
GEMEENTEBRIEF 5 - 12 DESEMBER 2025
GEMEENTEBRIEF 5 - 12 DESEMBER 2025
Gedagte Vir Die Week
Liewe gemeente-vriend,
GEDAGTE VIR DIE WEEK: Advent 2 – VREDE en VERGIFNIS
Twee mooi woorde. Maar wanneer is daar gif in vergifnis en is die vrede wat ons soek eintlik ’n wrede soort vrede?

Vrede. Baie mense smag na vrede. Vrede in die Midde-Ooste. Vrede in ons land. Vrede by die huis. Vrede by die werk. Vrede in die kerk. Maar waaraan dink ek wanneer ek dink aan vrede? Wat sien ek in my verbeelding wanneer ek oor hierdie vrede droom? Wat behels hierdie vrede waarna baie mense smag?
Die reggae-sanger Peter Tosh, minder bekende lid van ‘The Wailers’ as die bekende Bob Marley, kan met sy lirieke my siening van wat vrede behels uitdaag. Peter Tosh se eie liedere het dikwels ’n sterk profetiese klank. Hy sing soos volg oor my versugting na vrede: “Everybody is crying out for peace, yeah/ none is crying out for justice”. En hy gaan verder: “I don’t want no peace/ I want equal rights and justice”. Tosh was, soos Bob Marley, ’n Rastafariër en beide is in die Etiopies-Ortodokse Kerk gedoop. ’n Teologiese vergelyking vir hoe hy die vrede sien waarna ons behoort te smag is daarom seker te verwagte, naamlik: “Everybody want to go to heaven/ nobody want to die”.
Ja, almal smag na vrede. Maar wanneer is daardie mooi ideaal, daardie droom van vrede van my, eintlik ’n wrede vrede? Vrede sonder gepaardgaande geregtigheid, met ander woorde, ’n kostelose vrede sonder implikasies vir optrede en insig dat die onvrede soms juis ’n versugting na geregtigheid behels wat nie geïgnoreer mag word nie. Die Ou Testament se shalom beteken veel meer as bloot net die afwesigheid van konflik, dus ’n soort skietstilstand, ongeag die feit of daardie sogenaamde vrede lepellê met geregtigheid. Wêreldvrede klink wonderlik. Maar ten koste van wie en wat? Kan hoe ek smag na vrede heimlik wees dat die afwesigheid van vrede eintlik net lastig is vir my eie gerief?
Vrede is ongetwyfeld dikwels die moeilikste pad van almal. Maar kan sekere soorte vrede ook ’n kortpad wees? Soms is ’n kompromis inderdaad nodig om vorentoe te kan beweeg. Maar is die kern-motivering waarvolgens besluite soms geneem word, naamlik “ter wille van vrede”, nie dalk ’n ongevoelige maklike en eintlike wrede opsie nie? Hoe dikwels neig die kriteria vir besluitneming by ’n (kerk)vergadering meer in die rigting van “ter wille van rus en vrede” en hoe dikwels in die rigting van “ter wille van geregtigheid”? Wanneer is vrede dus eintlik wrede vrede? Die heelheid en florering waarna die Bybelse shalom verwys behels veel veel meer sodat ek nie na vrede kan smag terwyl ek sien hoe iemand anders dan steeds nie geregtigheid beleef nie.
Vergifnis. Met die draai van die millennium is daar baie gedink en gepraat oor vergifnis en versoening. Die gesprek het ook oor die laaste twee dekades verdiep en deesdae word versoening en vergifnis selde los gedink van geregtigheid. Dit het Biskop Tutu destyds al ingesien toe hy onvermoeid as voorbeeld die een seun wat die ander seun se fiets gesteel het, gebruik het van wat vergifnis behels. Dan vra die dief vergifnis by sy vriend omdat hy die fiets gesteel het, maar is nie van plan is om die fiets ook terug te gee nie. Wanneer dít gebeur, wanneer vergifnis gesien word as ’n iets sonder ’n fiets, is daar gif in vergifnis, soos die digter Nathan Trantraal tereg dig in “Fiction en estrangement”.
Trantraal begin so: “Na apartheid was daa/ gesê, as ôs wil bewys/ dat ôs rêrag Christene is/ moet ôs vegiewe/ En ôs, omdat ôs rêrag/ Christene wil gewieset/ het ôs vegiewe …” En hy sluit af: “En ôs, omdat ôs lief vi Jesus/ was, het ôs ôs klippe neegesit/ Ammel het hystoe gegan/ Hulle na hulle hyse langsie sea/ ôs na ôs shacks/ langs poeletjies stagnant wate/ waa die gif in vegifnis/ ôs ammel/ sick gemaak het”.
Vergifnis en vrede sit diep ingebed in die Christelike geloof. Mag ons vergifnis daarom sonder gif en ons vrede nie ’n wrede soort vrede wees nie. Mag ons gee van vergifnis en smagting na vrede eerder behels dat geregtigheid voortrol soos ’n standhoudende stroom.
- Prof Cas Wepener. Kerkbode, 27 Januarie 2025.
Erediens Inligting
ADVENT 2 - VREDE
SONDAG 7 DESEMBER 2025
09:00: Erediens kerkgebou o.l.v. Ds. Bernice. Tema: "Vrede op aarde?"
Musiek: Friena Maritz.
Kuier en verversings op die stoep.
Ds. Dewald lei Sondag, 7 Desember se erediens by Agter-Paarl gemeente as deel van ons Wynveiling vennootskap.
ADVENT 3 - VREUGDE
SONDAG 14 DESEMBER 2025
09:00: Erediens in kerkgebou o.l.v. Ds. Dewald.
Musiek: Friena Maritz
Kuier en verversings op die stoep.
Ons Gee Om

Ons stel altyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en weë. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!
Veels Geluk!
Verjaarsdae op Sondag, 7 Desember: Konrad Beukes.
Verjaarsdae 80 en op: Bronwen Cronjé en Bets Serfontein op 8 Desember.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 6 Desember: Klara Steenekamp, Des van Niekerk en Gerhard Wilken. 8 Desember: Tobie Coetzee, Bronwen Cronjé, Rynette Muller, Bets Serfontein en Conrad van der Merwe. 9 Desember: Mardolene van Hoven. 10 Desember: Anika Prinsloo, Vian Reynders, Ryan Schoeman en Sulene Toerien. 11 Desember: Henry de Smidt en Merle Spillman. 12 Desember: Andrinette Bergenthuin, Berna Botha en Liam van der Merwe.
Ons Dink Aan
Isaak Nortje (Sakkie), pa van Melanie Coetsee wat ‘n hartklep vervanging ondergaan het en komplikasies ontwikkel het na die operasie.
Hester von Wielligh wat goed aansterk by ‘Green Tree Stepdown’ na ‘n heupvervanging.
Jenny Raath wat op 20 November ‘n ernstige rugoperasie ondergaan het en steeds onder die bekwame sorg van Lukas tuis aansterk.
In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle so graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.
BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)

Voed Jou Gemoed

Sit in Mekaar se Stilte 186 – ‘Adventsondag 2: Vrede’ [klik hier] Dankie François!
Huisgeloof: Tuisblad – Advent Skattejag 2. Skakel
Kinders, Jeug en Familie

KINDERBEDIENING
Verlede Sondagoggend (30 November) het ons kinderbediening formeel tot ’n einde gekom vir die jaar, en wat ’n spesiale afsluiting was dit nie! Die kinders het die verrassings terdeë geniet en dit was mooi om hulle opgewondenheid en dankbaarheid te sien.
Ons wil elkeen van die Kinderbediening-fasiliteerders uit die hart bedank vir julle tyd, energie en liefde wat julle deur die jaar in ons kinders belê het. Julle het nie net aktiwiteite aangebied nie – julle het harte geraak, geloof help vorm en vir ons jongmense ’n veilige en vreugdevolle plek geskep waar hulle werklik welkom gevoel het.
Elke Sondag se bydrae, elke voorbereiding en elke ekstra myl wat geloop is, het ’n verskil gemaak. Juis daarom het die kinderbediening hierdie jaar ’n ware “ons-wil-daar-wees”-ervaring geword – vir klein én groot.
Dankie dat julle so ’n kosbare deel van ons kinders se geloofsreis is.
Gemeente Geleenthede
WYNVEILING 2025
Hierdie jaar se wynveiling, was, ten spyte van almal se besige skedules en minder tafels as gewoonlik, ‘n reuse sukses. Dit blyk ‘n hoogtepunt te bly! Die Agter-Paarl gemeente, het getrou aan hulle woord, die aller wonderlikste wyne bymekaargemaak. Ons is die kelders in die omgewing besonder dankbaar – dankie vir die oop hande en groot harte! Julle bydraes maak so ‘n verskil in baie se lewens op die ou end! ‘n Yslike groot dankie aan Stephan Barac en sy span wat die aand so suksesvol laat verloop het!



Wyn is nie net vir drink nie, skryf Ds. Fouché de Wet (wat ook die Sondag, 29 November se erediens waargeneem het!)
Vir ons as Agter-Paarl gemeente was dit ʼn voorreg om hierdie jaar weer met julle Waterklowers hande te vat vir ons jaarlikse wynveiling. Op ʼn simboliese vlak is dit mos mooi dat ons gemeentes rondom wyn bymekaarkom - jy hoef nie ver in die Bybel rond te krap om goeie verwysings na wyn te kry nie: in die wysheid van Psalm 104 en Prediker 9 word ons herinner dat wyn mense se harte kan bly maak. Jesaja 25 droom dat God eendag ʼn feesmaal vir die volke sal hou met goeie kos en goed verouderde wyn. Amos 9 vertel van ʼn nuwe wêreld met strome nuwe wyn wat afstroom van die berge. Wyn vertel van oorvloed en seën, met die oproep om dit verantwoordelik te gebruik. Jesus se eerste wonderwerk by Kana nooi ons om die goeie verbintenisse in die lewe met uitbundigheid te vier. By sy laaste ete saam met sy vriende het Jesus wyn gegee, sodat hulle kan onthou hoe lief God hulle het. In klein proesels wyn vier ons dit steeds op Sondae as ons nagmaal gebruik.
Vir my vertel wyn ten diepste van verbintenis. Hier in die Boland ry ons nou verby die trosse druiwe wat hang aan lote wat lang jare saamkom met die stokke waaraan dit verbind is. Die druiwe is verbind aan die lote wat verbind is aan die stokke wat deur die grond en die lug en die lig verbind is aan die alomteenwoordigheid van God. As kinders van God dra ons hoeka die metafoor van ʼn wingerdstok in ons rond en bely ons dat ons aan God en aan mekaar verbind is, en dat ons geroep word om vrug te dra wat hiervan vertel.
Ons mense van die Agter-Paarl is dankbaar vir die mooi pad wat ons saam met Waterkoof kan loop. Dankie dat ons op hierdie manier ons verbintenis aan julle as God se kerk kan bevestig en vier. Mag die wyn wat ons in Pretoria losgelaat het hierdie jaar mense se harte bly maak. Mag dit julle trek om die goedheid en sorg van God te vier. Mag dit julle herinner dat julle aan God verbind is – die God wat deur brood en wyn ons voortdurend herinner van Liefde wat alles gee en alles oorkom.
KERSSANGDIENS
Die Kerssangdiens is vir baie van ons die bevestiging dat nóg ’n jaar werklik tot ’n einde gekom het. Vanjaar se diens het ons weer uitgenooi om vir ’n oomblik stil te word, asem te skep en bewustelik na te dink oor wat werklik belangrik is. Terwyl die bekende woorde en melodieë van Kersfees deur die kerkgebou weerklink het en ons die sagte eenvoud van kerslig kon beleef, is ons genooi om terug te kyk op nog ‘n jaar wat verby is – op die vreugdes wat ons gevier het en die seëninge wat ons ontvang het. Daar was ook oomblikke van onthou, waar ons geliefdes teer in ons harte kon hou.
Ons wil weereens ons opregte dank uitspreek aan elkeen wat deel was van hierdie besondere geleentheid moontlik gemaak het. Dankie aan elke lidmaat wat saam met ons kom kuier het.
Gemeente en Gemeenskapsnuus
KALENDER 2026
Die 2026 kalender sal volgende week beskikbaar wees. Sodra die drukkers dit by die kerkkantoor afgelaai het, sal ons 'n boodskap uitstuur.

DANKMAAND
Baie dankie vir elke dankmaand bydrae wat tot op hede al ingekom het. Ons gemeente is werklik geseënd. Skakels na die dankmaand-skrywe, sowel as die kort video met finansiële terugvoer en ook bewys van wat alles in ons gemeente gebeur, is hier onder beskikbaar, kyk gerus weer daarna
Dankmaand-video / Dankmaand-skrywe
KERSLIEDERE BY KERSLIG
Ons het vanjaar ’n ongekende hoeveelheid reën gedurende Oktober en November beleef, wat ongelukkig daartoe gelei het dat Kersliedere by Kerslig op die nippertjie gekanselleer moes word.
Tog wil ons, ons opregte dank uitspreek aan elkeen in die gemeenskap wat die reën trotseer het en steeds vetkoeke vir hulle gesinne kom koop het. Ons kan met dankbaarheid sê dat al die kos vir die aand uitverkoop is. Julle ondersteuning, ondanks die weer, was werklik hartroerend. Dit is ‘n seën om deel van so ‘n besondere gemeenskap te wees.
Ons Voetspore In Die Gemeenskap
BRAMLEY KINDERHUIS EN PEAS IN A POD
Baie dankie vir elke geskenkpakkie wat by die kerkkantoor afgelaai is. Danksy almal se ruimhartige bydraes het al die kinders in Bramley en by "Peas in a Pod" nou splinternuwe somersnagklere. Dit is nie net klere nie – dit is ’n tasbare teken van sorg, liefde en hoop. Julle het werklik ’n verskil in hierdie kinders se lewens gemaak.
PEAS IN A POD VERJAARSDAG
Eva Isaacs het op 4 Desember verjaar, en ons kon haar dag ekstra spesiaal maak met ’n heerlike verjaarsdagkoek. ’n Groot dankie aan die weldoener wat bereid was om selfs so laat in die jaar hand by te sit! Eva het haar verjaarsdag so geniet.
Sinodenuus
NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil" [hier]
Gemeente Besonderhede
KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein - E-pos: bernice.serfontein@gmail.com
Ds. Dewald Roux - E-pos: dewaldroux2@gmail.com / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter - E-pos: ngwaterkloof@gmail.com
Hannatjie Venter - E-pos: ngkwater@yebo.co.za
Jabu Mtau – Koster (Skakel kantoornommer)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK: Stoor die nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieu Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Learskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482
