
GEMEENTEBRIEF 14 - 20 FEBRUARIE 2026
GEMEENTEBRIEF 14 - 20 FEBRUARIE 2026
Gedagte Vir Die Week
Liewe gemeentevriend,
Klippe by die kruis
Toe ek onlangs saam met my 13-jarige seun en sy vriend hoog op ‘n berg by ‘n kruis sit, besef ek net die waarde van stories. Dit was sy verjaarsdag en ons het ‘n kamp vir hom gereël dat hy iets kon beleef van dit wat ek al op my lewenspad beleef het. Daardie gebeure wat uitstaan in jou lewe en jou storie inkleur; daardie hoogtepunte waarna jy met heimwee verwys as geleenthede waar jy iets spesiaal beleef het, ‘n mylpaal-oomblik wat lewenslank deel van jou lewensverhaal word. Ek kon by hierdie geleentheid vir die seuns vertel van my eie graad 7-ervaring op dieselfde berg bokant die Apostel-kampterrein naby Houtbaai, asook hoe ek as jeugleraar met talle groepe tieners daar gekamp het.
Ek deel toe verder met hulle hoe ons met ‘n groep tieners die einste kruis waarby ons nou sit, oor Tafelberg gedra het en daar aan die agterkant van Tafelberg, bokant die Atlantiese Oseaan geplant het. Die teksgedeelte wat ons saam gelees het en wat daardie naweek se kruisdra geïnspireer het, kan ek nou nog onthou. Toe my seuns en sy maats stilword by die kruis en hulle eie klippe op die kruis pak, besef ek dat hierdie ritueel en bergtop-ervaring nou weer deel word van ‘n volgende geslag se geloofstorie.
Storievertelling is beslis nie die enigste voertuig vir geloofsformasie by kinders en tieners nie, maar dit kan sterk deur gesinne oorweeg word as ‘n sinvolle manier om identiteit en roeping te vestig. Dit het die potensiaal om jongmense se lewensverhale in ‘n groter geloofstorie van die Bybel en die geloofsgemeenskap te anker.
Hulle sal dan makliker die relevansie van die Bybel kan raaksien en geloof op hulle leefwereld van toepassing kan maak. Hierdie benadering kan ook ‘n brug tussen generasies bou en ‘n kultuur van insluiting, luister en omgee in families en gemeentes vestig. Mag ons as gesinne gereeld ons geloofstories met mekaar deel.
Greep uit: “Om te word wie ons is – Oor geloofsvorming in en deur gemeentes”. - Anriëtte de Ridder (medeskrywer)
Erediens Inligting
SONDAG 15 FEBRUARIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Jesus - die Mens na God se hart.
Musiek: Theo van Aswegen
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Gevorm deur genade. Tiener- en Verbintenisgroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
ASWOENSDAG EREDIENS - 18 FEBRUARIE TE GROENKLOOF OM 18:30
18:30: Erediens in Groenkloof kerkgebou o.l.v. ds. Dewald en ds. Harm.
Musiek: Dawie Fourie
Aswoensdag lei die begin van Lydenstyd in. Op hierdie dag word gelowiges
herinner aan hulle broosheid en afhanklikheid van God, dikwels deur
die trek van 'n as-kruisie op ons hand of voorkop.
Aswoensdag roep gelowiges op tot selfondersoek en ’n hernude toewyding
aan God, terwyl dit ook ’n tyd is om stil te word en bewustelik nader aan
Christus te leef ter voorbereiding op Paasfees.
SONDAG 22 FEBRUARIE 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice.
Musiek: Joyce Viljoen.
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Tiener- en Verbintenisgroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep
Ons Gee Om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!
Veels Geluk!
Verjaarsdae op Sondag, 15 Februarie: François Wessels.
Verjaarsdae 80 en op: Dot de la Rouviera op 16 Februarie.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 14 Februarie: Anton Kok.
16 Februarie: Christiaan Basson, Elijah Brütten, Joshua Cousins, Dot de la Rouviera, Hanno du Plessis, Christopher Marlow, Hennie van der Merwe, Elze Verhoef en Hantie Weitz. 17 Februarie: Roché Bekker, Hennie (sr.) de Vos, Cobus Fourie, Schalk Grobler en Ernita Snyders.
18 Februarie: Matilda Brütten, Elsa Furstenberg, Julius Köhler en Chris le Grange. 19 Februarie: Sienta Beukes-Bekker, Ronel du Toit, JJ. Maree, Jaco Serfontein, Jeandré Slabbert en Christine Venter. 20 Februarie: Ben Janse van Rensburg, Isabeau Malan en Pulanie van Heerden.
'n Besondere Mylpaal
'n Spesiale woord van geluk aan Tannie Marie van Dalsen, wat verlede Sondag, 8 Februarie, haar 101ste verjaardag gevier het — ’n merkwaardige mylpaal - 101 goue jare!
Die fyn porseleinkoppies en -pierings het sierlik reggestaan om vriende te onthaal, en gaste is bederf met keurige gebak en heerlike southappies. Dit was ’n viering vol warmte, styl en dankbaarheid. Roberta Pretorius, wat die geleentheid bygewoon het, vertel: “Marie van Dalsen is vir my ’n besonderse vrou wat ek verlede jaar die voorreg gehad het om te ontmoet. Haar vriendelikheid en gulhartigheid om met ’n mens as individu te gesels, is opvallend. Haar helder en skerp geheue verstom jou, en haar stories van hul lewe as ambassadeurspaar tydens verskeie plasings in die buiteland het my ongelooflik beïndruk. Marie is ’n ware dame — altyd keurig en verfyn — en sy leef steeds die mooi in die wêreld uit.”
Tannie Marie, mag die jaar wat voorlê propvol liefde, goeie gesondheid en voorspoed wees. Ons as gemeente Waterkloof is besonder bevoorreg om Tannie in ons midde te hê.
Ons Dink Aan
Dita Nel wat aan die einde van verlede jaar ’n baie ingrypende kaakoperasie in Cintocare Hospitaal ondergaan het en vir ’n geruime tyd in die intensiewe sorgeenheid was. Sy is ’n wyle gelede uit die intensiewe sorgeenheid oorgeskuif na ’n gewone saal waar sy stadig maar seker sterker word – buitengewoon goed vir ’n 97-jarige persoon.
Dot de la Rouviera wat ‘n week lank met hartkomplikasies in Zuid-Afrikaanse Hospitaal opgeneem is. Sy is intussen ontslaan en sterk tans tuis aan.
Yolani Kriek se boetie, Johan Breytenbach, wat in ’n motorongeluk ernstig beseer is. Alhoewel daar nog ’n paar prosedures voorlê, sterk hy alreeds goed aan.
Danie, Jenny, David, Daniel en Zea de Villiers. Danie ervaar tans groot uitdagings met sy gesondheid en ons hou hulle gesin in ons gebede.
Ons boere wat swaar getref word deur die bek- en-klouseer-epidemie. Talle boere moes al kuddes van kant maak wat nie net boere se voortbestaan bedreig nie, maar ook die landboubedryf en ons ekonomie kniehalter.
BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.
BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Sit in Mekaar se Stilte 196: "Op Pad na Aswoensdag". (klik hier). Dankie, François!
Erediens: Huis Piek op Woensdag, 18 Februarie om 10:30.
Bybelstudie: 18 Februarie 2026 om 9:00 in die kinderkamer.
Weeklikse oordenking: 'Stories wat heelmaak en stories wat seermaak (4).’ Dankie, ds. Pieter Oosthuizen. (klik hier)
Kinders, Jeug en Familie

KINDERBEDIENING OPLEIDING
Ons kinderbediening-fasiliteerders het verlede Donderdag (5 Februarie 2026) ’n opleidingsgeleentheid in ons gemeentesaal gehad. Die opleiding is deur ds. Anandie Greyling van die Pierre van Ryneveld gemeente aangebied. Anandie is betrokke by die Sinode se Kategese-taakspan.

Planne, gedagtes, idees is gedeel….
Tydens die geleentheid kon ons saam nadink oor geloofsvorming, die uitdagings wat met kinderbediening gepaardgaan, en die interaktiewe aanbieding van ontmoetings. Dit was ’n waardevolle geleentheid waar ons saam kon leer. Die fasiliteerders is opgewonde oor die jaar wat voorlê en wil vir elke ouer dankie sê dat julle ons vertrou om deel van julle kinders se geloofsvorming te wees.
Gemeente Geleenthede
VROLIKE VRYDAGFEES – 20 FEBRUARIE
Die tyd het aangebreek vir ons eerste Vrolike Vrydagfees. Ons hoop die knoop in die oor sit stewig, want dié Vrydagfees gaan definitief ’n FEES wees. Die staatsgeheim is uit!! Greta Kok en haar span bederf ons met gourmet burgers en nie sommer-net gourmet nie! Die Filthy Moustache burger trokkie gaan ons op ons eie terrein kom bederf.
Gemeentevriende koop vooraf die kaartjies @R100 per persoon kry ’n burger-betalingsbewys met die keuse van jou burger (SOWEL as ’n porsie skyfies) wat jy dan by die trokkie gaan ontvang. WhatsApp asseblief die bestellings na die kerk se selfoon (083 442 9557).
Hier is die spyskaart – maak jou keuse, bestel en kry jou burger-betalingsbewys op jou selfoon!
Gemeente en Gemeenskapsnuus
BYBELSTUDIE 2026
Bybelstudie 2026 het Woensdagoggend, 11 Februarie behoorlik met ‘n knal begin.
Gemeentevriende het geesdriftig, met ‘n stomende koppie koffie in die hand en vakansiestories op die lippe rondom die tafel vergader. Ons eerste Bybelstudie-byeenkoms is voor ons uitgelê soos ’n tafel vol brood. Meer as vyftien mense het saam om die tafel ingeskuif en plek gemaak vir mekaar en vir die Here. Soos die Emmausgangers het ons weereens ontdek dat Jesus elkeen van ons ontmoet net daar waar ons in ons lewens is; of ons nou haastig, verward, opgewonde of selfs harsteer is. Jesus het gekom, en die brood van sy Woord vir ons oop kom breek. Ons harte het warm geword van saam luister en deel. In daardie eenvoudige kring van brandende harte het ons ervaar hoe die Here ons voed met lewensbrood, sodat ons Hom mag raaksien in die elke-dag van ons lewens. Daarom sien ons met verwagting uit na die res van 2026 se Woensdagoggende om 9:00 by die kerk, vir saam-gesels, saam-beleef en weer-ontmoet. (Karen Harkema)
WATERKLOOF / GROENKLOOF KERKRAADSBERAAD
Die afgelope Saterdagoggend het die Waterkloof en Groenkloof kerkrade saam gesels oor ons twee gemeentes se eenwording. Ds. Trix Truter het reeds ’n paar suksesvolle eenwordingsposesse gefasiliteer – twee gemeentes in Graaff-Reinet en twee in Brits. Hy het ons, aan die hand van stories en ervarings van eenwording in die verlede, opgewonde gemaak oor die pad wat voorlê.
Die boodskap was duidelik: eenwording is 'n emosionele verbintenis - dit vereis tyd, geduld en gebed. As ons begin saam bou aan nuwe rituele en mekaar met liefde aanvaar, het ons die belangrike boustene vir 'n sinvolle, positiewe eenwording. Die kerkraadslede het hul heelhartig verbind tot die reis. (Maarten van Hoven – Voorsitter vir die proses van eenwording)
WIT OLIFANT VERKOPING – 28 FEBRUARIE
Wit-Olifant2026 loots ‘n soektog vir enige bruikbare, “voorheen-geliefde” en nou “verlate- maar nieverwaarloosde” items - boeke, ameublement, klere, huisware en watookal jou hart nie meer warm laat klop nie!
AANKONDIGING: Vanjaar het ons ook ‘n KWEKERY afdeling
PLANTJIES van alle soorte, kleure en geure is absoluut welkom!!
Indien jy enige“voorheen-geliefde” items het waarvan jy graag wil afstand doen, kom laai dit gerus by die kerkkantoor af. Ons sien uit na besondere items wat die nuwe “eienaar” se oë sal laat blink van vreugde oor die fonds! I
Indien jy graag deel van die geesdriftige winkel-werkersgroepie wil wees, skakel gerus die kerkkantoor (012 460 3913) of stuur ’n WhatsApp ( 083 442 9557)
Laaste aflaai-datum: Vrydag, 20 Februarie! (Tyd raak min!)
Kom maak op 20 Februarie iemand anders se rommel jou kosbare VONDS!
FOTO'S VIR ONS FOTOMUUR

Elke foto teen ons fotobord bly vir ons kosbaar. Tog het dit tyd geraak om die bord weer ’n bietjie lewe te gee met die toevoeging en wisseling van nuwe foto’s. Sussie-‘fotograwe” Zabeth, Hanlie en Magdil Wessels gaan op Sondae tussen ons rondloop en foto’s neem. As een van hulle tydens die teedrink-kuier by julle verbyloop, neem asseblief die vrymoedigheid om hulle te vra vir ’n familie “kiekie”. Dit sal vir ons vreeslik baie beteken. Indien jy dalk ook ’n kopie wil hê, kontak die kerkkantoor!
KOMMUNIKASIE EN VOORKEURE
Ons wil graag effektief met jou kommunikeer en jou voorkeure respekteer. Klik op hierdie skakel en neem asseblief 'n oomblik om hierdie voorkeur in te vul.
JOYN KOFFIEWINKEL
Joyn Koffiewinkel het nou al reeds deel van die plaaslike landskap geword. Dit het al vele mense se vinnige wegbreek en ook oase onder die koeltebome geword Hoe lekker is dit om net om die hoek te glip vir 'n koppie regte, egte boeretroos in ‘n verskeidenheid van smake!
Ons Voetspore In Die Gemeenskap
"PEAS IN A POD"
Deur die loop van verlede jaar het ons elke meisie in die "PEAS"-huis se verjaarsdag spesiaal gemaak en die hartije warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ‘n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur. Ons wil graag vanjaar voortgaan met dié inisiatief. Die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig, kan geen geld ter wêreld koop nie!
Die volgende verjaarsdae is om die draai. Matsemelo Onthatile word op 8 Maart nege jaar oud, Dimpho Moshakga word veertien op 20 Maart en Simoné Bekker word op 20 April sewentien! Indien jy graag ‘n meisie op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye, wil bederf, skakel gerus vir ds. Bernice, ds. Dewald of die kantoor.
HUIS PIEK BENODIG WOL VIR GROOT ‘GEBREIERY’
Baie dankie aan almal wat so ruimskoots sakkevol wol by die kerkantoor kom aflaai het! Die Pieksters is reeds volstoom besig met die brei van truitjies en mussies vir Re Gae Kleuterskool.
Hulle sal verseker voor die Winter kopuitsteek ‘n hele paar kilometer wol in snoesige truitjies en wintermussies omgetower hê. Indien daar nog enige bruikbare wol in jou kaste is, waarvan jy graag ontslae sal wil raak, kan jy dit gerus by die kerkkantoor kom aflaai. Die Piekster-hande staan gereed!
Sinodenuus
NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil" [hier]
Gemeente Besonderhede
KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: bernice.serfontein@gmail.com
Ds. Dewald Roux * E-pos: dewaldroux2@gmail.com / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter * E-pos: ngwaterkloof@gmail.com
Hannatjie Venter * E-pos: ngkwater@yebo.co.za
Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482
