
GEMEENTEBRIEF 13 - 19 JUNIE 2026
GEMEENTEBRIEF 13 - 19 JUNIE 2026


Liewe gemeentevriend,
Gedagte vir die Week
Eerskomende Sondag vier ons Biddag vir Jeug en Kategese in NG gemeentes landswyd. Daarmee saam vier ons ook Dinsdag, 16 Junie, Jeugdag.
Daarom, ’n Gebed vir die Kinders van ons Land
Here, ons bid vir die kinders van Suid-Afrika.
Ons probeer staan in die skoene van kinders
… wat siek is – mag ons hulle versorg
… wat honger is – mag ons hulle voed
… wat arm is – mag ons meer vrygewig wees
… wat anders lyk – mag ons hulle aanvaar soos hulle is
… wat nie geleenthede ontvang nie – mag ons ongeregtigheid regstel
… wat bang is – mag ons hulle beskerm
… wat hartseer voel – mag ons hulle troos
… wat eensaam is – mag ons hulle vriende raak
… wat nie ouers het nie – mag ons hulle familie wees
… wat nie in hulself glo nie – mag ons hulle grootste ondersteuners wees
… wat dink hulle het nie ‘n stem nie – mag ons regtig na hulle luister
… wat hopeloos voel – mag ons hulle raaksien

Here, mag ons in die skoene staan van die kinders om ons as ons vir hulle bid vandag.
Mag ons elke kind se drome aanmoedig, en elkeen die vryheid gee om te groei.
Mag hulle idees en kreatiwiteit ons inspireer om die wêreld ‘n beter plek te maak.
Mag ons kinders se geloof en wysheid erken en by hulle leer.
En Here, help ons om elke kind te omarm met Jesus se liefde.
Amen
Anriëtte de Ridder
Ds. Anriëtte de Ridder is predikant in sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening in die Wes-Kaapse Sinode.
KOMMUNIKASIE NUUSFLITS
Ons is tans besig om ons kommunikasiekanale te verbeter. Hou julle e-pos en
SMS-boodskappe dop vir die nuutste gemeentenuus, aangesien ons
nie gereelde WhatsApp-boodskappe kan uitstuur nie.
Erediens Inligting

BELANGRIK: Anders as in die almanak aangedui is daar vanaf 7 Junie tot 19 Julie nie meer aanddienste nie a.g.v. die wintereksamen en skoolvakansie. Die aanddienste met Tiener- en Verbintenisgroepe hervat weer op Sondag 26 Julie.
SONDAG 14 JUNIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Andrè van Niekerk. “Tweedaaglikse vrae om ons en ons kinders se bewuswording aan God se één werklikheid te verdiep" (Johannes 1:1-3; Johannes 3:16-21). Tydens dié diens word die doop aan Henk en Lilani Potgieter se dogtertjie, Loe bedien. Loe is die kleindogter van die trotse oupa en ouma, Louis en Louise Prinsen.

Musiek: Friena Maritz.
Geen Kinderbediening as gevolg die langnaweek ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Geen aanddiens as gevolg van die eksamen.
SONDAG 21 JUNIE 2026
VADERSDAG
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.
Musiek: Betsie Schaap.
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep
18:00: Geen aanddiens as gevolg van die eksamen.

Mardolene (van Hoven), baie dankie dat jy jou en Pierre se wedervaringe in Nederland met ons gedeel het! Ons wens vir Pierre voorspoed toe met die studies en glo dat hy ongelooflike ervarings gaan beleef! Gemeentevriende, laat ons groot asseblief weet, indien daar nuus is wat julle met ons wil deel!
Ons stel altyd belang in al ons gemeentevriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure/ervarings/nuus wat julle graag met ons as gemeentevriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

Ons Dink Aan
Brian Edwards wie se moeder, Sue Roux op 11 Junie oorlede is. Ons dink aan die familie in die moeilike tyd.
Peter Allison, eggenoot van Esther Allison, pa van Pauline Coetzee wat baie siek is. Hy is tans in ICU in Zuid Afrikaans.
Erna Louw wat uit die hospitaal ontslaan is. Ons is saam met die familie so bly dat dit met haar beter gaan.
Stefan en Marietjie Nell wie se een kleindogter, Klara op 7 Junie ‘n groot operasie ondergaan het. Ons gebed vir haar is dat sy vinnig sal aansterk.
BELANGRIK
In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende verjaar. Geluk!

Sondag 14 Junie: Charl Meyer en Louise Prinsen.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 13 Junie: Esmé du Plessis en Christoffel Janse van Rensburg. 15 Junie: Rina Dillman, Johan Jansen van Vuuren, Conrad Neethling, Karla Nel en Rolf Nel. 16 Junie: Christan de Villiers, Chantelle Jansen van Rensburg en Rion van Heerden. 17 Junie: Ansu le Grange en Felicité Wessels. 18 Junie: Fanie Cronjé en Dylan Farré. 19 Junie: Karien Krüger, Elna van der Merwe en Waldré van der Merwe.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Woensdag, 17 Junie om 09:00 kuier ons weer saam met ds. Bernice in die kinderkamer.
Erediens: Woensdag, 17 Junie om 10:30 by Huis Piek.
Sit in mekaar se Stilte 213- Koninkrykstyd: Om in mekaar en in God te bly. Dankie, François. (Klik hier)
Weeklikse oordenking: Here help ons om nie die pad byster te raak nie (11). Dankie, ds. Pieter (Klik hier)
Huisgeloof: Koninkrykstyd. (Klik hier)
Kinderbediening
Gemeente Geleenthede

KWARTAALGESPREK – DONDERDAGAAND 25 JUNIE @ 18:00

WYNPROE
Volgende week verras ons julle met heelwat meer inligting oor dié besondere geleentheid. Maak solank julle groepies bymekaar - daar is mos net soveel plek beskikbaar - en as die "kaartjiekantoor" open beter julle spring om seker te maak julle loop die geleentheid nie mis nie.

REISIGERS - JONGMENSE
NG Groenkloof en NG Waterkloof is tans in die proses om een gemeente te word. Ons bevind ons dus in ’n tyd van groot verandering en vernuwing. In hierdie proses wil ons graag ook nuut dink oor hoe die Reisigers-groep vir jongmense kan inpas by hierdie volgende fase van die gemeente se bediening en visie.
Ons het daarom besluit om die groep vir eers op ’n kort pouse te plaas. Dit gee ons die geleentheid om bietjie asem te skep, te luister, te onderskei en met nuwe oë te kyk na hoe hierdie bediening in die toekoms kan lyk en waar dit die beste sal pas binne die groter prentjie.

Dit is dus nie ’n afskeid nie, maar eerder ’n tyd van nadenke en beplanning. Ons waardeer elkeen van julle se betrokkenheid en sien uit daarna om weer met julle te gesels sodra daar meer duidelikheid is oor die pad vorentoe.
Baie dankie vir julle begrip en ondersteuning.
GEMEENTEKAMP (9-11 OKTOBER)
Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba
Gemeente en Gemeenskapsnuus

KLOWE VERGADER SAAM
Die Kerkrade van NG Groenkloof en NG Waterkloof het Dinsdag, 9 Junie, saam vergader o.l.v. ds. Rehan Rheeder (Saakgelastigde van die Noordelike Sinode). Tydens dié vergadering kon ons o.a. stilstaan by ons emosies en lede van beide kerkrade kon verwoord hoe daar met ervaringe van verlies sowel as groot opgewondenheid gedink en gedroom word oor die pad na eenwording. Ons gee binnekort meer terugvoer. Dankie, aan Maarten van Hoven (Kerkraadslid van Waterkloof) wat die proses met groot omsigtigheid vir ons lei.

Voetspore

PEAS IN A POD
Leer speel-speel
‘n Week of twee gelede het Louise Prinsen die Peas-meisies geleer hoe om Ludo en Slangetjies en Leertjies te speel, met die doel om hul leerbeplanning te ontwikkel en terselfdertyd hul eksamenspanning te verlig. Dit was vir haar ’n besondere voorreg om te sien hoe elke kind reageer wanneer sy wen, ’n ander meisie help om die speletjie aan te leer, of bloot geprys word vir haar bedagsame spel. Sulke oomblikke bou nie net selfvertroue nie, maar leer ook waardevolle lewensvaardighede soos geduld, samewerking en respek vir ander.


Verjaarsdagbederfies vir die meisies ...
Deur die loop van die jaar het ons elke meisie in die PEAS-huis se verjaarsdag spesiaal gemaak en die hartjie warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ‘n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur.
Hierdie relatief klein gebaar verskaf soveel vreugde. Die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig, kan geen geld ter wêreld koop nie! Ons is geholpe met verjaarsdae in Junie. Die volgende verjaarsdae in JULIE benodig nog net twee weldoeners. Madubo Mahlatsi verjaar op 16 Julie en Onela Hlangwane op 28 Julie.

Indien jy graag ’n meisie op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye wil bederf, skakel gerus Ds. Bernice, Ds. Dewald of die kantoor.
DAYBREAK
Drie Jaar van Genade: ” Daybreak House for Vulnerable Babies”
Op 6 Junie 2025 het Daybreak House for Vulnerable Babies stil en dankbaar sy derde bestaansjaar gevier. Geen partytjie nie, geen groot ophef nie, want die werk gaan voort soos altyd: babas word versorg, gekoester en liefgehê. En dit is presies soos dit moet wees.
Daybreak House is ’n geregistreerde Plek van Veiligheid in Bailey's Muckleneuk, Pretoria, wat kwesbare babas versorg terwyl hul toekoms bepaal word. Agter elke klein lewe wat deur ons deure kom, staan ’n span toegewyde sorgwerkers, ondersteun deur ’n netwerk van vrywilligers en borge wat weier om anderpad te kyk.
Oor die afgelope drie jaar het mense van regoor die wêreld hul hande uitgesteek. Vrywilligers uit die Verenigde Koninkryk, België, Nederland en Australië het alles tuis gelaat om vir weke, en soms selfs maande, hier by ons te kom dien. Atlete het die Midmar Myl geswem, aan die Ride Joburg-fietswedren deelgeneem en die Comrades Marathon gehardloop – alles om fondse vir hierdie babas in te samel. Kinders van plaaslike skole het spaarvarkies oopgemaak en fondsinsamelings gehou. Die prefekte van Pretoria Boys High School bring gereeld besoeke, gee verjaardaggeskenke en vier Moedersdag en Vrouedag saam met ons sorgwerkers.

Elke week is daar vrywilligers wat inloer, ’n koek bak vir ’n kind wat verjaar, maaltye aflewer, vakansiedae feestelik maak of ’n baba vashou sodat ’n moeë sorgwerker vir ’n oomblik kan asemhaal.
Ons wil ook ’n besondere woord van dank rig aan die gemeente van NG Kerk Waterkloof. Julle betrokkenheid, volgehoue gebede en ondersteuning oor die afgelope drie jaar is vir ons van onskatbare waarde. Ons glo vas dat dit juis hierdie gebede is wat ons dra op dae wanneer die werk swaar voel en die behoeftes groot is. Dankie dat julle nie net met julle hande dien nie, maar ook met julle harte vir ons bid.
Ons roeping is gegrond in die hart van God self. Die Woord is duidelik: “Leer om goed te doen, bevorder die reg, help die verdruktes, doen reg aan die weeskind, verdedig die weduwee.” (Jesaja 1:17). En in Psalm 68:6 word God self beskryf as “’n Vader vir die vaderlose”. Dit is nie ons werk wat hierdie babas dra nie; dit is Hý. Ons is slegs die hande wat Hy gebruik.
Drie jaar. Talle babas. Honderde hande. Een groot hart.
Ons is dankbaar vir elke gemeente, individu en besigheid wat hierdie roeping saam met ons dra. Indien u betrokke wil raak as vrywilliger of borg, is u welkom om ons te kontak by [email protected] of ons webwerf te besoek by www.daybreakhouse.co.za.
Daybreak House for Vulnerable Babies is ’n inisiatief van die Grové Schoombee Foundation
PEN - WINTERHOOP
GEE HOOP GEE WARMTE
Die winter het ons stil-stil bekruip. Die koue kloue het reeds diep in ons gebeentes kom nes skop. Terwyl ons saans knus met ’n vol maag op die elektriese kombers onder ’n warm duvet lê, is daar baie mense wat nie so bevoorreg is nie. Daarom neem ons weer die vrymoedigheid om, soos elke jaar aan die begin van die winter, die WinterHoop-trollie by die ingang van die kerk te “parkeer”, gereed om donasies te ontvang.
WinterHoop is ’n gemeenskapsuitreik-inisiatief wat daarop gemik is om kwesbare en hawelose mense gedurende die wintermaande te ondersteun. Deur middel van hierdie veldtog word noodsaaklike winterbenodigdhede soos komberse, slaapsakke, warm klere, kospakkies en higiënepakkies ingesamel en versprei. Daar word ook bewusmaking rondom haweloosheid geskep, en waar moontlik word mense in nood met gespesialiseerde ondersteuningsdienste verbind.
Die inisiatief bring kerke, besighede, skole en gemeenskapslede saam om ’n betekenisvolle verskil te maak in die lewens van mense wat gedurende die koue wintermaande swaarkry.
Indien u graag wil bydra, kan u enige van die genoemde items in die WinterHoop-trollie plaas. Elke kombers, elke kledingstuk en elke kospakkie bring nie net fisiese warmte nie, maar ook hoop en menswaardigheid aan iemand wat dit broodnodig het.
Items benodig. (Klik hier)
Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil". (Klik hier)
Gemeente Besonderhede

KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected] / Sel: 083 417 5133
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel

Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster: 064 700 7004
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK
Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482

