkswinkel wil bespreek of meer hieroor wil weet, klik op die relevante skakel.

Bespreking: (Kik hier) Inligting: (Klik hier)

Kontaknommer vir enige navrae: 076 135 7367

UNIVERSITEITSOORD

Inskrywings vir NG Universiteitsoord se Eerstejaarskamp 2027 maak op 1 Oktober oop.

Universiteitsoord deel graag hulle opgewondenheid met gemeentes regoor die land oor die eerstejaarskamp, omdat hulle glo elke eerstejaar wat Pretoria toe kom, hierdie kamp moet ervaar!

Die Eerstejaarskamp is nie net ’n plek waar nuwe vriendskappe gevorm word nie, maar waar jy ook onvergeetlike herinneringe gaan maak en mede-eerstejaars ontmoet wat saam met jou hierdie nuwe hoofstuk van jou lewe gaan aanpak. (Klik hier)

Universiteitsoord 500

Sinodenuus

SINODE

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE

Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die Verskil. (Klik hier)

Gemeente Besonderhede

Gemeentebesonderhede

KONTAKBESONDERHEDE

Leraars

Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]

Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817

Kantoorpersoneel

Maryke Meter * E-pos: [email protected]

Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]

Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)

Kontak Ons

Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557

BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang.

Landlyn: 012 460 3913

Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.

(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)

Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075

Bankbesonderhede: NG Kerk Waterkloof

ABSA

Rekeningnommer: 1500580077

Verwysing: Voorletter, Van, Geleentheid

GPS – KOöRDINATE:

Breedtegraad (Lat.) -25º 46 31.95

Breedtegraad in desimale formaat: -25.775542211330446

Lengtegraad. 28º 13 55.45

Lengtegraad in desimale formaat: 28.232068419456482

kaart 800

Kerkkantoor500

Back to Blog