
GEMEENTEBRIEF 18-24 APRIL 2026
GEMEENTEBRIEF 18-24 APRIL 2026
Ons Voetspore In Die Gemeenskap
Gedagte Vir Die Week
Liewe gemeentevriend,
Gedagte vir die Week: Paasviering as passiewe protes
Agtuur Sondagoggend. Ek moet kies: kerk of werk? Die studente se werkstukke verder nasien, of eerder kerk toe gaan? Skape dip of in die bakkie klim en kerk toe gaan? Die gesit en gesing en gebid in die erediens is tog net tydmors. Ek kan my Sondag sekerlik baie produktiewer inrig.
Die feit bly staan, kerk toe gaan ís inderdaad tydmors. Ons kán ongetwyfeld produktief wees deur te doen wat ons die res van die week ook doen. Aanlyn eredienste is natuurlik in hierdie verband wonderlik, want ek kan strykwerk doen en terselfdertyd kerk toe gaan, of ten minste al daardie gebid en gesing fast forward en, terwyl ek na die preek luister, aan Maandag se notule werk. So watter sin het die kerktoeganery?
Die eerste drie gebooie in Eksodus 20 gaan oor kerk toe gaan. Oftewel, oor aanbidding. Gebod een, twee en drie gaan oor wie ons moet aanbid en hoe ons dit behoort te doen. Dan skep gebod vier die ruimte waarbinne die aanbidding gedoen kan word: Hou op werk, net vir een dag.
Hierdie oproep tot nie werk nie, tot "leeglê", is onverstaanbaar in ’n era van radikale vorme van kapitalisme en ekstreme verbruikerisme. Ondenkbaar die gesit en gesing en gepreek terwyl daar dringend oplossings gevind moet word vir armoede en werkloosheid. Onverstaanbaar is die tydmorsery op ’n Sondag wanneer Moeder Aarde onder ontsaglike druk is en ons die tyd kan gebruik om oplossings vir ekologiese krisis te vind.
Iets wat kan help met die oplossings in ons tyd, oplossings vir die meeste van die uitdagings wat hier genoem word, is gesetel in die kerk toe gaan, in heilige tydmors. Soms moet die pas net ’n raps markeer word. Net ’n komma in die paragrawe van ’n besige lewe ingebou word. Natuurlik is ons bedrywighede en die gejaag verstaanbaar in ’n uitdagende finansiële klimaat. Werk is goed en nodig. Tog, ironies genoeg, is deel van die oplossing van sommige van ons probleme juis gesetel in tydmors, maar ’n spesifieke soort tydmors, te wete, ’n rusdag en kerk toe gaan.
Sommige mense wat hier lees, beskou hulleself nie as aktiviste wat sommer met plakkate aan ’n optog gaan deelneem terwyl hulle opruiende liedere ter ondersteuning van ’n belangrike kwessie sing nie. Wel, diegene wat nie op Sondae werk nie; mense wat ’n Sondag anders inrig as ’n Donderdag; daardie mense wat Sondae die pas van gejaagdheid en produksie en funksionaliteit, van meer is altyd beter, markeer, wat nie net aanhou werk nie en vir ongeveer ’n uur onbetaalde verlof neem; hierdie kerkgangers ís, deur dit te doen of hulle dit wil weet of nie, radikale anti-establishment aktiviste en protesteerders wat met hul tydmorsende optrede ’n baie helder boodskap die wêreld instuur.
Deur ’n periode van 24 uur se nie-werk-nie met bid en sing en bely te kombineer, boetseer mense daardie tyd en vorm so ’n spesifieke soort tyd wat radikaal anders is as die ander 6 x 24 uur van elke week. En dit sit haaks op ons samelewing. Mense wat dít op Sondae doen ís dwars en laat God toe om hul lewe te rig en vir die wêreld te wys dinge kan ook anders gedoen word. Ja, nie werk nie en kerk toe gaan op ’n Sondag wys juis dat wanneer ons tydens die ander ses dae bedrywig is, dit wat ons doen op ’n goddelike wyse gedoen kan word. Deur nie-funksionele kerk toe gaan ontwikkel ’n gesindheid wat die aarde nie as ’n kommoditeit hanteer en verrinneweer nie. Mense wat Sondae só tyd mors, héilig in hierdie skepping die Sondag, die dag van die opstanding.
Die Christelike Sondag se wortels lê in Paasfees, die fees waar lewe uit die dood verrys. Elke Sondag is ’n Paasfees; dus nie die sewende dag nie, maar die agste dag, oftewel, die eerste dag van die nuwe, die dag van lewe uit die dood, van moontlikheid, van herskepping. En al die Sondae van die jaar kring vanaf Paasfees uit.
Om só in hierdie skepping die God van skepping en herskepping te aanbid, laat die tydmorsers anders kyk na die aarde waarop hulle tydelik woon. Hierdie soort passiwiteit wat geanker is in Pase is broodnodige protes in ons tyd en deelname aan God se herskeppende handelinge!
Cas Wepener. Uit sy bundel, “Die Heiligheid van hier”, 2024.
SONDAG 19 APRIL 2026
09:00 Erediens in kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Die grammatika van liefhê. (Johannes 13:31-35)
Tydens die erediens luister ons ook graag na Afrikaans Hoër Seunskoolkoor (Affiekoor). Klik gerus op die skakel om ’n voorsmakie te kry van hierdie groep, van min of meer ’n honderd seunstemme, se besonderse talent. "Ere aan U in die Hoogste". YouTube video: skakel
Musiek: Betsie Schaap
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. 'n Bly lewe! (1 Pet. 1:3-9). Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
SONDAG 26 APRIL 2026
09:00 Erediens in kerkgebou o.l.v. ds. Bernice.
Musiek: Betsie Schaap
Geen Kinderbediening as gevolg van die langnaweek ● Kuier en verversings op die stoep
18:00: Geen aanddiens a.g.v. die langnaweek.
Ons Gee Om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!
Ons Dink Aan
Leonie Nortje se broer, Gerrit, wat tans in ICU is na ’n viervoudige hartomleiding.
Willie en Martie Oosthuizen met die skielike afsterwe van hul seun, Wim op 4 April. ’n Dankdiens vir sy lewe is Vrydag, 17 April in ons erediensruimte gehou.
Stefan en Marietjie Nell wie se kleindogter, Klara op 4 Mei ’n operasie ondergaan.
Danie, Jenny, David, Daniel en Zea de Villiers. Danie ervaar by die dag groter uitdagings wat sy gesondheid betref. Ons hou Danie en hulle as gesin in ons gebede.
BELANGRIK
In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Veels Geluk!

Verjaarsdae op Sondag 19 April: Jayde Mokken.
Verjaarsdae vir die week: Saterdag, 18 April: Graham Esterhuysen en Soné Mokken. 20 April: Zahndri Harms en Johan Toerien (jr.jr.). 21 April: Larissa Coetzee en Madeli Wessels. 22 April: Bernhard Köster, Estelle van der Merwe en Herman Vorster. 23 April: Ruben de Graaf, Ezette du Plessis, Sybrand Grobbelaar en Jacques Sutton. 24 April: Nicola Smit (nées Immelman), Roelof van der Merwe en Salomé van Diemen.
Veels Geluk ook aan
Loraine van Zyl en Francois Barnard met hulle verlowing op 6 April. Ons is saam met julle opgewonde oor die nuwe hoofstuk wat voorlê. Mag dit die begin wees van ’n lang en opwindende lewe saam.
imageEk is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Woensdag, 22 April om 09:00 in die saal.
Erediens: Woensdag, 22 April om 10:30 by Huis Piek.
Sit in Mekaar se Stilte 205: Die Sagtheid van die Tussentyd. Dankie, François.(klik hier)
Weeklikse oordenking: Gebed skep ’n veilige ruimte vir heelword (5). Dankie, ds. Pieter Oosthuizen. (klik hier)
Huisgeloof: (Klik hier)
Gemeente Geleenthede
ONS JAARLIKSE WYNVEILING
Die wynVEILING vind hierdie jaar op ’n SATERDAG plaas!! Dis ’n eerste! Hierdie veiling vorm ‘n integrale deel van ons gemeente-kalender en is nie net ’n fondsinsamelings-" geleentheid nie.
Op SATERAG, 28 November gaan gemeentevriende, hulle vriende en hulle vriende se vriende almal lekker saam eet, kuier en op wonderlike wyne bie by Pretoria Buiteklub.
Hierdie wynveiling, behalwe dat dit een van ons lekkerste kuiers van die jaar is, se primêre doel is om positiewe bydraes tot beide gemeentes Waterkloof en Agter-Paarl en hulle onderskeie gemeenskappe te lewer.
Gemeente en Gemeenskapsnuus
HUIS PIEK BRAAI
Die braai op Vrydag, 10 April by Huis Piek het my op ’n wyse geraak wat ek nie verwag het nie. ’n Mens arriveer met die eenvoudige verwagting van ’n vrolike saamkuier, maar wat daar ontvou het, was iets veel dieper en meer betekenisvol.
In die oë van die inwoners van Huis Piek was daar ’n opregte dankbaarheid en vreugde wat moeilik in woorde vasgevang kan word. Dit was nie net ’n braai nie — dit was ’n oomblik van erkenning, van menswees, van saamwees. Die warmte waarmee ons ontvang is deur elke inwoner en lid van die bestuur, sal my lank bybly.
Waterkloof Gemeente vermag met hierdie daad iets besonders: om lig en blydskap te bring waar dit werklik saak maak.
Dit is my opregte hoop dat hierdie jaarlikse instelling, ’n hoogtepunt-geleentheid vir die inwoners van Huis Piek, sal by voortleef! (Johan Toerien.)

Ons Voetspore In Die Gemeenskap
PEAS IN A POD
Dr. Louise Prinsen verryk die meisies se lewens met ’n verskeidenheid temas en aktiwiteite gemik op die ontwikkeling van die lewensvaardighede van dié jong meisies. Hulle is tans besig met tydsbestuur waarna sy motivering en studiemetodes met hulle gaan deurwerk.
Volgens Louise het navorsing bewys dat daar ’n positiewe korrelasie tussen goeie tydsbestuur en akademiese resultate is.
Louise verwoord dit soos volg: “Goeie tydsbestuur behels tydsbesef, indeling van tyd en vooruit beplanning van aktiwiteite. Effektiewe tydsbestuur verminder stress, verhoog produktiwiteit en verbeter organisasie van inligting. Dit skep ’n balans tussen studies en ander aktiwiteite.”
Die dogters by Peas in a Pod besit nie horlosies nie. Louise het hulle reeds gehelp met die opstel van jaarbeplanners - alle toetse, eksamens en aktiwiteite is neergeskryf om hulle dan in staat te stel om stuksgewys te beplan.
Louise het muurhorlosies aangevra wat sy op 3 plekke teen die mure in die huis laat opsit het sodat die meisies kan beplan aan die tydsduur van gebeure en aktiwiteite. Ter selfde tyd het sy die meisies geleer om die tyd korrek te lees. Selfs sommige senior meisies was nie baie gemaklik met die lees van tyd nie. Sy glo dat die resultate van hierdie oefening binnekort sigbaar sal wees.
Die spesiale, mooi dankiebriewe aan ds. Bernice en ds. Dewald was ook ’n lewensles opsig self - dat ’n mens geskenke erken, waardeer en daarvoor dankie sê. Louise, baie dankie vir jou ongelooflike bemoeienis met die meisies. Jy raak elke meisie se lewe op’n besondere wyse aan. Ons waardeer jou betrokkenheid.
VARS NUUS UIT DIE OEKRAìNE
Stefan, Hensie, Nadia, Daniil en Victor van der Merwe, ons sendingfamile (Tannie Engela en Hester Marais se bloedfamilie) in die Odessa, Oekraïne het vir ons ’n skakel gestuur na hulle OM (Operation Mobilization) brief, sodat ons ’n prentjie kan vorm van hoe hulle dag tot dag lewe. In hierdie brief gee hulle ook kortliks terugvoer oor elke lid van die gesin! Lees gerus meer. (Klik hier)
Vir bydraes gebruik die gemeente se bankbesonderhede:
NG Kerk Waterkloof
Absa Brooklyn Mall Takkode: 33-53-45
Lopende rekening 1500 580 077
Merk asseblief u bydrae duidelik: “Oekraïne-fonds”
GSinodenuus
NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil". (Klik hier)
Gemeente Besonderhede
KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster: 064 700 7004
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK
Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482
