
GEMEENTEBRIEF 11-17 APRIL 2026
GEMEENTEBRIEF 11-17 APRIL 2026
Gedagte Vir Die Week
Liewe gemeentevriend,
Gedagte vir die Week:
Oorlog en Gerugte van Oorlog: Geseënd is die Vredemakers
Oraloor word ons gekonfronteer met oorlog en gerugte van oorlog. Volgens die Kopenhagen Vredesverslag (2025) woed daar wêreldwyd meer as 50 gewapende konflikte, waarvan 11 volskaalse oorloë is. Volgens hierdie verslag is dit die grootste hoeveelheid gewapende konflikte sedert die Tweede Wêreldoorlog.
Die Switserse teoloog Karl Barth sou in 1951, in sy Kerklike Dogmatiek III/4 (wat handel oor die skeppingsleer), ’n in-diepte teologiese refleksie oor die probleem van oorlog – en veral die probleem van ’n geregverdigde oorlog – bied. Hy bespreek die probleem van oorlog in ’n afdeling wat handel oor die beskerming van lewe, ’n hantering van die sesde gebod om nie dood te maak nie. Die gebod, argumenteer Barth, moet nie net negatief gelees word – vir wat dit verbied – nie, maar ook positief, vir wat dit gebied: die beskerming van lewe. Maar wat beteken dit vir ons, vandag? Hoe behoort ons oor oorlog te dink?
Onbetrokke Toeskouer
Vandag is elkeen van ons ’n militêre persoon, hetsy direk of indirek, omdat ons almal deel het aan die lyding wat oorlog veroorsaak en die optrede wat oorlog van ons vra. Ons kan ons verantwoordelikheid as militêre persone nie bloot systap nie, argumenteer Barth, want daar bestaan nie so iets soos ’n onbetrokke toeskouer in oorlog nie. Elke persoon moet vra of ’n gegewe oorlog geregverdig of ongeregverdig is, en regverdigings wat wel gebied word – soos wanneer militêre leiers ’n oorlog heilig verklaar – opweeg.
Dit sou maklik wees, waarsku Barth, om geflous te word deur propaganda: dat ’n oorlog genoodsaak word deur edele bedoelings soos geregtigheid, eerbaarheid, en vryheid. Die waarheid is egter dat oorlog gedryf word deur materiële belang. Oorlog gaan oor mag en rykdom; oor die instandhouding of uitbreiding van magsverhoudinge en die beskerming of oorname van ’n grondgebied of natuurlike hulpbronne. Dit is, in die moderne tyd, veral ekonomiese mag wat gewapende konflik dryf, meen Barth – daarom die belangrike vraag:
Beskik ons oor die mag om te leef, of besit daardie mag ons?

Sesde gebod
Oorlog behels niks minder nie as massamoord, meen Barth: om soveel as moontlik mense aan die opponerende kant te vermoor. Dit is nie eens meer net individue wat mekaar kan vermoor nie, of selfs hele weermagte nie, maar nou – met die moontlikheid van atoombomme en kernoorlog – selfs hele nasies. “How unequivocally ugly war now is!”, skryf Barth. Ons behoort nooit gewoond te raak aan oorlog, asof dit normaal, asof dit ’n gegewe is, nie. “Christian ethics cannot insist too loudly that such mass slaughter might well be mass murder,” waarsku Barth, en daarom kan enige Christelike regverdiging van oorlog slégs gebied word nadat alles gedoen is om dit te vermy: “only at the very last hour in the darkest of days.” Die kerk behoort “die sataniese leerstelling” (Barth se woorde) dat oorlog onvermydelik is en daarom geregverdig en reg wanneer dit uitbreek, sodat Christene daaraan deel móét neem omdat dit ’n heilige oorlog is, teen te staan.
Trouens, binne die kerk behoort die vraag oor oorlog selfs strenger, met méér voorbehoud, hanteer te word as ander etiese kwessies (soos selfdood, aborsie, en doodstraf, noem Barth hier uitdruklik). In oorloë word nie net die sesde gebod nie, maar feitlik elke gebod verbreek, aldus Barth. Die meeste mense wat in ’n oorlog opgevang word, word nie beter mense as gevolg daarvan nie – hulle oorleef dalk die gevolge van oorlog maar herstel nooit volkome van die trauma wat dit veroorsaak nie. Oorlog kan en behoort nie sondermeer in die kerk verdedig te word nie: binne die Christelike etiek sou dit neerkom op “a flat betrayal of the Gospel”, skryf hy. Die belangrikste rol van die Christelike etiek is om “a distinctive horror of war and aloofness from it” te kultiveer.
Insig en moed
Die rol van ’n regering is – selfs in ’n tyd van oorlog – nie om lewe te vernietig nie maar eerder om lewe te onderhou en te kultiveer, en wanneer ’n regering dit blyk te vergeet is dit die kerk se rol om hulle daaraan te herinner. ’n Staat se belangrikste taak op hande is die herstel van ’n politieke orde waarin lewe betekenisvol en regverdig is. Dit beteken dat regerings en individue so gefokus behoort te wees op vrede, en hulle so volledig daarvoor behoort te beywer, dat oorlog uiteindelik onnodig word. Dit vra geen geloof, insig, of moed om oorloghisterie – “to howl with the wolves” dat oorlog nodig mag wees nie – aan te vuur nie, skryf Barth, maar:
“What does require Christian faith, insight and courage – and the Christian Church and Christian ethics are there to show them – is to tell nations and governments that peace is the real emergency to which all our time, powers, and ability must be devoted from the very outset in order that human beings may live and live properly.”
Geseënd is die vredemakers, want hulle sal die aarde beërwe.
Nadia Marais, 7 April 2026, Kerkbode.
Erediens Inligting
SONDAG 12 APRIL
09:00 Erediens in kerkgebou o.l.v. ds. Bernice. Met die opstanding het niks verander nie... Met die opstanding het alles verander! (Johannes 21:1-17)
Musiek: Betsie Schaap
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Daar waar ek is... (Johannes 20:19-29). Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
JABU MTAU - 25 JAAR DIENS
Jabu en NG Kerk Waterkloof loop die pad al vir 25 jaar lank saam! Hy is op 26 jarige ouderdom deur Lilliëtte Radloff (’n oud-Waterkloof lidmaat) aan Waterkloofkerk voorgestel. Hy het aanvanklik na die tuin en terrein omgesien en is in 2010 formeel as koster aangestel. Na al die lange jare kan ’n mens jou nie Waterkloofkerk sonder Jabu indink nie! Almal in die omgewing ken die naam Jabu, selfs al is dié nie ‘n gemeentelid nie. Verduidelik jy waar die kerk is, sê maar net dis waar Jabu werk- probleem opgelos! So in der waarheid is hy die Waterkloofkerk baken! Soos wat ds. Dewald onlangs gesê het, hy is deel van die “furniture” – hy is dié altyd-aan-die-beweeg-persoon wat sorg dat die “wiele” op die terrein altyd geolie is.Vir Jabu is niks te veel moeite nie. Hy is altyd daar en reg om te help, maak nie saak wat ‘n mens na sy kant toe gooi nie- hy vang dit en hardloop daarmee verder.
Jabu is die eerste persoon in diens van die kerk, wat die 25-jaar-kerf kon oorskry. Dit wil gedoen word! ’n Meer lojale, nederige, behulpsame, gemoedelike en opregte mens as Jabu skop ’n mens nie onder elke klip uit nie!
Jabu, ons wat saam met jou werk, waardeer jou meer as wat jy ooit sal kan besef en ons glo dat elke gemeentvriend, Ikebana-tannie, Canendo-koorlid, Wiskundeklas-juffrou en kinders dieselfde oor jou voel!
Weet dit - jy doen elke dag die Here se werk met soveel oorgawe en jy bly vir ons almal ‘n voorbeeld van opregte Christenwees. Jy is ’n baie spesiale en geliefde mens! Baie dankie, vir 25 besondere jare! Mag jou voete nog vir baie jare hier in Waterkloof gemeente diep spore trap!
Ds. André van Niekerk skryf: Jabu Mtau is soos alle goeie mense ' n versameling van deugde wat ineengevleg is. Sy glimlag sien mens sommer van ver af. Hy drafstap altyd nader. By hom voel mensjy kan net jouself wees. Dis ook dan datsy lojaliteit aan die gemeente kenbaar word. Hy wil graag hier wees en in opleiding vir n hoër verantwoordelikheid elders stel hy g' n belang nie. Dié verbondenheid was al daar nog voor hy in die halfwoonstelletjie by die gemeentehuis gebly het, maar in die verwaarloosde agterkamer van die ou pastorie. Boonop wassy werksreëlings - veral afnaweke in onsekerheid gehul. Net een keer in die 16 jaar het ons vasgehaak. Dit was 'n Vrydag wat alles verkeerd geloop het - maar die boom het toe nie die Herinneringsmuur - wat in aanbou was - platgeval nie en mettertyd gaan ons dit heeltemal vergeet. Wat ek nooit sal wil vergeet nie, is die oorweldigende vreugde met wye armsin die lug wat hy uitgestraal het toe hy vir die eerste keer die see by die Natalse suidkus gesien het. Ook in die volgende dae was sy inherente lewensblydskap vir almal sigbaar toe hy eerste die branders by Uvongo aangedurf het of in Durban se akwarium eerste aan seediertjies gevat het. Waterkloofgemeente het ' n skat in Jabu. Pas dit op. Sorg verder goed vir hom deur wie die Here seseën so sag, byna onsigbaar, kom. Jabu Mtau is 'n belangrike skakel om 'n Christusgerige gemeentekultuur te kweek.
Klik gerus op hierdie skakel om Jabu se skrywe aan die gemeente te lees.
NUWE INTREKKERS-GELEENTHEID
Ons nooi alle nuwe intrekkers wat sedert 2024 deel van die gemeente geword het om na afloop van die oggenderediens saam met ds. Bernice, ds. Dewald en van ons kerkraadslede ’n koppie koffie/tee en ’n eetdingetjie in die saal te kom geniet.
Ons sien uit daarna om saam met julle te kuier!
SONDAG 19 APRIL
09:00 Erediens in kerkgebou o.l.v. ds. Dewald.
Tydens die erediens luister ons ook graag na Afrikaanse Hoër Seunskoolkoor (Affiekoor).
Musiek: Betsie Schaap
Kinderbediening tydens die erediens ● Kuier en verversings op die stoep
18:00: Erediens in die kerkgebou o.l.v. ds. Dewald. Tiener- en Jeuggroepe na afloop van die erediens. Koffie-kuier op die stoep.
Ons Gee Om

Ons stel áltyd belang in al ons gemeentevriende se wel en wee. Laat weet asseblief die kerkkantoor of enige van die leraars van gebeure/ervarings/nuus wat julle graag met ons as gemeente-vriende sal wil deel, sodat ons kan meeleef – die vreugde en die hartseer kan deel!
Ons Dink Aan
Leonie Nortje wie se broer Gerrit Jacobs vandag ( Vrydag, 10 April), ’n 4-aar-hartomleidingsoperasie in Montana Hospitaal ondergaan.
die familie van Rina van der Spuy wat op 6 April oorlede is. Die begrafnis vind Maandag, 13 April om 11:00 in ons erediensruimte plaas.
Willie en Martie Oosthuizen met die skielike afsterwe van hul seun, Wim op 4 April. ’n Dankiens vir sy lewe vind Vrydag 17 April om 11:00 in ons erdiensruimte plaas.
Stefan en Marietjie Nell wie se kleindogter, Klara, binnekort ’n groot prosedure moet ondergaan.
Danie, Jenny, David, Daniel en Zea de Villiers. Danie ondergaan tans intensiewe behandeling. Ons hou Danie en hulle as gesin in ons gebede.
BELANGRIK: In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie – skakel gerus een van die leraars.
Gemeentevriende Verjaar. Veels geluk!
Verjaarsdae op Sondag 12 April: Beana Schulze, Rina Thom, Liam Uys en Charl van der Merwe.
Verjaarsdae vir die week: Saterdag, 11 April: Mia-Louise Nel, Marianna van der Riet en Eugene Watson. 13 April: Diederik Odendaal en Talija Pritchard. 14 April: Shani Mokken. 15 April: Lise Marlow, Lea Meintjes en Japie Strating. 17 April: Maretha Brütten, Hans-Hinner Köster, Ryno Meintjes en Yvonne Meter.
Ons Groet...
Anika Wessels verhuis vandag (Vrydag, 10 April) na Stellenbosch waar sy as ’n 3D ontwerp-en-ontwikkelingskonsultant by “Verhaal”,’n binnehuisontwerpmaatskappy gaan werk. Dié Dubaise maatskappy het onlangs ’n kantoor in Stellenbosch gevestig en dit is waar Anika haar “towerkrag” gaan inspan. Anika, ons is saam met jou opgewonde en glo dat dit vir jou ’n wonderlike nuwe avontuur sal wees. Ons gaan jou mis!
Die Roberts-gesin, Duncan, Tania, Emma en Alice, het Oxford, Engeland toe verhuis. Emma is reeds ’n geruime tydjie daar en is ’n vlieënier, terwyl Alice gaan studeer. Duncan se ma het in Oxford grootgeword, hulle het al vele kere daar besoek afgelê, die gesin ken die stad goed en is lief vir die omgewing. Ons is saam met hulle opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê.
Daar is ’n boek op die Nagmaaltafel, waarin gemeentevriende gerus ’n boodskap kan kom skryf.
Ek is nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Een van die leraars of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Kontak asseblief die kerkkantoor om julle inligting deur te gee.
BELANGRIK: Ons sal dit ook baie waardeer indien gemeentelede die kantoor sal kontak om inligting aan te pas aan te vul of by te werk. (Landlyn: 012 460 3913 / WhatsApp: 083 442 9557)
Voed Jou Gemoed

Bybelstudie: Woensdag, 15 April om 09:00 in die kinderkamer.
Bybelstudie: Princess Christian, Dinsdagoggend, 14 April om 10:30 en Huis Piek, Woensdagoggend, 15 April om 10:30.
Sit in Mekaar se Stilte: Die Verborge Liturgie van Paasmaandag . Dankie, François. Skakel
Weeklikse oordenking: Gebed: Hoe bid ons in tye soos vandag? (4). Dankie, ds. Pieter. Skakel.
Huisgeloof: Wees vrygewig. Skakel.
Gemeente Geleenthede
PASE IN WATERKLOOFKERK 2026
Goeie Vrydag, 3 April – Kruisdra, 06:00 Klapperkop
Die doedelsak wat huil tussen Ds Dewald se voorlesings van die Kruisverhaal, die amper onheilspellende gekraak van takke onder ons voete terwyl ons elkeen ‘n persoonlike Via Dolorosa in stilte loop, en uiteindelik die son wat geel-goud bloei teen die horison terwyl ons herinner word aan die Genade Onbeskryflik Groot met die kap-kap-kap van spykers aan die Kruis. Kruisdra op Klapperkop is heilig. Aan die einde, toe ons koffie drink en beskuit eet versoek my vriendin op besoek uit die Kaap dat ons nie die diens in die kerkruimte gaan bywoon nie. Die heiligheid van wat daar op die koppie gebeur het was vir ons genoeg, en in ons harte was daar die behoefte om net effe langer stil te staan in die stilte van ons nadenke. Toe ons wel Sondagoggend in die diens sit en die Kruis sy blomme dra, dink ek weer aan al die Klapperkop-ervaringe oor die jare. Aan onheilspellende mistigheid een jaar, aan die keer toe my kind vir ons die Last Post daar op die koppie op sy trompet gespeel het. Soos die verskillende evangelies gee elkeen van daardie ervarings ‘n ander perspektief op die enigste Waarheid - God se liefde vir ons. Dankie, Greta (Engelbrecht) Kok.
Goeie Vrydag, 3 April – Erediens met Nagmaal
Dis 09:00, die kerkbanke sit vol. Geen kerkklok gelui nie. Die stilte is tasbaar. Ds. Bernice lei die diens waartydens Nagmaal bedien word. Hierdie sombere dag verloop stil ..... Na die Nagmaal beleef ons die Tenebrae waar die sewe lydenskerse uitgedoof word, terwyl Ds. Bernice die sewe kruiswoorde sê. In stilte word die liturgiese ruimte uitgedra en in donkerte stap ons uit, Stil Saterdag tegemoet.
Sondagoggend, 5 April – Kruis afhaal, 06:00
Sondagoggend douvoordag het ’n handjievol gemeentevriende by Klapperkop bymekaargekom om die kruis af te haal. Die atmosfeer, natuurlik honderd persent anders as die somberheid van Goeie Vrydag. Ons is immers daar om die Opstanding te vier. Dieselfde paadjie wat swaarmoedig en skuifelend opgestap is twee dae vantevore, is weer met ’n ligter tred aangepak. Ds. Francois het ons op begelei, die sonnetjie het net-net kop begin uitsteek en ons kon die stadig-ontwakende Pretoria doer onder ons in rustige stilte gadeslaan! Jaar na jaar beleef ons dieselfde prentjie, maar die belewenis van “in-die- natuur-wees” (in die middel van n groot stad), die opkomende son en die stilte verras ‘n mens elke keer opnuut.

Sondagoggend – Opstandingsfees
Opstandingsondag begroet ons met luiende klokke, wonderlike musiek, ’n engel-sopraanstem en opgewonde kinders wat die kruis al te lieflik met witte blomme versier.

Terwyl kinders die terrein deursnuffel vir paaseiers, kuier gemeentevriende te heerlik met ’n glasie vonkelwyn / koppie koffie of tee in die een hand en ’n “hot cross bun” in die ander. Waterkloof gemeente het die Opstanding, die hoogtepunt in ons kerk-almanak, behoorlik gevier.

KOOROPTREDE OP 19 APRIL
Ons verwelkom graag die Afrikaanse Hoër Seunskoolkoor (Affiekoor) hier by Waterkloofkerk tydens Sondag, 19 April se oggend-erediens!
Ons sien uit na die geleentheid.
ONS JAARLIKSE WYNVEILING 2026
Sinodenuus
NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE
Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil". Skakel.
Gemeente Besonderhede
KONTAKBESONDERHEDE
Leraars
Ds. Bernice Serfontein * E-pos: [email protected]
Ds. Dewald Roux * E-pos: [email protected] / Sel: 072 755 7817
Kantoorpersoneel
Maryke Meter * E-pos: [email protected]
Hannatjie Venter * E-pos: [email protected]
Jabu Mtau * Koster (Sel: 064 700 7004)
Kontak Ons
Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557
BELANGRIK:
Stoor dié nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang
Landlyn: 012 460 3913
Adres: Deystraat 353, Nieuw Muckleneuk.
(Oorkant Laerskool Anton van Wouw )
Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075
GPS – KOöRDINATE:
Lat. -25º 46 31.95
Decimal: -25.775542211330446
Long. 28º 13 55.45
Decimal: 28.232068419456482
