NGK Waterkloof

GEMEENTEBRIEF 3 - 17 OKTOBER 2025

October 02, 202516 min read
Custom HTML/CSS/JAVASCRIPT
bordjies

Gedagte Vir Die Week

1

Gedagte vir die week: Terug na die Middeleeuse 'teer-en-veer'?

Tanja

In watter wêreld word iemand vermoor oor sy uitlatings, of verloor iemand sy werk omdat hy kritiek gelewer het teen die regering van die dag? In watter wêreld word gyselaars of ‘n volksmoord as kollateraal beskou om "vryheid" te bekom? In watter wêreld word ‘n leier verkies wat daarmee spog dat vroue aan hulle geslagsdele gegryp behoort te word? Dis ons wêreld wat so lyk. As ons mekaar elke dag ‘teer-en-veer,’ in ons teenstand en in ons ondersteuning van hierdie sake, dan is ons besig om die wêreld so te maak. Uit vrye keuse. Met geesdrif.

Tydens die Middeleeue is ‘teer-en-veer’ gebruik as metode om nie-amptelike geregtigheid of wraak uit te oefen. Dit was ‘n vorm van vigilante (eiematige) geregtigheid. Dit beteken dat straf sonder enige wetlike prosesse of gesag toegeken is. Iemand is kaal gestroop, met warm brandende teer bedek, en dan met vere toegegooi, sodat dit aan die teer vassit. Tot vandag toe is dit ‘n metafoor vir vernynige openbare kritiek. Klink dit bekend? Ons maaksel – die sosiale media – en die beskerming wat dit bied om vanuit ‘n leuenstoel aggressie, agterdog en verdeeldheid aan te blaas, is niks anders as moderne vigilante geregtigheid nie. Sosiale media kan egter nie alleen die skuld kry nie.

Met ons eie groeiende onvermoë om na mekaar te luister, skep ons ‘n wêreld wat ‘n teelaarde is vir desperaatheid en magteloosheid – iets wat mense tot uiterstes sal dryf. Dit is die wêreld waarin ons leef. Van ouds bestaan die debat: Hoe gemaak met desperaatheid en magteloosheid? Is vredevolle protes in welke vorm die antwoord, of is geweld en hard praat die antwoord? Wat doen jy as jy dink niemand luister nie? Wanneer ek nou aan hierdie wêreld van ons dink, dink ek eerste aan die Matteus teks waar Jesus oor vergelding, konflik (meningsverskil) praat (Matteus 5:38 – 42). Jesus daag die geregtigheid-raamwerk van sy tyd uit deur “’n oog vir ‘n oog” te vervang met “draai die ander wang”.

Wat ons soms nie hierin raaklees nie, is dat wang-draai nie ‘n daad van kapitulasie is nie. Om met die rugkant van die hand iemand teen die regterwang te slaan, was ‘n daad van minagting. Deur jou wang te draai, het jy iemand gedwing om jou met ‘n plathand (‘n oop hand) teen die linkerwang te slaan en binne die antieke verwysingsraamwerk van eer en skande, was dit ‘n erkenning van jou teenstander as jou gelyke. Hoe lees diegene wat gyselaars aanhou/volksmoord pleeg/ sluipmoord uitvoer/vroue aan hulle geslagsdele gryp/verdeeldheid aanblaas, hierdie teks?

En hoe verstaan ons almal vandag – dié van ons wat onsself “kinders van God noem” - Jesus se ander woorde in dieselfde hoofstuk? Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Prof. Tanya van Wyk - Netwerk24, 24 September 2025

Erediens Inligting

2

SONDAG 5 OKTOBER 2025

09:00: Erediens in kerkgebou o.l.v. Ds. Francois Smit. Tema: Glo dit of nie, dis tyd om te sing!

(Hooglied 2:7-13)

Kanselruiling: Ds. Dewald preek by Groenkloof gemeente.

Musiek: Riaan Steyn

Kuier en verversings op die stoep.

18:00: GEEN Aanddiens tydens die vakansie nie.

SONDAG 12 OKTOBER 2025

Baba

09:00: Erediens in kerkgebou o.l.v. Ds. André van Niekerk. Tema: " Tevredenheid beskerm ons en ons kinders teen die rowers van aandag (attention thieves)" - Galasiërs 6:1-4; 1 Timoteus 6:9)

Tydens die diens word die doop bedien aan David en Magrietjie Rees se seuntjie William Pelser. Hulle kom spesiaal al die pad uit Nieu-Seeland om die geleentheid saam met Oupa Peet & Ouma Corrie Pelser, familie en vriende te kom vier!

Musiek: Joyce Viljoen

Kuier en verversings op die stoep.

18:00: GEEN Aanddiens tydens die vakansie nie

Ons Gee Om

Ons gee om

Veels Geluk!

Verjaar

Verjaarsdae vir 3 - 10 Oktober 2025

Verjaarsdae op Sondag, 5 Oktober: Alicia Campher en Ena Grobbelaar.

Verjaarsdae 80 en op: Ena Grobbelaar op 5 Oktober, Piet Ackermann en At Boshoff op 8 Oktober.

Verjaarsdae res van die week: Saterdag 4 Oktober: Gerda Groenewald. 6 Oktober: San-Marié Ferreira. 8 Oktober: Piet Ackermann, At Boshoff en Henri Snyders. 9 Oktober: Natalie Fyfe, Elizabeth Grebe, Adine Roode, Melinda-May Wessels en Melinda-May. 10 Oktober: Pauline Coetzee.

Verjaarsdae vir 11 - 17 Oktober 2025

Verjaarsdae op Sondag: 12 Oktober: Rietie Janse van Rensburg, Hester Marais en Peter Roberts.

Verjaarsdae 80 en op: Peter Roberts.

Verjaarsdae res van die week: 14 Oktober: Brian Edwards, Henrike Putter en Franco Smit. 15 Oktober: Emma Battheu, Liam Hetzel en Beatrice Liebenberg. 16 Oktober: Larize de Jager. 17 Oktober: Charl Bekker.

Ons Dink Aan

- Pieter Oosthuizen wat op 14 Oktober ‘n skouervervangingsoperasie sou ondergaan, se operasie is uitgestel weens gesondheids-uitdagings.

- Constandt Fϋrstenberg wat tans gesondheidsuitdagings ervaar.

- Betsie Schaap wat op 27 Oktober ‘n voetoperasie ondergaan.

- Jenny Raath wat op 20 November vir 'n groot rugoperasie moet ondergaan.

- Jack Whicker, wat onlangs ’n breuk-operasie ondergaan het. Sy herstelpad is moeilik aangesien hy nie goed op die narkose gereageer het nie.

In geval van ‘n krisis, siekte of hospitalisasie - skakel gerus vir Ds. Dewald (072 755 7817)

BORSKANKER-MAAND

‘Vroue regdeur Suid-Afrika word deur borskanker geraak en dit kom al hoe meer voor, wat dit een van die mees algemene kankers onder Suid-Afrikaanse vroue maak. Om hierdie groeiende probleem aan te pak, word Oktober landwyd as “Borskanker-maand” aangewys. Hierdie inisiatief, wat deur openbare en private gesondheidsorginstellings ondersteun word, is daarop gemik om mense van hierdie lewensveranderende siekte, wat oor rasse- en sosio-ekonomiese grense heen strek, bewus te maak.’

Belangrike Feite:

Voorkoms: Wêreldwyd tel borskanker onder die mees algemene kankers onder vroue, met miljoene nuwe gevalle wat elke jaar gediagnoseer word.

Vroeë opsporing maak ʼn verskil: Vroeë opsporing deur gereelde selfondersoek van die borste, kliniese ondersoeke en mammogramme, kan die oorlewingskoers beduidend verbeter.

Risikofaktore: Hoewel enigeen deur borskanker geraak kan word, kan sekere risikofaktore soos genetika, familiegeskiedenis en lewenstylkeuses die waarskynlikheid daarvan verhoog.

Vooruitgang in behandeling: Danksy vooruitgang in mediese navorsing en behandelingsopsies geniet baie borskankerpasiënte nou beter uitkomste.’

(Direk uit: Borskanker Bewustheidsmaand - Maties Alumni) - skakel

Besoek ook gerus die CANSA webwerf skakel vir meer inligting.

Bome

Ek is Nuut

Ek is nuut

Nuwe intrekkers in ons gemeente – julle is so welkom! Dit is vir ons ’n voorreg om julle in ons midde te hê. Ds. Dewald of ‘n kerkraadslid sal julle graag direk na die erediens by die Nagmaaltafel ontmoet. Volg gerus die skakel om julle kontakbesonderhede aanlyn aan ons kerkkantoor [Klik hier]

BELANGRIK: Gemeentelede wat inligting wil aanpas / aanvul / bywerk, kan ook van hierdie skakel gebruik maak. (of die kerkkantoor skakel / WhatsApp by 083 442 9557)

Nuwe inrekkers

Voed Jou Gemoed

3

• Sit in Mekaar se Stilte 181 – ‘“..Maar God..”-ervaringe. [klik hier] Dankie François!

• Eredienste: Hervat weer na die vakansie – Princess Christian, op Dinsdag, 14 Oktober, 10:30 en Huis Piek op Woensdag, 15 Oktober, 10:30.

• Bybelstudie: Hervat weer na die vakansie op Woensdag 15 Oktober, 9:00.

• Huisgeloof: Tuisblad: Skakel

Kinders, Jeug en Familie

bedieninge

KINDERBEDIENING

Ons het Sondag 27 September die Kinderbediening vir die derde kwartaal op ’n feestelike noot kon afsluit. Daar is saam gebid, gesing en gelag – en natuurlik ook heerlike ‘doughnuts’ saam geniet! Die kinders het met groot entoesiasme deelgeneem en dit was besonders om hulle vreugde en egtheid so sigbaar te beleef. Ons is dankbaar vir die voorreg om deel van die geloofsvorming van die kinders in ons gemeente te kan wees. Ons bid dat dit wat hulle in hierdie kwartaal geleer en ervaar het, blywend sal wees.

k1

k2

TIENERBEDIENING

Tydens die kwartaal-afsluiting van die tienerbediening op Sondag 27 September, was dit vir ons ’n besondere voorreg om saam stil te word en te besef dat Jesus ons altyd ontmoet – net daar waar ons in ons lewens is. Dit was goed om net weer te kon besef dat ons nie eers vir Jesus hoef te gaan soek of onsself “reg” moet kry voordat Jesus die pad saam met ons stap nie. Jesus spesialiseer in die “before” van my lewe en ontmoet my met liefde en genade, in die presiese werklikheid van my daaglikse omstandighede. Natuurlik het ons na afloop van die erediens, saam Pizza geniet.

kerk 1

kerk 2

p1

p4

p6

Gemeente en Gemeenskapsnuus

7

DANKMAAND

Die Finansies diensgroep neem vrymoedigheid om elkeen te vra om asb. 'n paar oomblikke te neem om na die kort video rakende Waterkloofkerk se finansies te kyk en die Dankmaand-skrywe te lees. Dankie aan Lizané Steenkamp van die Personeel diensgroep wat bereid was om vir ons die stem van die video te wees. Groete van die Finansies diensgroep: Johan Basson (Voorsitter), Stephan Barac, Simoné Reynders en Annatjie van Niekerk.

DANKMAAND-SKRYWE

lOGO

Liewe Waterklooflidmaat,

Soos elke Oktober is Pretoria in pers getooi en dit beteken dat ons weer gereed maak om nog ‘n jaar toe te vou en weg te bêre. Ons kyk terug op ‘n jaar vol seëninge en wil graag elke lidmaat opreg bedank vir u volgehoue en ruimhartige finansiële ondersteuning. Hierdie ondersteuning is nie bloot ‘n bydrae nie – maar werklik ‘n belegging in Waterkloof gemeente én die groter gemeenskap. So word daar verseker dat Waterkloof voortdurend 'n betekenisvolle, relevante en geloofwaardige geloofsgemeenskap in ons veranderende omgewing en land is.

Soos almal weet is die ekonomiese klimaat die afgelope paar jaar regtig uitdagend wat ook in ons gemeente se finansies tasbaar beleef word. Ons merk op dat ons al hoe meer op fondsinsamelingsprojekte moet steun om ons basiese bedryfskoste te dek - ‘n tendens wat natuurlik nie gesond of volhoubaar is nie.Die kundige leierskap van ons gemeente het oor die jare werklik sorgvuldig en verantwoordelik met die finansies omgegaan en daarom beskik ons oor ‘n substansiële belegging. Die kerkraad is egter van mening dat dit nie gesonde finansiële praktyk sou wees om hierdie belegging vir bedryfskostes aan te wend nie. Daarbenewens is ons eiendomme ook aan die verouder en is ons genoop om indringende instandhouding te doen wat natuurlik ook verdere druk op ons finansies plaas.

Sien gerus die onderstaande diagramme wat ons afhanklikheid van fondsinsamelings duidelik aandui

b1

Enkele hooftrekke van die afgelope ses maande se finansies (1 Maart 2025 tot 30 Augustus 2025):

• Die totale uitgawes is baie mooi in lyn met begroting bestuur.

• Beleggings-inkomste is ook in lyn met begroting.

• Daar was erflatings en skenkings van R177,000 waarvoor ons opreg dankbaar is.

• Ons het in die ses maande reeds die hele jaar se doelwit bereik met fondsinsamelings. Baie dankie vir almal se betrokenheid, tyd, en groot ondersteuning.

• Ons gereelde bydraes is sowat R85 000 onder begroting vir die 6 maande, maar ons vertrou dat die tendens gaan verander.

• Ons sal later verslag kan doen oor die dankmaand-bydraes.

state

Ons as Kerkraad en Finansies diensgroep voel bevoorreg dat ons vrymoedig oor finansies in ons gemeente kan praat. Ons staan weer in daardie tyd van die jaar wanneer baie van ons ’n verruiming in ons inkomste of ’n onverwagte finansiële gawe mag beleef. Dit is ook ’n natuurlike geleentheid om na ons bydraes te kyk en aanpassings biddend te oorweeg.

Oktober staan bekend as ons spesiale Dankmaand. Dankmaand-bydraes word opreg waardeer en dit kan op enige van die volgende wyses gedoen word:

Plaas die bydrae in ‘n koevert en gooi dit in die dankoffer-sakkie by enige erediens tot en met einde Februarie 2026. (MERK ASB DIE KOEVERT DUIDELIK ‘DANKMAAND’).

Elektroniese (EFT) inbetaling:

NG Kerk Waterkloof

ABSA Tjekrekening nommer: 1500580077

Takkode 335345

Verwysing: DANKMAAND

snapcan

➢ Aan huis kom afhaal: skakel die kerkkantoor om te reël dat ‘n leraar / kerkraadslid u bydrae kom afhaal.

Die Kerkraad bedank u vir u deurlopende bydraes en vir u toekomstige ondersteuning en bydraes. Kontak ons gerus indien daar enige navrae is. Ons dank aan die Finansies diensgroep - Johan Basson, Stephan Barac, Simoné Reynders en Annatjie van Niekerk.

Ons het inderdaad as geloofsgemeenskap groot rede tot dank!

Waterkloofgroete,

b3

HUIS PIEK

Huis Piek het op Donderdag 25 September hul konsert, getiteld Afrikaans, amptelik 100, met groot geesdrif en styl aangebied. Dit was ’n aand waarin ons saam herinneringe opgehaal het, kon skaterlag, en selfs ’n traan gepik het oor dit wat verby is. Ons eie tannie Hannetjie Venter van die Kerkkantoor het beslis volgens almal se mening ’n “Oscar” vir haar vertoning verdien – haar bydrae het die aand nét daardie ietsie ekstra spesiaal gemaak.

Die konsert was nie net ’n viering van taal en kultuur nie, maar ook ’n herinnering dat ons elke dag ’n keuse het: gaan ons bloot net ouer word, of gaan ons regtig groei ten spyte van ouderdom? Die entoesiasme, kreatiwiteit en lewensvreugde waarmee almal deelgeneem het, het dit duidelik gemaak dat daar in Huis Piek nog baie groei, energie en lag skuil. Dit was ’n aand wat ons lank gaan onthou!

hp1

hp2

Ons Voetspore In Die Gemeenskap

Voetspore

BRAMLEY KINDERHUIS

Net om die draai van ons gemeente, in Oatsstraat 72, Groenkloof, lê Bramley Kinderhuis – ’n residensiële sorgfasiliteit vir kinders wat deur trauma, mishandeling of verwaarlosing geraak is en deur ’n hofbevel uit hul onstabiele huislike omstandighede verwyder is. Die huis is reeds in 1960 gestig op ’n perseel wat deur wyle mnr. Bramley aan Groenkloof nagelaat is. Bramley is geregistreer om 54 kinders te huisves en word bestuur volgens ’n kothuisstelsel: drie aparte huise waar kinderversorgers volle verantwoordelikheid neem vir groepe van 12–17 kinders. Hulle bied ’n holistiese diens wat die kinders se fisiese, intellektuele, geestelike én emosionele behoeftes aanspreek. Daar word ook aktief gewerk aan gesinsherintegrasie en, waar nodig, permanente alternatiewe sorg. As nie-winsgewende organisasie is hulle afhanklik van ondersteuning uit die gemeenskap.

NOTA: Daar is ’n groot behoefte aan SKOONMAAKMIDDELS soos Domestos, Pine Gel, skottelgoedseep, ens. Enigiemand wat graag wil help, kan gerus skenkings by die kerkkantoor aflaai of die kantoor kontak by 083 442 9557 vir meer inligting.

Bramley

RE GAE KLEUTERSKOOL

Tydens ons twee-weeklikse besoek aan Re Gae Kleuterskool het Petru Rheeder van PVM gereël dat een van hul personeel, Nathalie Scholtz (Nasionale bemarkingsbestuurder), ’n kort, maar insiggewende aanbieding vir die onderwyseresse oor ‘voedsaamheid’ kom doen. Dit was ’n waardevolle geleentheid waar praktiese wenke gedeel is oor hoe eenvoudige maaltye, met klein wysigings, meer gesond en voedsaam gemaak kan word. Ons wil graag ons opregte dank aan Petru en PVM uitspreek vir hulle ruimhartige skenking van mieliemeel met ekstra voedingswaarde vir die kinders sowel as die energiestafies vir die onderwyseresse. ‘n Opregte dankie aan Nathalie vir die sinvolle wyse waarop sy die aanbieding behartig het.

Gemeente Geleenthede

Gemeente Glenthede

WAATLEMOEN-KUIER – SONDAG 5 OKTOBER

Om seker te maak dat ons regtig weet dit is nou Lente, hou ons op Sondag, 5 Oktober, ons gebruiklike waatlemoen-kuier na afloop van die erediens. Dit is altyd ’n heerlike geleentheid waar almal saam kan kuier, gesels en die soet smaak van somer se eerste vrug geniet.

Bring jou gesin en vriende saam, en kom geniet ’n vars stukkie waatlemoen en goeie geselskap op die gemeentestoep. Almal word hartlik uitgenooi.

Kom ons vier saam die nuwe lewe en vars beginne wat lente bring.

Waatlemoen

WYNVEILING – 28 NOVEMBER 2025 (“SAVE THE DATE”)

Ons jaarlikse wynveiling vind weer plaas op 28 November 2025 te Pretoria Buiteklub. Dit vorm ‘n integrale deel van ons gemeente-kalender en is nie net ‘n fondsinsameling geleentheid nie, maar ook ‘n geleentheid waar gemeentelede met mekaar en hulle vriende kan saam eet en kuier.

Die wynveiling het sy oorprong in 2014 toe Andre Roberts en Leon Howell ‘n baie suksesvolle wynveiling gereël het om fondse in te samel vir gedeeltelike betaling van ons gemeentehuis/kantoor. Dit was egter ‘n eenmalige geleentheid maar in 2016/2017 se koers het die Kerkraad die moontlikheid van verdere veilings bespreek. Koos Engelbrecht en Greta Kok het met ‘n voorstel gekom om te kyk na ‘n veiling in vennootskap met die Agter-Paarl gemeente in die Windmeul gemeenskap naby die Paarl en Wellington. Die Engelbrecht familie is oorspronklik van die Paarl area. Koos het vir baie jare in daardie area gewerk en het goeie verhoudings gehad met die plaaslike wynboere, veral met Willie Dreyer van die Leeuwenkhuil wynlandgoed, asook met Ds Johannes Nortier, die plaaslike leraar van daardie tyd. Ds. Andre van Niekerk, ons leraar in daardie jare, is getaak om met Ds. Nortier te skakel om die voorstel te bespreek en die res is, soos hulle sê, geskiedenis!

Ons eerste veiling saam die Agter-Paarl gemeente is in 2017 gehou. Die veilings is jaarliks daarna by die Pretoria Buiteklub (Waterkloof Gholfklub) gehou, behalwe in 2018 en gedurende Covid, toe ons aanlyn-veilings per WhatsApp gehou het. Dit was nogal pret!

Die netto opbrengs word gebruik vir die onderskeie gemeentes se bedieninge.

Ter agtergrond, die NG gemeente Agter-Paarl het in 1964 van NG Paarl-Vallei afgestig. Die gemeente is geleë in die Agter-Paarl (Windmeul) gemeenskap net buite die Paarl en het mooi samewerking met die plaaslike Boland Landbouskool en Laerskool Slot-van-die-Paarl, wat die gemeente se kerksaal as skoolsaal gebruik. Die gemeente het in 2024 ’n skooltjie vir Downsindroom-kinders by die kerk gestig in samewerking met die Club21-organisasie. Die huidige predikante is Fouché en Marina de Wet.

Ons wil u graag uitnooi na vanjaar se wynveiling. U kan ‘n tafel van 10 of selfs enkel kaartjies bespreek. Die kaartjieprys sluit in ‘n verwelkomingsdrankie, 3-gang maal, tafelwyne en kelnerfooie. Ons sal binnekort die prys van die kaartjies kommunikeer.

Ons benodig altyd die hulp van vrywilligers om die aand ‘n sukses te maak. U is welkom om u naam aan die Kerkkantoor te verskaf indien u sou belangstel om te help.

saal

Tafels

ap

ap2

Groenkloof Nuus

Groenkloof

Groenkloof is ’n lieflike area, maar dit voel soms asof dit net vir ouer mense gemaak is. Daar is twee parke in die Groenkloof-gemeenskap, maar nie een is toegerus vir kinders nie. As gemeente het ons besluit dat ons iets daaromtrent wil doen. Gevolglik het ons begin om ’n klein speelparkie vir kinders reg voor ons kerkgebou in te rig.

Op Saterdag, 27 September, het ons dit amptelik geopen. Dit het saamgeval met ons jaarlikse werfverkoping, en ons is baie opgewonde om te sien waarheen die inisiatief ons sal neem. Tans is daar nog net twee speelapparate, maar ons beoog om in die nabye toekoms nog meer by te sit.

Die gedagte is nie noodwendig om kinders en hulle ouers kerk toe te “lok” nie, maar bloot om te wys dat die kerk van Jesus Christus kinders as ’n eerste prioriteit ag. Die parkie sal oop wees van 09:00–11:00 en van 16:00–18:00.

Sinodenuus

Sinodenuus

NOORDELIKE SINODE KOMMUNIKASIE

Ons deel graag die nuusbrief van die Noordelike Sinode die "Verskil" [hier]

Gemeente Besonderhede

11

KONTAKBESONDERHEDE

Leraars

Ds. Bernice Serfontein - E-pos: bernice.serfontein@gmail.com

Ds. Dewald Roux - E-pos: dewaldroux2@gmail.com / Sel: 072 755 7817

Kantoorpersoneel

Maryke Meter - E-pos: ngwaterkloof@gmail.com

Hannatjie Venter - E-pos: ngkwater@yebo.co.za

Jabu Mtau – Koster (Skakel kantoornommer)

Kontak Ons

Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557

Adres: Deystraat 353, Nieu Muckleneuk. (Oorkant Anton van Wouw Learskool)

GPS – KOöRDINATE:

Lat. -25º 46 31.95

Decimal: -25.775542211330446

Long. 28º 13 55.45

Decimal: 28.232068419456482

map

Huidige Kontaknommer

Selfoon & WhatsApp: 083 442 9557

BELANGRIK: Stoor nommer op u selfoon om boodskappe te ontvang

Landlyn: 012 460 3913 is tans buite werking tot verdere kennisgewing. Ons is in die proses om ‘n opgedateerde stelsel te laat implementeer. Dankie vir julle geduld in die verband!

landlyn buite werking

Webtuiste: www.waterkloofkerk.co.za

Posadres: Posbus 2492, Brooklyn Square, 0075

Bank
Back to Blog