
GEMEENTEBRIEF 11-18 SEPTEMBER 2026
GEMEENTEBRIEF 11-18 SEPTEMBER 2026
Gedagte Vir Die Week

Ds. Dewald is met verlof van 14-18 September.
Liewe gemeentevriend,
“Sonnet” (“Lente is traag vanjaar”)
Lente is traag vanjaar; ek wag al lank
Tussen die ongenooide bome waar
die wortels wat die duister grond deurrank
langsaam die sap vir nuwe bloei vergaar.
Nooit voorheen het ek hul geduld begryp
soos nou dat ek dieselfde drange voel roer
en die volmaaktheid wat in my moet ryp
ál my verlange na voleinding voer.
Wees mild, o reën en sondeurlaaide dag,
jul wat die aarde uit haar droom bevry,
en skenk jul sagte seën aan die wat wag
in vrees en hoop, dat alles wat moet kom
en nou nog spraakloos verborge bly
uitbreek in heerlikheid van vrug en blom!
Elisabeth Eybers – Uit: Die stil avontuur (1939)

Elisabeth Eybers was een van die groot name van die Afrikaanse letterkunde en deel van die bekende Dertigers. Sy het boonop ’n besondere plek in ons literêre geskiedenis: sy was die eerste vrou wat werklik as ’n belangrike digterstem in Afrikaans na vore getree het.
Afrikaans sou uiteindelik die taal word waarin sy haarself die diepste kon uitdruk. Interessant genoeg het sy juis aan die Engelstalige Universiteit van die Witwatersrand ontdek dat Afrikaans haar “gemoedstaal” en haar natuurlike medium was.
In 1937 trou sy met die bekende nyweraar Albert Wessels en die egpaar vestig hulle in Johannesburg. Vier kinders – drie dogters en ’n seun – is uit die huwelik gebore. Ná hul egskeiding in 1961 het Eybers ’n groot nuwe hoofstuk aangepak: sy verhuis na Amsterdam in Nederland, waar sy vir die res van haar lewe sou woon.
Afstand het haar egter nie van Afrikaans losgemaak nie. Inteendeel. Sy het aangehou om in Afrikaans te dig, en haar werk het oor dekades heen talle van die belangrikste literêre pryse ontvang.
Elisabeth Eybers is op 1 Desember 2007 in haar woonstel in Amsterdam oorlede. Sy was 92 jaar oud. André P. Brink het haar ná haar dood treffend beskryf as “die laaste van die grotes”.
En tog leef haar stem voort – in Afrikaans. Die taal wat sy haar gemoedstaal genoem het en waarin sy die gewone dinge van menswees – liefde, verlies, geloof, verlange, ouderdom en verwondering – met buitengewone fyn aanvoeling kon verwoord.
Erediens Inligting

SONDAG 13 SEPTEMBER 2026
09:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Feestelikheid in ’n tyd van skaarsheid...
Musiek: Friena Maritz.
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep.
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Die wonder van sien. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
Anders as in die almanak aangedui, is hierdie Sondag, 13 September reeds die Kwartaal-afsluiting vir die aanddienste. (NIE 20 September NIE.)
SONDAG 20 SEPTEMBER 2026
LENTEFEES
09:00: Erediens in die kerktuin o.l.v. ds. Bernice. Tydens die erediens word die doop aan Emmarie Aliza Minnaar, dogtertjie van Adriaan en Marguerite Minnaar bedien.
Hierdie erediens is ’n GESAMENTLIKE erediens. Daarom nooi ons al ons ouers en jongmense van die aanddiens om ook die diens by te woon.
Musiek: Friena Maritz.
Kinderbediening tydens die erediens ● Saam-kuier - Worsbroodjies en iets te drinke.
18:00: GEEN aanddiens a.g.v. toetsreekse.
Gemeente Geleenthede

LENTEDIENS - 20 SEPTEMBER
Op Sondagoggend, 20 September wy ons Lente op ons gebruiklike wyse in. Ons loof die Here vir God se natuur in die natuur. Stoele word uitgepak op die grasperk en onder die bome. Bring gerus ’n piekniek-kombersie saam vir gemaklike ‘sit’ op die grasperk, vir die kinders en dié wat dit so verkies. Almal is welkom!

Ons vier Lente gewoonlik die Sondag naaste aan die dag-en-nag ewening (‘equinox') in September. Hierdie jaar val die 'equinox' op Woensdag, 23 September, 2:05 vm., (amptelik die begin van Lente in Suid-Afrika) wanneer die son loodreg op die ewenaar skyn, die dag- en naglengtes dieselfde is, die son reg in die Ooste opkom en reg in die Weste ondergaan.
GEMEENTEKAMP
BESPREEK jou/julle verblyf so gou moontlik.
Daar is ’n voëltjie aan die fluit dat slaapplek min raak.
Oktober klink die verre toekoms in - dit is nie! As ons ons oë uitvee is dit tyd vir ons lekker wegbreek die bosveld in. So, bespreek maar vroegtydig. Die Bespreking-skakel is duidelik in rooi aan die onderkant van die plakkaat.

Besprekings | Aktiwiteite |Verblyfopsies | Klein Kariba
Ons Gee Om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeente-vriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure / ervarings / nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!

Ons Dink Aan
Elke du Preez wat Woensdagaand a.g.v. ’n virus in Zuid-Afrikaans opgeneem is.
Betsie Schaap wat sedert Maandag weer in Zuid-Afrikaans opgeneem is a.g.v. komplikasies na haar voet-operasie.
Philla Kennedy-van Dam wat in Groenkloof Life opgeneem is met longontsteking.
Bennie en Marisca van Niekerk. Bennie se pa, Ben van Niekerk is onlangs gediagnoseer met aggressiewe leukemie en beenmurgkanker.
Hantie Weitz wat gedurende die eerste week van Oktober ‘n voetoperasie ondergaan.
Louise Prinsen wie se ma, Rina Boshoff, ernstige gesondheidsuitdagings beleef.
BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende verjaar! Veels Geluk!

Verjaarsdae Sondag, 13 September: Aryna Edwards, Rudi Kühn en Xan Swart.
Verjaarsdae res van die week: Saterdag, 12 September: Juliette Fourie, Blignault Gouws, Susan Kruger en Con Meiring. 14 September: Cara Riley en Johan Schoombie. 15 September: Elma Gildenhuys, Michael Monni, Faan Nel, Leoné Nortjé en Stephan Prinsloo. 16 September: Anna Brütten. 17 September: Ruan Steenkamp en Caleb Vermaak. 18 September: Colette du Toit, Niek Jansen van Rensburg, Irma Koekemoer en Coenraad van der Merwe.
Ek is Nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.

BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer, indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Woensdag, 16 September om 09:00 saam met ds. Bernice in die kinderkamer.
Erediens: Huis Piek Woensdag,16 September om 10:30.
Sit in Mekaar se Stilte 223: Lectio Visio 6: Begin Weer. Dankie, François. (Klik hier)
Huisgeloof: Esegiël 47:1-12 (Klik hier)
Gemeente en Gemeenskapsnuus

KENNISGEWING VAN EENWORDING
Die tyd vir eenwording het uiteindelik aangebreek en ons is van harte opgewonde oor die nuwe seisoen wat vir ons twee “Klowe Gemeentes” voorlê. Gesprekke om noue-samewerking en uiteindelike eenwording word al vir meer as 12 jaar tussen die NG Gemeentes Waterkloof en Groenkloof gevoer. Op die vooraand van eenwording is ons dankbaar dat die Here ons so vêr gebring het. Diep bewus van ons eie weerloosheid en afhanklikheid bevind ons onsself vandag in die môre waaroor ons gister nog bekommerd was.
Die Kerkrade van die Nederduits Gereformeerde Gemeentes Waterkloof en Groenkloof kom aan die hand van die Kerkorde 2023 asook Kerkorde en Aanvullende Bepalings, NG Kerk Noordelike Sinode, 2025 soos volg ooreen: (Hier volg enkele uitreksels uit die eenwordings-ooreenkoms)
1.1 Die twee Kerkrade besluit om in ooreenstemming met die kerkordelike bepalings soos vervat in Punt 3 (Eenwording van gemeentes) van die REGLEMENT VIR DIE VERMEERDERING, KOMBINERING, EENWORDING EN SAMESMELTING VAN GEMEENTES (Kerkorde en Aanvullende bepalings 2025) die NG Gemeente Groenkloof by die NG Gemeente Waterkloof in te lyf.
1.2 Die Nederduits Gereformeerde Gemeente Groenkloof het tydens sy vergadering op 3 Mei 2026 besluit om te ontbind en een te word met NG Gemeente Waterkloof. Die datum van eenwording is op die vergadering van 2 Augustus 2026 so vasgemaak as 25 Oktober om 00h00.
1.3 Die Nederduits Gereformeerde Gemeente Waterkloof het op haar Kerkraadsvergadering van 14 April 2026 besluit om in te stem dat NG Gemeente Groenkloof se lidmate en werksaamhede (alle bediening en pastoraat) by (Waterkloof) ingelyf word op 25 Oktober 2026 om 00h00. Groenkloof gemeente as regspersoon sal voortbestaan tot 28 Februarie 2027 om alle sake wat verband hou met die ontbinding van Groenkloof-gemeente deur te voer.
Die gemeente sal genoem word Nederduits Gereformeerde Gemeente Waterkloof.
Wat bediening betref:
6.1 Alle aspekte van die bediening, insluitende die pastorale versorging, strategiese beplanning, administrasie, fasiliteite-, finansiële- en personeelbestuur, word vanaf inwerkingtreding van hierdie kontrak deur Waterkloof se kerkraad behartig.
6.2 Op Hervormingsondag, 25 Oktober 2026, vier die gemeentes hulle eenwording op ʼn gepaste manier en vind die eerste erediens in Waterkloof se kerkgebou om 09:00 plaas.
6.3 Eredienste, gemeentelike bediening en -aksies.
6.3.1 Vanaf Hervormingsondag, 25 Oktober 2026 hou die gemeentes op Sondae saam een tradisionele erediens in Waterkloof se kerkgebou om 09:00.
6.3.2 Vanaf dieselfde datum sal Groenkloof se kerkgebou op Sondae toepaslik gebruik word soos die Waterkloof-kerkraad besluit, bv. vir aanddienste en kontemplatiewe dienste ens.
Approbasie Kennisgewing
Gemeentelede word versoek om enige beswaar teen die voorgestelde eenwording skriftelik bekend te maak voor Sondag 20 September 2026. ‘n Kopie van die volledige konsep eenwordings-ooreenkoms is beskikbaar in die kerkkantoor. Maak gerus ‘n afspraak met die kerkkantoor, indien u graag die ooreenkoms wil lees.
Vir enige verdere navrae, skakel gerus vir Maarten van Hoven (Voorsitter van die eenwordingskomitee) of enige van die Leraars.
Kontakbesonderhede: [email protected] / WhatsApp / skakel: 083 412 7885
Kinders, Jeug en Familie

HUISGELOOF MAAK SAAK
Simoné Reynders skryf die volgende met betrekking op die inhoud van die HUISGELOOF wat elke Sondag in die gemeentebrief verskyn:
Ons vier Reynderse geniet die inhoud van die Huisgeloof vreeslik baie. Dit het al dikwels gelei tot interessante denkpatrone en het al gesprekke ontlok wat moeilik natuurlik sou op kom. Dit dwing vir my en Vian om saam met die dogtertjies dieper oor dinge na te dink en breek die roetine van ’n tradisionele Bybelstudie.
As ek nou net die laaste twee Sondae se gesprekke oproep, oor hoe om werklik ’n verskil te maak: ’n geldjie wat jy in die man by die robot se hand prop, gaan tog nie sy lewe radikaal omdraai nie. Alhoewel al die antwoorde nie dadelik sigbaar raak nie, kan ons saam droom en dink, en is dit ’n begin.
Daar is egter ’n beswaar van elk van my kinders wat ek gemaklik genoeg voel om met die gemeente en ons 2 leraars te deel:
Sofia is baie ongelukkig dat daar nie weer met Pinkster ’n “Lego-storie”-reeks was, gepaard met ’n boodskap vir elke aand nie, en Helena voel net die nagmaalbroodjies sal baie lekker gaan met ’n bietjie konfyt. (Die Reynders-gesin.)
Baie dankie Simoné. Ons is dankbaar dat julle gesin soveel waarde uit die Huisgeloof put.
Ons Voetspore In Die Gemeenskap

PEAS IN A POD
Verjaarsdagbederfies vir die meisies...
Deur die loop van die jaar kon ons sovêr elke meisie in die PEAS-huis se verjaarsdag spesiaal maak en die hartjie warm laat klop met ‘n verjaarsdagkoek, asook ’n bederfie van ‘n aard (lekkernye - koek, kolwyntjies, lekkergoed, ens.) om saam skool toe te stuur.

Baie dankie aan elkeen wat tot op datum ’n meisiehart warm laat klop het! Ons waardeer julle moeite en betrokkenheid opreg. In die groter prentjie is dit dalk vir ons net ’n druppel in die emmer, maar die oor-tot-oor-glimlag op elke jongmens se gesig vertel ’n heel ander verhaal. Dít is iets wat geen geld ter wêreld kan koop nie!
Ons een OKTOBER-meisie benodig nog ’n weldoener. Suzan Swarts word op 14 Oktober 13 jaar oud. Indien jy graag een van dié meisies op haar verjaarsdag met koek en skool-toe-vat-lekkernye wil bederf, skakel gerus ds. Bernice, ds. Dewald of die kantoor.
Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die Verskil (Klik hier)
Gemeente Besonderhede

KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Dewald is met verlof van 14-18 September.
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster (Skakel kantoornommer)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK: Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Anton van Wouw Laerskool)
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
Bankbesonderhede: NG Kerk Waterkloof
ABSA
Rekeningnommer: 1500580077
Verwysing: Voorletter, Van, Geleentheid
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482



